Markus 11:1-11
Datum: 28 Maart 2021
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Was jy al “teleurgesteld” in die Here? (klink so bietjie Godlasterlik?) Het jy al gevoel die Here het jou in die steek gelaat? Die Here maak darem nie nou reg met jou nie? Die Here het nie die uitkoms gegee waarop jy gehoop het nie? ‘n Anti-klimaks. Vers 11 is ook so ‘n ant-klimaks. Die voorafgaande verse is gelaai met die verwagting, die ekstase, entoesiasme, die aksie van die skare! Mens voel die opgewondenheid van die skare aan, die opbou. En dan v.11: “Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië gegaan het.” Alles het op niks uitgeloop nie – die berg het ‘n molshoop gebaar!
Wat het dan hier gebeur? Daar was reeds Jode van heinde en verre in Jerusalem met die oog op Paasfees, die komende naweek. Toe Jesus op die donkie se rug Jerusalem ingery kom, sou die Jode onmiddellik aan Sag.9:9 gedink het, “Kyk, jou Koning kom na jou toe. Hy is nederig en ry op die rug van ‘n donkie.” Die Jode het gedink, vir soveel generasies wag ons voorouers al vir hierdie oomblik om aan te breek? En ons is die gelukkiges! Hierdie Jesus van Nasaret is jou waarlik die langverwagte Messias. Sag.9 is besig om voor ons oë in vervulling te gaan! Die oomblik het aangebreek waarop die Messias die koninkryk van Dawid gaan herstel soos in koning Dawid se tyd! Hierdie Jesus, die Messias, gaan die Romeinse juk van ons afgooi, ons gaan die Romeine oorwin en as volk van God weer vry wees!
En dan gaan hulle tot aksie oor(mens voel eintlik die atmosfeer aan!) Van hulle gooi hul klere op die donkie se rug om dit gemakliker vir Jesus te maak. Ander gooi hul klere op die pad om daarmee ‘n spreekwoordelike rooitapyt vir die Messias uit te rol. Johannes vertel die mense het palmtakke geneem en daarmee gewaai toe Jesus Jerusalem ingekom het (vandaar Palmsondag). V.9 en10 sê die skare het uitgeroep(geskreeu?) ”Prys Hom! (Hosanna) Loof Hom wat in die naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!” Jerusalem was in beroering!
En toe gebeur niks van wat die Jode verwag het nie. Geen rewolusie, geen opstand, geen oorlog, geen opneem van die swaard. Geen aardse Joodse koninkryk wat die Romeinse regering omverwerp en die Romeine in die see dryf nie! Daarom die antiklimaks van v.11. Die Jode het gereken hierdie Jesus het nie gedoen wat Hy moes nie. Hy het nie aan ons en aan ons voorouers se verwagtinge voldoen nie. Hy het ons in die steek gelaat, ons teleurgestel. Hy kan nie die Messias wees nie.
Is dit nie die geval ook met jou en my nie? Soos die Jode oor jare heen vir hulself ‘n beeld van die Messias geskep het, ‘n verwagting geskep het van hoe Hy moet wees, wat Hy moet doen en hoe Hy moet optree, so maak ons ook! En as dinge nie in lyn met my verwagting van wat God moet doen, gebeur nie, as die Here nie is soos ek reken Hy moet wees nie, as Jesus nie optree volgens wat ek van Hom verwag om op te tree nie, dan staan ek ook waar die Jode hier staan! Dan is ek teleurgesteld, dan is my geloof vir my ‘n anti-klimaks!
Lydenstyd is ‘n tyd van stilword voor die Here, ‘n tyd van selfondersoek. Ek wil hê dat ons vanoggend na drie dinge sal kyk. Eerstens sal ons moet sekermaak: Hoe lyk die Jesus wat ek tans volg? Dalk het ek van Jesus net maar Iemand gemaak vir wie ek my daaglikse behoeftelysie voorlê en Hy moet daarvolgens voorsien. Dalk het ek min of selde iets met Jesus te make, maar ek weet darem Hy is heeltyd byderhand vir ingeval ek Hom nodig kry. (‘n spaarwiel-God of ‘n valskerm-God.). Dalk het ek die skerpkante van wat navolging van Jesus volgens die Bybel inhou, so bietjie afgevyl, sagter gemaak, meer aanvaarbaar gemaak! Ek meen is dit nou regtig nodig dat Jesus nr.1 in my lewe moet wees? Moet mense in nood regtig die prioriteit en aandag kry wat mense sê die Bybel voorskryf? Kan ek nie die voorwaardes van navolging van Jesus so bietjie skietgee nie – Hy sal tog verstaan? So sit ons almal met ‘n Jesus wat my pas, ‘n Jesus na my smaak, ‘n Jesus wat vir my gerieflik en gemaklik is. En tree Hy nie volgens my verwagtinge op nie, plaas ek die blaam op Hom! Vriende, dit is nie God wat my in die steek laat nie, dit is die verwagting van wie God moet wees, dit is my Godsbeeld, wat my faal of in die steek laat!
Tweedens herinner Lydenstyd ons elke jaar aan hoe die Messias, die Jesus van die Skrif, lyk - die Jesus wie ons sê ons volg. Die Jesus wat ons volg is in eenvoud in die oop veld in ‘n krip in ‘n stal naby Betlehem gebore. Die Jesus wat ons volg het gesê die voëls het neste en die jakkalse het gate, maar die Seun van die mens het nie ‘n plek om sy kop neer te lê nie. Die Jesus wat ons volg het ‘n hart gehad vir alle mense: tollenaars, prostitute, armes, melaatses, siekes, Samaritane, nie-Jode. Hy het geen onderskeid gemaak nie. Jesus het by hierdie mense vertoef, hulle aangeraak, hulle versorg, genees, tyd met hulle spandeer, liefgehad. Jesus het in eenvoud en nederigheid op ‘n donkie se rug Jerusalem ingery. Die Jesus wat ons volg het deur die kruis en die opstanding inderdaad die Koninkryk van God kom vestig. Nie ‘n aardse Koninkryk nie, maar ‘n koninkryk waarvan die mens deelword deur Jesus as Verlosser aan te neem en Hom jou koning te maak. Dit is die Jesus van die Nuwe Testament wie ons volg.
Kom en vra ten laaste: Hoe lyk ons dan, die volgelinge van dié Jesus? Die kort antwoord is, ons lyk soos Jesus. Ons lyk soos Hy vir wie ons volg. Dit is tog voor die handliggend! Soos Jesus bereid was om aan ‘n kruis te sterf, so is ons volgelinge van Jesus ook bereid om onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom te volg. Soos Jesus nie ‘n aardse koninkryk kom vestig het nie, nie ‘n koninkryk van mag en weelde en kragdadigheid nie, so sal sy kerk(ek en jy) ook gekenmerk word aan ons eenvoud, nederigheid, sagmoedigheid, broosheid. Soos Jesus gesê het Hy het nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie, so sal dit nie vir sy volgelinge gaan om status en posisie en belangrikheid nie, maar sal ons lewens ook gekenmerk word deur diensbaarheid,
liefdesdiens, omgee vir mekaar en ander, mense wat bereid is om die ekstra myl te loop. Dalk kan ons ons slagspreuk in Lydenstyd so bietjie aanpas? Dalk kan ons die “in die voet-spore van Jesus” verander na “in die voetspore van die gekruisigde Jesus.”
AMEN