Efesiërs.4:25 - 32

Datum: 23 Junie 2019

Prediker: Johan Morkel

Ons ken die betekenis van 'n waarmerk of stempel.  Ons geldnote het ‘n waarmerk.  As jy dit so teen die lig hou, sien jy die watermark/waarmerk van die Reserwebank daarop.  As die stempel van 'n instansie op 'n dokument geplaas is, is dit die waarmerk dat die dokument eg is.  So het ook die vername mense in die tyd waarin hierdie brief geskryf is, 'n seëlring gehad.  Wanneer iemand met sy seëlring sy seël op iets afgedruk het, was dit 'n teken van egtheid of eienaarskap.

 

Ons teksvers sê: Die Heilige Gees van God het julle as eiendom van God verseël met die oog op die Verlossingsdag.  Die H.G. word genoem die waarmerk van die kind van God, die waarmerk dat jy eiendom van God is.  Die waarmerk dat jy eiendom van God is, aan God behoort.  Hier staan “met die oog op die Verlossingsdag”.  Dit beteken tot op die dag van die Wederkoms.  Netsoos die seël van 'n koning onherroeplik was, so is die H.G. as seël van God, vir die gelowige die versekering, die onweerlegbare bewys dat jy aan God behoort totdat Jesus weerkom, dat jy eg is, dat jy God se eiendom is tot die einde van die wêreld, onherroeplik aan God behoort.

 

Ek wil ‘n tweede opmerking maak omtrent die watermerk wat ons van God ontvang het.  Die waarmerk op ons geldnote is die gesig van Nelson Mandela.  Die stempel/waarmerk van de Eike is die adres en buitelyne van die kerkgebou.  Dalk het jy ook ‘n persoonlike waarmerk soos die hooggeplaasdes destyds wat bestaan uit ‘n familie-wapen of -naam.  Hier staan van die waarmerk van God wat ons ontvang het: Moenie die H.G. van God bedroef nie.  NLV: Moenie die H.G. van God hartseer maak nie.  Die waarmerk van God, die H.G. wat ons ontvang het, is ‘n Persoon, die H.G, die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid.  Mens kan immers nie 'n mag of 'n krag of 'n invloed bedroef nie.  Kom ons dink vir ‘n oomblik hieroor na.  Die kind van God is nie net deur ‘n teken of merk beseël nie, gewaarmerk of gestempel as God se eiendom nie.  Ons gewaarmerk is Godself, die H.G. as bewys dat ons aan Hom behoort.  God sê “Ek woon self in julle”.  Is dit nie wonderlik nie?

 

Die mense aan wie Paulus hierdie brief skryf, was vroeër uit die heidendom.  Hulle het afgode vanuit die heidendom aanbid, hulle het aan hulself, aan die plesier van die wêreld en aan die duiwel behoort, hulle het groot partye/feeste bygewoon waar die natuurlike drange van die mense hoogty vier.  Nou het hulle egter tot bekering gekom en die H.G. woon in hulle.  Die versoeking moes vir hierdie pasbekeerdes, hierdie jong gelowiges, groot wees om weer terug te val in hul vroeëre leefwyse, om weer te begin leef asof hulle aan hulself behoort, weer te begin meedoen aan dit wat die wêreld hul bied, weer hul sondige natuur, die sonde en die bose te begin dien.

 

Dit is nie asof dié versoekings nie ook daar vir jou en my is nie.  Ook vir ons as gelowiges, as mense wat aan die Here behoort, as mense wat beseël is met die H.G, is die versoeking gedurig daar om te leef asof ons aan onsself behoort, om ons sondige natuur te volg, om die wêreld na te jaag, om te leef asof die gees van die geldgod, plesiergod, sportgod, drankgod, god van bekommernis, in ons leef en nie die Gees van die Drie-enige God nie.  Wat gebeur as ons wel toegee aan hierdie versoekings?  Wat gebeur as ons, ten spyte van die H.G. wat in ons woon, weer die wêreld en ons sondige natuur en die sonde na loop?  Ons bedroef die H.G.!  Ons maak die H.G. hartseer!

 

Paulus gaan verder en noem vir ons voorbeelde vanuit die praktyk.  Hy noem telkens die positiewe en die negatiewe - dit wat die Gees bedroef. :

Die H.G. wil dat ons die waarheid sal praat(v.25).  Die H.G. wil dat ons getrou aan die waarheid sal bly, ookal is die omstandighede moeilik, dat ons eerlik sal bly, dat ons feite korrek sal deurgee.  Ons bedroef die H.G. as ons feite nie reg weergee nie(verdraai), leuens vertel, afwyk van die waarheid omdat dit ons pas.  Die H.G. word bedroef as ons skelm is - op watter manier ookal.  Dan bedroef ons die Gees wat in ons woon.

