Psalm 99
Datum: 3 Maart 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
Ons lewens behoort tot verheerliking van God te leef!
Vandag is Sondag van Verheerliking. Sondag van Verheerliking is die Sondag voor Lydenstyd begin. Die vraag is: Hoe verheerlik mens God? Sommige sal sê jy verheerlik die Here as jy Sy naam grootmaak deur lofsang en aanbidding(praise en worship). Lofprysing en aanbidding is sekerlik een van die maniere waarop mens God verheerlik! Ander sal sê: Jy verheerlik God as jy jou onttrek van die sondige wêreld en eenkant en onbesoedeld jou lewe aan die Here wy. Ook afsondering, alleenwees met die Here, is sekerlik deel van hoe mens die Here verheerlik! Dan hoor ek ook mense sê: Ons is Koningskinders. Rykdom, voorspoed en welvaart is die bewys dat God vir sy kinders sorg. As jy dit omarm en geniet, verheerlik jy God - waarmee ek en jy sekerlik nie saamstem nie.
Psalm 99 help ons as kerk, as gelowiges om te verstaan hoe ons die Here verheerlik. Ek gaan begin deur julle te wys op die indeling van die Psalm. Die Psalm vertel in die eerste verse WIE die Here is. Hy is die God wat regeer. Hy is Almagtig - die aarde skud en volke bewe voor Hom. Hy is die grote God, verhewe bo alle mense. Hy is die magtige Koning. Die Psalm vertel in die volgende verse WAT die Here doen(v.4v). Hy is ‘n liefhebber van geregtigheid. Een vertaling sê: Hy het billikheid(fairness) en reg en opregtheid lief. Derdens gee die Psalmdigter voorbeelde uit die geskiedenis van HOE die Here met sy kinders werk. Die Here het Moses, Aaron en Samuel se gebede verhoor. Die Here het met hulle gepraat. Die Here het hul sondes vergewe en dié gestraf wat aanhou sondig het. Kom ons vat dit saam: God is Almagtig, God is die Koning van die konings, God is ver bo die mens verhewe. Hoe lyk dit dan waar Hy regeer? In die koninkryk van God op aarde? In Sy kerk? In ons kinders van God se lewens? Regeer God in afsydigheid vanuit sy hemeltroon? Regeer die Here met mag, hiet en gebied Hy soos aardse konings regeer? Behou die Here afstand, distansie tussen Hom en sy kinders?
Psalm 99 vertel vir ons dat die Here dit nie so doen nie! Kom ek stel dit eers negatief: Die koninkryk van die Here word gekenmerk deurdat daar nie onregverdigheid is nie, daar nie plek is vir dinge wat verkeerd is nie, daar nie onbillik(unfair) teenoor mense opgetree word nie, mense nie verontreg word nie, mense nie in die koue gelaat word nie. Positief gestel: in die koninkryk van die Here(onder die gelowiges, in die kerk van die Here, waar die Here regeer) word regverdig teenoor alle mense opgetree, is ‘n ruimte waar gesoek word na wat reg is en gedoen/gehandel word wat reg is. In die koninkryk van die Here leef mense in verhouding met mekaar, luister mense na mekaar, gee hulle om vir mekaar.
Nou kan ons weer die vraag vra: Hoe verheerlik ons die Here op die Sondag van Verheerliking die res van ons lewens? Dan is die antwoord: Ons verheerlik die Here deur toe te laat dat Hy ons lewens regeer soos Hy in Ps 99 sê sy regering lyk. Ons verheerlik die Here deur toe te laat dat sy Koninkryk in ons lewens kom soos Hy dit in Psalm 99 beskryf. Ons verheerlik die Here as ons gelowiges regverdig teenoor mede gelowiges en ander mense optree, opreg is, eerlik is, nie dubbele standaarde het nie, billike mense is, ook die ander se kant insien, goeie verhoudings met ander handhaaf. Kan ek dit miskien vir jou nog nader aan jouself bring? Sou De Eike gemeente beskryf kon word as ‘n ruimte waar ons regverdig is? Billik is teenoor mekaar en ander? Opreg en eerlik is, mekaar kan vertrou? Dan verheerlik ons God.
