Gal.6:1 - 17

Datum: 7 Julie 2019

Prediker: Johan Morkel

7 Julie 2019
Ons vertroue op Christus as Verlosser word in ons lewens sigbaar, wys in ons lewens
Laai lêer af om later te luister (7,41MB)

Hulle vertel die grappie van “Hoe weet jy iemand was in Paul Roos”?  Die antwoord is, “hy sê vir jou”!  Mens kan ook op ander maniere wys jy was in Paul Roos of watter skool ookal.  Jy sou die skool se kleurbaadjie kon aantrek, die skooldas kon aansit, jy sou dalk die skool se rugbytrui kon aantrek.  Dit geld nie net vir ‘n skool nie.  Ons sien dikwels hoedat mense deur ‘n teken of embleem hulself vereenselwig met ‘n saak wat vir hulle belangrik is.  Jy dra die lapelwapen van ‘n organisasie of beweging waaraan jy behoort, voor jou huis wapper die landsvlag as die Springbokke speel, jy dra die ondersteuningstrui van die die Super15 span wat jy ondersteun, jy het ‘n plakker op jou motor se buffer met ‘n slagspreuk wat vir jou belangrik is.  Ek wil ‘n vraag vra wat ‘n belangrike rol vanoggend speel.  Is ek/jy altyd lojaal aan die saak waarvoor ons te kenne gee ons staan?  Verloën ons nie dikwels die teken of embleem wat ons dra of vertoon nie?  Byvoorbeeld: Ek dra ‘n oudskoliere baadjie maar is nie ‘n goeie getuienis van die waardes waarvoor die skool staan nie!

 

Sommige van die gemeenteleiers in Galasië was voorheen Jode.  Hulle het uit die Jodendom tot die Christelike geloof gekom.  Ongelukkig het hulle vasgehou aan die besnydenis as O.T.-/Joodse verbondsteken; geglo sekere uitgediende Joodse wette moet steeds nagekom  word; gereken hierdie dinge is steeds noodsaaklik om na te kom.  Dinge het nou verder ontwikkel in Galasië.  Die gemeenteleiers het aangedring dat die lidmate van Galasië ook besny word, ook die wette onderhou, ook die uiterlike uitgediende godsdienstige gebruike nakom.  Om daarmee te wys hulle is aanhangers van die Christelike geloof, om daarmee in die goeie boekies van hierdie gemeenteleiers te kom.  Die gelowiges in Galasië het nou hul geloof gekoppel/begin bou op hierdie uiterlike tekens.  Die gemeentelede het(skryf Paulus) geroem op hul besnydenis, het gesê: ons dra die teken van die besnydenis, so alles is reg by ons. Hulle het gesê, ek kom al hierdie wette na, so my geloofslewe is in orde.  In plaas van dat dit gaan om Christus en wat Christus gedoen het, het hulle almeer hul geloof gebou op hierdie uiterlike tekens, almeer gedink, as ek dié dinge doen, is my geloofslewe in orde.  Hulle wou netmaar die gemeenteleiers tevrede stel deur hierdie uiterlike tekens!   Soos om met ‘n kleurbaadjie rond te loop en te dink bloot omdat ek die baadjie dra verteenwoordig ek die saak waarvoor die baadjie staan!

 

Ons kan baie maklik dieselfde oorkom as hierdie gelowiges in Galasië.  Ons kan ons vertroue begin plaas op ander dinge as op Christus.  Dit kan op meer as een manier gebeur.  Die een manier waarop dit kan gebeur, is dat daar dinge in ons lewens insluip waarop ons mettertyd ons vertroue op begin stel in plaas van op Christus.  Dinge wat niks wat met geloof te doen het nie.  Hierdie dinge begin algaande meer tel in my lewe as my geloof in Christus, begin almeer vir my saakmaak.  Hierdie dinge word dit waarop ek vertrou, my toekoms bou, dit neem mettertyd die plek in van my geloof en vertroue op Christus!  Watter dinge, vra jy?  Dinge soos die neseier wat ek aan die opbou is - daarmee is ek veilig vir ‘n lang en goeie aftrede.  My gesondheid wat so goed is - ek is oortuig ek gaan nog tot in lengte van dae lewe!  My geleerdheid, my intellek, my posisie by die werk – ek dink ek is gewax vir die pad vorentoe.  Dinge waarmee opsigself nie fout te vinde is nie.  Dit gebeur egter baie maklik, selfs onbewustelik, dat soos die Galasiërs die verskuiwing gemaak het van hul geloof en vertroue op Christus na hul vertroue op die uiterlike tekens.  So ons ook, ons vertroue op die Here se sorg vir elke dag en vir die toekoms, verruil ons vir hierdie sigbare, tasbare, steunpunte in ons lewens!

