Spreuke 22:6
Datum: 4 Desember 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
6 Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef,
en hy sal ook as hy al oud is
nie daarvan afwyk nie.
- Inleiding. Daar is een allesoorheersende saak waarvoor elke Christen-ouer te staan kom, naamlik die geestelike groei van ons kinders. Om dit te verduidelik kan sport as metafoor gebruik word om te verduidelik dat oefening in enige sport baie belangrik is. Net so is die inoefening van geloofsgewoontes nodig en belangrik vir ons geloofslewe.
- Maar wie is verantwoordelik hiervoor? Ongelukkig is daar mense wat dink dat dit net die gemeente se verantwoordelikheid is. Tydens doopgesprekke hoor ek baie dat ouers vir my sê: Is ons kinders se geestelike onderrig en die aanleer van geloofsgewoontes dan nie die kerk se verantwoordelikheid nie? Vriende, die geestelike onderrig van kinders was nog nooit bedoel om beperk te word tot ‘n enkele uur op ‘n Sondag nie. Saam met kerkbywoning is geestelike onderrig ook bedoel om elke dag voor kinders deur hulle ouers en grootouers uitgeleef te word.
- Ons moet saam oefen. Ons as gemeente wil aan julle vanoggend bevestig, dat ons saam met julle “Ja” geantwoord het op die dag met jul kind se doopbelofte. Ons as gemeente wil saam verantwoordelikheid neem vir hul geestelike opvoeding, hul geloofsgroei, hul dissipelskap en hul reis met God. Maar ons wil julle aanmoedig om jul doopbelofte te onthou en jouself weer toe te wy. Ons is vennote in julle kinders se geloof-reis, maar jul as ouers bly die persoon wat primêre verantwoordelikheid neem vir hul geloofsgroei.
4. Slot. Onthou: 6Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Met die aanleer van geloofsgewoontes gebeur hierdie teks in jongmense se lewens. Kom ons oefen saam!.