Sou die woorde waarmee jou gesinslede jou beskryf wees: hy/sy is regverdig, tree billik op, is opreg? Dan verheerlik jy God! Dit is ‘n goeie geleentheid om vir doopouers te sê daar is geen groter guns wat jy jou kinders kan doen as om te leef soos die Konikryk van God hier beskryf word nie. Wees vir jou kind(ers) iemand wat eerlik en opreg is, iemand vir wie hulle te alle tye kan vertrou, iemand wat regverdig in jou optrede teenoor hulle is. Dan verheerlik jy die Here en leer jy jou kinders om God-verheerlikende te leef! Kom ons maak dit ‘n derde rondte. Indien jy by jou werk papiertjies sou uitdeel waarop die mense anoniem jou moes beskryf. Wat sou daarop staan? Altyd regverdig - tree dieselfde teenoor almal op? Opreg en betroubaar – geen verborge agendas? Billik, nie hard en genadeloos? Dan verheerlik jy God!
Jesus het deur sy lewe op aarde vir ons gehelp om te sien hoe leef Iemand wat God verheerlik. Dink aan Jesus se lewe: Hy het so anders opgetree as die regeerders van sy tyd, sy optrede het lynreg gestaan teenoor dié van die godsdienstige leiers van sy tyd. Jesus het billik teenoor alle mense opgetree - ook teenoor hulle wat geen aansien gehad het nie. Jesus was regverdig - Hy het nie sekeres voorgetrek ander weggewys nie. Jesus was opreg - in Hom was daar geen grein van sonde of valsheid nie. Jesus het verhoudings gesluit met elkeen wat Hy teengekom het. Jesus is die volmaakte voorbeeld van hoe die mens deur sy lewe God verheerlik!
Ek sou nie reg aan Psalm 99 laat geskied as ek nie wys op die refrein wat telkens in die Psalm herhaal word nie. V.3: Hy is heilig, v.5: Hy is heilig, v.9: Want heilig is die Here ons God. Heiligheid is ‘n verdere aspek van die koninkryk van God, van waar die Here regeer, van die kerk van die Here. Ons aanbid die heilige God! Ons aanbid dié God van wie daar in Openb.4: 8 staan die lewende wesens het dag en nag gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom”!
Ons leef in ‘n tyd waar die klem sterk gelê word op die afbreek van grense. Die gevaar bestaan dat ons dit ook in die kerk sal doen, dat ons ook in ons denke oor God grense wat die Skrif stel in sy beskrywing omtrent wie God is, aanpas soos dit ons pas. Die gevaar bestaan dat ons God aftrek tot op ons vlak, dat ons vir onsself ‘n beeld van God skep waarin ons die heiligheid van God op die agtergrond skuif. Asof die Here nie omgee as ons maar onheilighede in ons lewens huisves nie, nie omgee as ons sondes bly vertroetel en reken dit is maar goed so nie, nie omgee dat ons onheilig lewe terwyl ons te kenne gee ons volg die Heilige God nie.
Met die aanhoor van Ps 99 in die erediens, sou die Israeliete telkens die refrein hoor dat hulle ‘n heilige God dien. En dit sou hulle oproep tot heiligheid, tot toewyding aan die Here. So ook ek en jy. Psalm 99 roep ons op tot heilige lewens! Psalm 99 roep ons op om te breek van onheiligheid in ons lewens, dit wat verkeerd is en wat ons bly akkomodeer, dit in ons lewens wat in die pad staan van heiligmaking. Psalm 99 roep ons ook tot hernude toewyding aan die Here, tot voortgaande oorgawe aan die Here, tot ‘n lewe wat in pas is en almeer inpas kom met die heilige God wie ons dien! Ook so verheerlik ons die Here!