 

Dit is die een manier.  Die ander manier gebeur binne die kerklike lewe en het miskien meer ooreenkomste met wat met die gelowiges in Galasië gebeur het.  Ons begin ons geloof bou op, ons begin steun op, ons vertroue stel in, sekere kerklike, godsdienstige gebruike, geloofsgewoontes.  Dinge waarmee daar as sulks niks verkeerd is nie, dinge wat goed is, wat noodsaaklik is vir ons geloofslewe, maar dinge waarop on sons geloof begin bou.  Kom ek gee vir julle voorbeelde.  Ek en lidmate van die gemeente het destyds met die EE3 kursus lidmate in die gemeente besoek.  Met die inleidende vraag vra jy vir die mense wat jy besoek waarop die sekerheid van hul geloof gebou is.   Ons het dikwels die volgende antwoorde gekry: ek gaan gereeld kerk toe; ek het baie termyne as kerkraadslid gedien; ek leef ‘n goeie lewe; ek gee gereeld bydraes; ek was vir baie lank by die een of ander aktiwiteit van die gemeente betrokke - basaar, kinderkrans, sondagskool.

 

Julle verstaan hoekom ek sê dit is goeie dinge, noodsaaklike dinge.  Aktiwiteite waarsonder ‘n gemeente nie kan voortgaan nie.  Maar as hierdie dinge die basis van ons geloofsekerheid word, die plek begin inneem van geloof in Jesus Christus, genoem word as die gronde waarop ons voor die Here staan, dan is ons in dieselfde bootjie as die gelowiges in Galasië.  Dan roem ons nie op Christus nie, maar op ander dinge!  Dan het sekere uiterlike gebruike vir ons belangriker geraak as die saak waaroor dit gaan.  Dan het die kleurbaadjie belangriker geword as die saak waarvoor die kleurbaadjie staan.  Mens sou die doop ook in dié lig kon sien.  Mense sou kon dink, as my kind net gedoop is, dan is alles daarmee afgehandel, voltooi.  Dan is my verantwoordelikheid teenoor my kind se geloof nagekom - finish en klaar.  Dan het ek geen verdere verantwoordelikheid om my kind te begelei na dit waarna die doop heenwys - die kruisdood en opstanding van Christus, nie.  Indien dit sou gebeur, het die doop vir ons ‘n uiterlike teken sonder inhoud geword.  Dan roem ons op die doop en nie op die genade wat God in Christus nie, dan is ons weereens in dieselfde bootjie as die gelowiges van Galasië.

 

Wat sê Paulus nou vir die Galasiërs?  Hy noem ‘n paar sake waarmee hy die Galasiërs die regte pad wys.  Die eerste, hy sê in v.14:  Hy roem nie oor uiterlike dinge nie, maar hy roem oor die kruis van die Here Jesus Christus.  Die hart van ons geloof is Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het!  Christus moet die middelpunt van elkeen persoonlik se geloof wees, Christus moet ook die sentrum wees waarom die gemeente en sy aktiwiteite draai, ook vanoggend die middelpunt wees waarom die doop gaan.  Paulus sê verder in v.14: Deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.  Deur die kruis is die wêreld vir die gelowige dood en die gelowige vir die wêreld.  Is dit vir ons so, vriende?  Kan jy die woorde van Paulus napraat?  Probeer ons nie dikwels die wêreld en die Here gesamentlik dien nie - ons wil op twee stoele gelyktydig sit?  Kies vanoggend opnuut om lewend vir die Here te wees, dood vir die wêreld!  Paulus sê in v.15: of ‘n mens besny is of nie(uiterlike teken) is nie van belang nie, maar dat jy in Christus ‘n nuwe mens is.  Ons is in Christus nuwe mense!  Kom ons kruisig vanoggend opnuut die ou mens, die sondige natuur, kom ons gryp opnuut die nuwe lewe in Chritus aan!

 

Gewoonlik skryf Paulus eers die beginsels en daarna gee hy praktiese voorbeelde.  Hier het hy egter eers teen die einde van die hoofstuk die beginsels uitgewys.  In die eerste verse van Gal.6 het hy reeds kenmerke van gelowiges genoem, dit waaraan gelowiges uitgeken behoort te word, dit wat ons ware kleure sal wys.  Hy sê gelowiges, ek en jy,  is mense wat hulle deur die Gees laat lei(v.1), uitvoering gee aan Christus se liefdeswet(v.2), mekaar se laste dra(v.2), nie dink hulle is belangriker as ander nie(v.3), op die akker van die Gees saai(v.4), nie moeg word om goed te doen nie(v.9).  Is dit hoe ek en jy lyk?  Is dit die kleure wat ons in die wêreld vertoon?  Is dit die klere wat ons dra?

Amen