 

Die H.G. wil dat ons selfbeheersing sal hê.(v.26).  Selfbeheersing is een van die vrug van die H.G.(Gees van Selfbeheersing, 2 Tim).  Die H.G. wil dat ons nie net ons temperament (humeur) sal beheer nie, maar dat ons ook ten opsigte van alle ander fassette van ons lewens selfbeheersing sal hê, eerlikheid, getrouheid, ons eet- en drinkgewoontes, die omsien na ons liggame.  Ons bedroef die H.G. as ons ons humeur verloor en kwaad bly en verdere skade aanrig, as ons by gebrek aan selfbeheersing Gods saak op aarde skade berokken, as ons deur hierdie optrede die duiwel ‘n vatkans in my en ander se lewe gee.  Dan bedroef ons die Gees wat in ons woon.

 

Die H.G. wil dat ons hard sal werk(v.28).  Die H.G. wil dat ons eerbare werkers sal wees, dat ons nie sal lyf wegsteek of met die minste sal probeer wegkom nie, dat ons iets vir die armes sal gee, dat ons sal deel met diegene wat in nood is.  Ons bedroef die H.G. as ons steel, op ‘n oneerlike wyses ons geld bekom, as ons geld wat ons verdien op so 'n wyse aanwend asof ons die alleenreg daarop het, asof niemand en niks iets daarvan toekom nie.  Ook nie die Here of mense in nood nie.  Dan bedroef ons die Gees wat in ons woon.

 

Die H.G. wil dat ons goed en opbouende dinge sal praat(v.29).  Is dit so?  Praat ons goed en opbouende dinge?  As ons niks goed oor iemand te sê het nie, is dit beter om stil te bly.  Laat dit wat uit ons mond uitkom  - opmerkings, kwinkslae, grappies en ons taalgebruik, ander ten goede kom.  Laat ons ander opbou, troos, genees, bemoedig deur dit wat ons praat.  Ons bedroef die H.G. as ons vloek, vuil taal praat, slegte dinge te sê het, dit wat by my mond uitkom negatief en afbrekend is.  Die woord wat gebruik word vir "vuil" taal, beteken eintlik "verrotte" taal  Die H.G. word bedroef as dit wat by my mond uitkom verrot is en verotting verder versprei!  Dan bedroef ons die Gees wat in ons woon.

 

Die H.G. wil dat ons goedgesind teenoor mekaar sal wees(v.32).  Die H.G. wil dat ons hartlik, gasvry teenoor mekaar sal wees, dat ons vriendelik sal wees, mekaar sal liefhê, mekaar sal vergewe.  Ons bedroef die H.G. as ons suur en onvriendelik is, as ons deur ons stuursheid ‘n verkeerde beeld van die christen die wêreld instuur.  Hoekom word predikante en gelowiges in flieks dikwels uitgebeeld as mense met lang gesigte, mense sonder lewensvreugde?  Is dit die beeld wat ons die wêreld uitstuur?  Ons bedroef die H.G. as ons met haat en wrokke in ons harte rondloop, as ons nie wil vergewe nie.  Dan bedroef ons die Gees wat in ons woon.

 

In Joh. 3 vergelyk Jesus die H.G. met wind.  Daar staan: “Die wind waai waar hy wil.  Jy hoor sy geluid maar weet nie waar hy vandaan kom en en waar hy heen gaan nie”.  Ons sien nie die wind nie, maar ons kan die effek van die wind waarneem: die blare wat oor die erf waai, die skade wat sterk winde aanrig(bome, takke), die windlaaiers wat aangedryf word.  So is dit met die Gees.  Ons kan die Gees nie sien nie, maar ons kan, ons behoort die effek van die H.G. in ons lewens te kan sien.  Ons (behoort te) kan sien hoedat gelowiges se lewens verander, hoedat die vrug van die Gees in hul lewens vertoon, hoedat gelowiges se gedrag almeer oplyn met die waardes waarvan ons in die Woord van God lees, hoedat gelowiges almeer die waarmerk van God dra!  Sien ons dit wel, word God verheerlik!  Sien ons dit nie, word God die H.G. bedroef!  Gaan vertoon die waarmerk van God, die Gees van God in die wêreld!

AMEN