Jesaja 40:1-11

Datum: 6 November 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Nadat ek my skoolopleiding voltooi het, moes ek my  militêre diensplig vir ‘n jaar lank in Ladysmith in Natal gaan doen. Ek verstaan nou nog nie hoe dit gebeur het dat ek vanuit die Weskaap so vêr weggestuur is vir my diensplig-jaar nie. Die ervaring het letterlik die mat onder my voete uitgeruk.

Ek onthou vandag nog hoe ontredderd ek was: ek het niemand geken nie, ek is ver van die huis af, ek word verskreeu en doelloos rondgejaag, die meeste mense praat nog Engels ook en ek verlang huistoe, na die bekende, die beskutte omgewing.

 

Juda het iets van hierdie aard, en veel meer, met hul ballingskap in Babel ervaar. Hulle het ervaar hoe Jerusalem - die Godstad -  afgebreek en verwoes word, hoedat die tempel, die simbool van God se teenwoordigheid, vernietig word, hoe dit voel om hul geliefde vaderland te verlaat en hul voete as bannelinge in ‘n verre, vreemde Babel te vind. Hoe dit voel om te sien hoedat die Babiloniese afgodsbeelde op feesdae rondgedra en toegejuig word. Sedertdien noem ons ‘n ervaring soos ek tydens in my diensplig gehad het, ‘n “ballingskap-ervaring”. ‘n Ervaring wanneer iemand in ‘n bestaanskrisis beland, wanneer die mat onder jou bestaan uitgeruk word, wanneer jou lewe vir jou hooploos, uitsigloos geword het. Dit kan natuurlik verskillende omstandighede wees (en uiteraard baie ernstiger as ‘n diensplig-jaar). Jou lewensmaat ontval/verlaat jou, jy verloor jou werk, jou kinders verlaat die land en jy bly alleen agter, jy word met ‘n ernstige siekte diagnoseer, jy kry slegte nuus oor jou gesondheid, die een of ander teenspoed tref jou familie, die nagevolge van die Covid 19 pandemie het jou ontredderd gelaat.

 

Ballingskap-ervarings maak ‘n mens moedeloos, laat jou verlore voel, laat jou vrae oor God vra. Vrae soos: Waar is God? Gee God nog om vir my? Hoekom gebeur dit met my? Ook Juda sou in Babel begin vra: waar is ons God? Hoekom gee Hy nie vir ons uitredding nie? Gee Hy nog om vir ons? Dan hoor Juda die woorde van Jesaja: "Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier!" (v.1). Ook v.2: “Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes”. En v.9: “Julle God is hier”. Hierdie woorde was wonderlike nuus vir die ballinge. Dit is soos om in Ladysmith ‘n brief van my Ma te gekry het. Of vir die wat meisies gehad het, ‘n brief van hul meisies te kry.

 

In die eerste plek beteken die woorde dat die Here vir Juda sê: Ek het julle nie vergeet nie. Ek het julle steeds lief ten spyte van wat gebeur het. Ek weet wat julle hier in Babilon deurgaan. Ek is by julle in jul ballingskap - hoor weer v.9: “Julle God is hier”. Dieselfde geld vir jou en my in ons ballingskap-ervaring.

Ons lei dikwels die teenwoordigheid van die Here af van hoe ons voel, van die omstandighede waarin ons is, van wat die duiwel, of mense, of wie ookal in ons oor fluister! Die Here sê ook vandag vir ons: Ek het nie van jou vergeet of jou verlaat nie. Ek het jou steeds lief, Ek weet van jou. Ek is by jou in jou krisis. Julle/jou God is hier”(v.9). Jesaja 40 se eerste boodskap is: Die Here bly by ons, bly lief vir ons!

 

Juda se troos was egter nie net in die versekering dat God van hulle weet, by hulle is nie. Hul troos het ook gelê in die belofte wat die Here vir hulle gegee het. Hul troos was ook geleë in die inhoud van die boodskap wat Jesaja namens God vir hulle gegee het. Die Here belowe naamlik vir sy volk: Ek sal vir julle uitkoms bring. Ek sal julle laat terugkeer na Jerusalem. Ek sal julle met ‘n grootpad laat terugkeer na julle Vaderland. Hier is ‘n pragtige sinspeling wat ons moet raaksien. Die Babiloniërs het vir hulle afgode paaie(nuwe paaie) gebou. Op hul feesdae het hulle die afgodsbeelde op die nuwe paaie gedra, optogte gehou en feesgevier! Dan het hulle met die Jode die spot gedryf en gesê: waar is julle God? Kyk hoe sleg gaan dit met julle! Sorg julle God dan nie vir julle nie? Nou gee Jesaja vir Juda dié belofte: Julle gaan nie jul God na Jerusalem terugdra soos die Babiloniers hulle gode ronddra nie. Nee, julle God sal julle laat terugkeer na Jerusalem. Julle God sal julle terugdra soos ‘n Herder sy lammers in sy arms bymekaar maak en teen sy bors dra! Julle God is die Magtige, Hy regeer(v.10).

