SPREUKE 9: 1-18
Datum: 20 Januarie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
- INLEIDING
Hannes het aan my genoem dat dat hy in een van sy preke genoem het dat ons al hierdie groot voornemens vir 2019 in elk geval nie gaan nakom nie. Vergeet dit! Gee klein verstellings in jou lewe. Ek stem saam.
Dis klein dingetjies in die lewe wat groot veranderinge teweegbring. Daarom wil ek vanoggend stilstaan by een aspek van ons lewens waaraan ons aandag moet gee. As ons hieraan aandag gee gaan dit op vele terreine groot veranderinge tot gevolg hê.
My en jou huwelik. Verhoudings tussen mense.
Die afgelope week was ek in gesprek met ’n vrou en met haar goedkeuring wil ek vanoggend haar storie met julle deel. Hoekom? Want dit kan so maklik in ’n huwelik gebeur. gebeur. Sy was onder die indruk dat dit ’n wonderlike “date night” saam met haar man sou wees. ’n Rustige aand, vol bederf met kerse, rooiwyn en sagte agtergrond musiek. Sy het haarself mooigemaak vir die aand. Hulle twee het by eetplekkie opgedaag en die kelner het vir hulle hul tafel vir die aand gaan wys. Hulle het gaan sit, wyn bestel en deur die spyskaart geblaai. Sy was salig onbewus van wat sou kom. Hy het stip na sy vrou van die afgelope 5 jaar gekyk en stadig, berekend begin praat. Ek is nie lief vir jou nie. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit lief vir jou nie. Ek wil my eie ding doen. Ek wil skei. Dit wat veronderstel was om ’n mooi aand saam met haar pasmaat te wees, het ontaard in ’n onstuimige brander wat oor haar breek en wat haar teen die rotse vermorsel.
Hoe tel mens weer die stukke van jou lewe op na so ’n episode? Wat gebeur wanneer die pilare van jou huis begin om inmekaar te tuimel en jy magteloos staan en toekyk hoe jou drome, jou ideale, jou pasmaat sy rug op jou draai? Vriende. In baie huise vandag eindig dit nie daar nie. Maar in baie huise is paartjies eerder huismaats, as huweliksmaats. Hoeveel keer hoor ek dat dit makliker is om te bly as om uit te stap.
Hoeveel keer hoor ek dat ons niks meer vir mekaar het om te sê nie. Hoeveel keer hoor ek dat ons verveeld raak met mekaar. Wat as as jy en jou man jul oë uitvee en skielik ontdek, julle is meer huismaats as huweliksmaats? Ek en my man was nog altyd goeie maats. Ons kon ure lank gesels oor wie-weet-wat en lekker op ons eie kuier om ’n bottel rooiwyn. Ek het gedink dit is wat ons bymekaar hou en dat dit een van ons huwelik se sterkste eienskappe is. Tot die dag toe ek uitvind dat ons net ’n huis deel en niks meer nie. Dan ontdek ons met ’n skok dat ons só gefokus was op ons vriendskap dat daar niks verder van ons verhouding oorgebly het nie. Die romanse en die passie was weg – oornag.”
- HOE GEBEUR DIT?
Die nes raak vol en die rekeninge hoop op. Soveel tyd en energie word aan verpligtinge spandeer dat ’n paartjie se intimiteit aan die kortste end trek.
Of die kleinkinders wat soveel tyd van ouma en oupa in beslag neem dat oupa en ouma nie meer alleentyd oor het nie. Pasmaats begin die huwelik as vanselfsprekend aanvaar en glo dat die liefde genoeg is om hulle “deur te trek”. As dit gebeur, praat twee huweliksmaats nie meer nie – hulle tick net die noodsaaklikste items op die to do-lysie af. En kort voor lank is hulle soos skepe in die nag. Soms is dinge skynbaar só “normaal” dat ’n paartjie glo hulle is op ’n goeie plek, want daar is geen drama of konflik nie – tot een (of albei) een oggend wakker word en “verveeld” voel!
En dit kan groot verwydering tussen huweliksmaats veroorsaak. En vriende omdat só ’n paartjie funksioneer, lyk die huwelik vir buitestaanders perfek, maar hoewel die huismaats al die verantwoordelikheid van getroud-wees aanvaar, het hulle nie die voordele nie. Hulle voel nie geliefd nie en die emosionele intimiteit is weg. Soveel paartjies begin as sielsgenote en beste vriende . . . en word dan huismaats. Huismaats wat heimlik (wetend óf onwetend) kwaad is vir mekaar.
- ONS SAL BESTEKOPNAME MOET DOEN
Deur te gaan kyk of daar nog ’n middelpunt is in ons huwelike is. Deur jouself af te vra hoekom jy destyds begin het. Spreuke 9 praat vanoggend baie duidelik met ons.
Vriende, gesonde pasmaats het wysheid nodig en wysheid begin by die dien van die Here. Ons land het pasmaats met wysheid nodig.
- KOM ONS KYK NA WYSHEID SOOS DIT IN DIE HEBREEUSE TEKS VERSTAAN WORD.
Binne die konteks van die Ou Nabye Ooste het eer en skande ’’n prominente rol in mense se lewens gespeel. Dit waarvolgens jy in die samelewing beoordeel was. Binne die Hebreeuse teks was iemand met wysheid ’n persoon met selfbeheersing, regverdigheid, toewyding, vermyding van versoekings, respek en liefde. Dit was die pilare waarop wysheid gerus het. En hierdie wysheid begin by die dien van die Here.
- WAAR IS ONS IN ONS HUWELIKE?
Is ons Huismaats? Skepe in die nag? Verveeld? Is daar verwydering? Alhoewel ons vir buitestaanders perfek lyk. Of is ons Huweliksmaats met wysheid wat begin by die dien van die Here.
- WAAR WIL ONS WEES BINNE ONS HUWELIKE? HOE BOU ONS AAN ONS HUIS?
Ons het twee keuses. Wysheid of Onkunde. En ek kan my nie indink dat ons onkundig of dwaas wil wees nie. Ons moet emosioneel slim wees in ons huwelike. Selfbeheersing, regverdigheid, toewyding, vermyding van versoekings, respek en liefde is uiters belangrike boustene van ’n huwelik met ’n sterk fondasie. Os noem dit wysheid. En hierdie wysheid moet begin by die dien van die Here. Dit beteken dat die Here die middelpunt van my lewe sal wees. Die middelpunt van my huwelik of verhouding waarin ek staan. Daarom vra dit dat ek in die eerste plek hierdie beginsels sal toepas in my verhouding met die Here. ’n Afskeep verhouding met Here kan nie werk nie. Ons kan nie ’n spaarwiel-verhouding met die Here hê nie. Om DIE heilige te ken vra van my tyd saam met die Here. Nie afskeeptyd nie. Kwaliteit tyd saam met die lewens e almagtige God.
Wanneer ons tyd maak in ons verhouding met die Here en tyd maak vir my huwelik gaan dit goed in my gesin. Dan gaan dit goed op alle terreine. Dis nooit te laat nie. Daar is altyd geleentheid op herstel. En vir ons wat hierdie pynlike pad al moes stap en die verlies moes ervaar van ’n pasmaat wat uitgeloop het, is daar ook hoop. Kom ons fokus op ons middelpunt. Dit is wat binne die huwelik gevra word sodat gesonde gesinne hierdie gety binne ons land kan draai. AMEN