Genesis 17:1-14

Datum: 7 Junie 2026 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Wat beteken dit om elke dag uit ons doop te leef? Genesis 17 help ons om hierdie vraag te beantwoord. Hier ontmoet ons God as die Verbondsgod. Die Here verskyn aan Abraham en sluit 'n verbond met hom. Wat opvallend is, is dat hierdie verbond nie begin by Abram se getrouheid nie, maar by God se genade. God weer na hom toe en sê: “Ek rig my verbond op tussen My en jou.”

 

Die opvallende ding in hierdie hoofstuk is dat God die hoofrol speel. God sê nie vir Abraham: “Bewys eers dat jy goed genoeg is, dan sal Ek jou God wees” nie. Hy sê ook nie: “As jy alles reg doen, sal Ek jou kies” nie. Nee, God neem die inisiatief. God kom na Abraham toe. God maak die belofte. God sluit die verbond. God verbind Homself aan Abraham en sy nageslag.

 

Dit is die hart van die Bybelse verbond. Die verbond begin nie by mense nie; dit begin by God. Die verbond begin nie by ons gehoorsaamheid nie; dit begin by God se genade. Dit is eintlik die verhaal van die hele Bybel. Van die begin af was die verbond God se manier om sy liefde, genade en trou aan mense bekend te maak. God het geweet dat mense nooit volkome getrou sou wees nie. Hy het geweet dat ons sou struikel, afdwaal en soms selfs teen Hom sou draai. Tog het Hy ook geweet dat Hy self altyd getrou sou bly. Daarom rus die verbond nie op die mens se vermoë om God vas te hou nie, maar op God se besluit om ons vas te hou. Die verbond is die verhaal van 'n God wat Homself verbind aan mense wat dit nie verdien nie.

 

Dit is waarom die verbond so belangrik is vir ons identiteit. Die verbond herinner ons dat ons waardig is omdat God ons liefhet. Die wêreld probeer aanhoudend vir ons vertel wie ons is. Party mense vind hulle identiteit in hulle werk. Ander in hulle sukses, hulle voorkoms, hulle status of hulle besittings. Maar al hierdie dinge is broos. Dit kan verander of verdwyn. Die verbond gee vir ons 'n identiteit wat nie verander nie. Dit vertel vir ons dat ons eerste en laaste aan God behoort.

 

Die wonder van die doop is dat dit ons help onthou wie ons is wanneer ons dit self vergeet. Maar die doop vertel ’n ander verhaal. Die doop sê dat God jou liefgehad het voordat jy enigiets bereik het. Die doop sê dat God sy Naam oor jou uitgeroep het voordat jy enigiets kon bewys. Die doop sê dat God Homself aan jou verbind het voordat jy iets vir Hom kon doen. Wanneer die water van die doop vloei, is dit God se verklaring dat sy liefde eerste kom. Dit is God se manier om te sê: "Jy behoort aan My." en "Jy is My kind."

 

Die doop word dan nie net 'n gebeurtenis uit die verlede nie, maar 'n werklikheid wat ons hele lewe vorm. Dit beïnvloed hoe ons na onsself kyk, hoe ons na ander mense kyk en hoe ons ons plek in die wêreld verstaan. Om uit ons doop te leef beteken daarom om elke dag vanuit hierdie identiteit te leef.