Joh.1:19 - 28
Datum: 19 Desember 2021
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ons almal weet hoe lyk die naamborde wat ons vandag langs die pad kry. Sulke groen borde waarop die dorpe se name met wit letters aangebring is. Ná die naam van die dorp staan hoeveel kilometers tot daar is. Byvoorbeeld: Swellendam 220 km, Mosselbaai 360 km, George 410 km. Vroeër jare het die borde anders gelyk. Party was net so ‘n enkel bordjie. Die dorp se naam was op die bord en die pyl-kant het die dorp se rigting aangedui. By kruisings het jy ‘n paal gekry met ‘n paar borde met dorpsname daarop. Die borde het in die rigtings gewys waarin die dorpe is. Ons het dit padpredikante genoem. Soos ‘n predikant vir ander die pad na die Here aanwys, so wys die borde(padpredikante) die pad na die dorp.
Vers 19 vertel hoedat godsdiensleiers van daardie tyd - priesters en Leviete - vanaf Jerusalem na Johannes by die Jordaan gegaan het en vir hom gaan vra het, “Wie is jy?”
“Johannes die Doper, ons het gehoor van jou bediening hier oorkant die Jordaan, jy vergewe glo mense hul sondes, mense kom tot bekering en word gedoop. Ons as kerk is bekommerd, sê vir ons, wie is jy?“ Johannes sou hierdie godsdiensleiers kon antwoord: Ek is ‘n baie belangrike persoon, ek is besig om “famous” te word, sien julle nie hoeveel mense na my stroom nie? Wie is ek? Ek is die een wat hier by die Jordaan mense tot bekering bring, mense hul sondes vergewe en mense doop! Ek is actually die een wat soveel mense trek, wat soveel belangstelling wek, wat besig is om so gewild te word, dat julle, die kerk, bekommerd is! Wil julle nog weet? Ek is die een van wie Jesus sê “onder die mense op aarde is daar niemand gebore wat groter as ek is nie” Daarmee sou Johannes heenwys na homself. Daarmee sou hy die bordjie na homself draai, te kenne gee dit gaan om myself, my eie-ek. Ek is ‘n selfgerigte mens!
Ek wil dieselfde vraag wat vir Johannes die Doper gevra is, vir jou vra: Wie is jy? Waarheen wys jou lewe? Wat staan op jou bordjie? Ons sal dalk vanoggend moet erken: my lewe gaan dikwels om myself, my bordjie wys na myself. Ten diepste is my lewe selfgerig, gaan dit om die eie-ek. Peter Pollock het gesê: “I, me and myself!” Selfgerigtheid kan verskillende vorme aanneem. Materialisme: my lewe is ‘n gejaag na geld en besittings en goed en net altyd nog en meer. Wêreldgelykvormigheid: my bestaan word opgeneem deur die soeke na plesier, jolyt, vakansies, partytjies. My stokperdjie, sport, tydverdryf, dit waar al my tyd, energie, aandag ingaan. Of watter ander vorm van selfgerigtheid ookal my lewe oorheers: ambisie, sukses, status, gewildheid. Hierdie dinge is nie noodwendig verkeerd nie. Ons sal egter onsself moet afvra: is hierdie dinge die hooftema waarmee my lewe beskryf word, die alles-oorheersende, dit waarna my lewe heenwys?
Maar wat was Johannes die Doper se antwoord op die vraag: Wie is jy dan? “Ek is die een wat in die woestyn roep: maak die pad van die Here reguit! Ek is die een wat die pad vir die komende Christus, reguit maak, die een wat die weg vir die Here gereedmaak, voorberei. Ek wys heen na die Messias, wie se skoene ek nie werd is om vas te maak nie. My lewe, ook die doop waarmee ek doop, is ‘n heenwyser of ‘n heenwysing na Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Kersfees is om die draai. Dink maar hoeveel dinge heenwys na Kersfees, herinner dat Kersfees oppad is: adventtyd, kersliedere, kersversier-ings. Dit is waartoe die Woord vanoggend ook vir ons oproep: om ook met ons lewens heen te wys na Christus, dat daar ook “Christus” op ons bordjies sal staan.
Ons kan gerus vanoggend teenoor die Here bely dat ons aan die eenkant dikwels die pad na Hom vir ander moeiliker maak, struikelblokke in ander se geloofspad lê, toelaat dat ons lewens in verskillende rigtings wys. Maar aan die anderkant kan ons gerus die Here vra om deur sy genade en deur die leiding van sy Gees te gee dat ons lewens almeer na Christus sal heenwys. Dat ons lewens almeer die pad vir ander na die Here sal gelykmaak, dat ons ander se geloof sal versterk, dat ons lewens voorbeelde van navolging van Christus sal wees. Dat Johannes die Doper se woorde “Hy moet meer word en ek minder” in ons lewens sal waar word. Iemand het gesê die probleem met ‘n padpredikant is dat hy stilstaan, die pad aandui en nie die pad self loop nie! Ons moet meer as ‘n padpredikant wees, ons moet ook die pad bewandel soos Johannes die Doper dit gedoen het, ons moet ander deur ons daaglikse lewe begelei op die pad van die geloof. Ja, ook waar ons woon en werk, ons stokperdjies beoefen, ons vakansie hou en Kersfees deurbring en waar ons om die braai-vleisvure staan. Dit is natuurlik nie net waar van ons as indiwidue nie. Ook as kleingroep of Bybelstudieroep, as kerkraad, as gemeente, moet ons heenwysers na Christus wees, omgewings wees waarin mense nader aan die Here kom, die weg na die Here herontdek, verdiep in die geloof.
Dit is ook waar vir die verbondsgesin. Ons as ouers moet in woord en daad vir ons kinders padwysers na die Here wees. Ook julle, Ilse en Jacobus wat vanoggend jul baba ten doop bring. Leer julle kinders van kleinsaf van die Here en sy liefde vir ons, maak die pad na die Here vir jul kinders gelyk, leef heenwysend na Christus, die Lam van God. Die Doop as sulks is natuurlik ook ‘n teken. ‘n Teken wat heenwys na Jesus Christus. Heenwys na Jesus Christus wat gebore is in ‘n stal in Bethlehem, wat gesterf het aan die kruis op Golgota, wat opgestaan het uit die dood en leef en wat weerkom op die wolke. Hy wie se Koms na die aarde ons eerskomende Saterdag herdenk.
AMEN