Filippense 2:5–11

Datum: 25 Februarie 2018 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

25 Februarie 2018
Ons verteenwoordig Christus in hierdie wêreld. (Getuienissondag)
Laai lêer af om later te luister (3,55MB)

Hoe sien jy die rol van die kerk of dan jou rol as gelowige in die wêreld?  Een manier hoe ons ons rol as gelowige of as kerk in die wêreld sou kon sien, is om te reken die kerk moet soveel moontlik geld hê, so groot moontlik invloed hê, kontakte hê, alle moontlike bronne hê.  Dan kan ons(die kerk) mos die wêreld verander, dinge doen, dinge laat gebeur, ‘n verskil maak, geld gee waar dit nodig is, salarissie betaal van mense wat in diens van die Here staan, voorsien aan elke nood en behoefte?  Sal ons, as ons dit doen, voldoen aan ons roeping as kerk?

Luister hoe waar begin Paulus as hy vir die gemeente Filippi hul roeping wil beskryf.  Hy begin deur te praat van die ontlediging of vernedering van Christus.  Hy sê Christus het nie aan sy Goddelike gestalte vasgehou nie, Christus het die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en Christus was gehoorsaam tot in die dood aan die kruis.  Hoewel (sommige Skrifverklaarders sê mens kan ook sê “omdat “) Christus God was, was Hy bereid om die hemel te verlaaten as mensekind gebore te word in ‘n stal in Bethlehem.  Hoewel Christus God was, het Hy as mens op aarde kom leef, op die stofpaaie van Palestina te kom loop, dikwels nie ‘n plek gehad het om sy kop neer te lê nie.  Hoewel Christus God was, was Hy bereid om die kruisweg vir ons te gaan(Lydenstyd), sy lewe vir ons te gee - te sterf aan die kruis op Golgota.  Dit is nogal radikaal om so aan God te dink(tema?)!  Dit is hoe Paulus vir die gelowiges in Filippi dié God beskryf wat hy aan hulle kom bekendstel het!  Dit is wie God is, dit is hoe God is, dit is wat God se wese is, hoe God Homself aan ons kom bekendmaak / kom openbaar het.  Christus, die Dienaar, die Dienskneg, die Lydende Kneg van God, die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vir baie mense(Mark10:45).  So lyk, so is die Here wie ons dien, wie ons volg!

Dit sou ons waarskynlik gepas het as v.5 nie hier gestaan het nie, “dieselfde gesindheid moet ook in julle wees wat daar in Christus was.”  As vers 5 nie hier gestaan het nie, sou die gelowiges in Filippi, gelowiges deur die eeue, ook ek en jy, die verlossing van Christus kon ontvang, en daarna kon aangaan met ons lewens soos voorheen.  En voortlewe soos voor ons verlossing, voortgaan met lewens waarin dit grootliks om onsself gaan, om ons eie koninkrykies op aarde te bou, om onsself te dien, onsself te verryk.  Jy neem Jesus as Verlosser aan en daarmee is jou kaartjie na die hemel bespreek en nou kan jy voortleef soos voorheen!  Die vraag is, doen ons dit nie dalk tog maar nie?  Leef ons dalk asof v.5 nie hier staan nie?  Leef ons asof ons maar net die verlossing kan ontvang en verder ons eie ding doen?

Maar nou staan v.5 wel hier, “Dieselfde gesindheid moet ook in julle wees wat daar in Christus was”.  As draers van die Christus-naam, as verteenwoordigers van die kerk van Jesus Christus moet dié woorde, behoort dié woorde, “Dieselfde gesindheid moet ook in julle wees wat daar in Christus was” ons kenteken te wees - dit waaraan ons uitgeken word.  Dit behoort as’t ware op ons voorkoppe geskryf te staan, in ons harte te leef, na vore te kom in ons gesindheid teenoor ander, te wys in hoe ons met ander praat, te blyk in ons optrede, ons dade!  Of dit is by die huis teenoor ons familielede, in die straat teenoor ons bure, by ons werk, by die skool, in Greenpark teenoor die kinders en volwassenes daar, by Huis Sonop in Stikland, teenoor ons tweeling gemeente Candeni in Mosambiek, in Varanasi in Indië.

Omdat ons navolgers van Christus is, mense in wie Christus leef, mense is in wie dieselfde gesindheid leef as wat in Christus was, daarom is ons ook diensknegte.  Daarom behoort die kerk ‘n dienskneggestalte te hê.  “Om te dien” moet ten grondslag lê van die manier waarop ons betrokke is in de wêreld.  “Om te dien”moet ten grondslag lê van die gesindheid waarmee ons leef, van wie ons is.  Ons mense wat bereid is om die minste te wees, ons klou nie vas aan om belangriker of beter as ander te wees nie, ons staan ook stil by ander wat ons nodig het, ons raak betrokke by ander se nood, ons offer op ter wille van ander, ons is nederig en sagmoedig. So kring die koninkryk van God uit, so word mense gewen vir die saak van die Here, so is ons ware verteenwoordigers van Hom wie se naam ons dra.  Kom ek sê dit op nog ‘n manier.  Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, het Hy gesê: Ek het vir julle die voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen!  Die jongmense het so ‘n armbandjie gedra waarop staan “What would Jesus do?”  Dit is inderdaad ‘n vraag wat ons voortdurend aan onsself kan vra.  Ons kan daarby voeg, “Hoe sou Jesus dit gedoen het?” of “Met watter gesindheid sou Jesus dit gedoen het”?

Die Christuslied praat ook van Christus se verhoging.  Die lied sluit af met die woorde: God het Hom tot die hoogste eer verhef; God het Hom die naam bo elke naam gegee; almal sal erken dat Christus die Here is.  Toe dit oor Christus se vernedering gegaan het, lees ons, Christus het Homself ontledig.  Met Christus se verhoging, staan hier egter: God het Christus verhoog.  God die Vader het Christus verhoog!  Die Vader het Christus opgewek uit die dood, opgeneem in die hemel en laat sit aan sy Regterhand!  Die Here gee vir ons soortgelyke beloftes in die Bybel.  Na ons lewe op aarde, belowe die Here vir ons, wag daar vir ons ook ‘n verhoging, ‘n verheerliking, ‘n lewe in die teenwoordigheid van die Here, die ewige lewe met God.  Om eregaste by Jesus se hemelse feesmaal te wees wat in ewigheid nie ophou nie!

Amen