 

Met hierdie belofte sê die Here vir Juda terwyl hulle nog in ballingskap is: Ek is in beheer, Ek besluit/sal besluit wanneer en hoe Ek my volk sal terugbring na Jerusalem. Ek is groter, magtiger as die gode waarmee die Babiloniërs so spog, afgode wat nie eers kan beweeg nie, wat rondgedra moet word!  Die Babiloniërs en hul gode kan nie My besluit omverwerp of verhoed nie. Luister weer v.10: “Julle God is die Magtige, Hy regeer”. God het dan ook gedoen wat Hy in Jes.40 beloof. Hy het op sy tyd Kores, die koning van Persië, gebruik om die Jode te laat terugkeer na Jerusalem. Juda kon weer hul voete in hulle Vaderland sit, in die tempel aanbid nadat dit herbou is en deel in die vreugde van die teenwoordigheid van God.

 

Hoe pas ons nou hierdie boodskap van God se uitredding van Juda op ons lewens toe? Kan ons sê, daarom sal God ook vir ons uit elke ballingskap-ervaring uitred? Kan ons vanoggend uitstap en sê: God sal altyd alles vir sy kinders goed laat eindig? Ons kan dit tog nie sê nie, vriende! Ek dink die antwoord lê in wat Jes.40 vir ons oor God sê. Jesaja 40 sê God het sy volk in Babilon bly liefhê, vir hulle bly omgee. God het as die Almagtige God opgetree, ingegryp. Niks of niemand, ook nie die gode en die regeerders van Babel en die wêreldmagte van Jesaja se tyd, kon verhoed wat God besluit het om te doen nie. God is in beheer. En hierdie waarheid kan ons vir onsself neem, kan ons met ons saamdra op ons lewenspad vorentoe, kan ons toepas op ons lewens!

 

Die eerste rondte waarop ons dit kan toepas, is, omdat dit is wie God is, omdat God die Almagtige is wat ons liefhet, kon Hy/het Hy in die volheid van die tyd, sy Seun Jesus Christus na die wêreld stuur om vir ons te sterf aan die kruis en op te staan uit die dood. Omdat God is wie Hy is, het Hy deur Jesus vir die mens verlossing van sonde, bevryding van die bose, oorwinning oor die dood,(die laaste vyand), nuwe lewe moontlik gemaak! Is dit nie die beste nuus wat daar vir die mens kan wees nie? Is dit nie die grootste verlossing wat daar vir ons kan wees nie? Ongeag wat ookal met ons op aarde gebeur, die Here het in sy Almag en Liefde deur Jesus vir ons ‘n pad(grootpad!) terug na Hom, terug na sy teenwoordigheid, geskep.

 

Ons kan die boodskap van Jes.40 oor wie God is, verder in ons lewens toepas. As ek en jy soos Juda, in ‘n krisis is, deur ‘n ballingskap-ervaring gaan, in die nood is, kan ons aan die waarheid van Jes.40 bly vashou. Ons kan bly vashou dat die Almagtige God ons liefhet. Ons kan bly vertrou, bly hoop op God wat Oppermagtig is. Ons kan bly weet God is en bly in beheer. Ons kan waarskynlik almal getuig van hoedat: die Here vir ons uitkoms gebring het, hoedat die Here ons gebede geantwoord het, hoedat die Here ingegryp het in ‘n ballingskap-situasie? Jy sal waarskynlik wou sê dit werk nie altyd so uit nie. Die Here gee nie altyd vir al sy kinders uitredding van ons ballingskap-ervarings nie. Dit is waar, daarvan kan elkeen van ons ook getuig. Ons kan egter, ongeag die uitkoms van ons ballingskap-ervarings, enduit bly vashou aan die boodskap van Jesaja 40: die Here bly lief vir jou, die Here is die Almagtige aan wie alle magte in hemel en op aarde, alle mense, ook alle omstandighede, die sonde, die bose, die dood, ondergeskik is! V.10 sê: “Julle God is die Magtige, Hy regeer”.  Uiteindelik sal die dag aanbreek waarop Jes.40 finaal in vervulling gaan. Die dag waarop die Here sy kinders/volk finaal sal uitlei na die Beloofde land, die dag waarop die Here soos ‘n Herder sy lammers aan sy bors sal dra na die Nuwe Jerusalem, die dag waarop ons finale, ewige tuiskoms sal aanbreek.

Amen