Lukas 24:1-12

Datum: 1 April 2018

Prediker: Jandré Viljoen

Inleiding

Naas die kruisiging is hierdie definitief die grootste gebeurtenis in ons Christelike geskiedenis.  Dit is ‘n geleentheid wat ons moet anker in hoop.  MAAR tog sukkel ons om die werklikheid van Christus se opstanding te verstaan.

Ons kan vanoggend, soos die vroue wat na Jesus se graf gegaan het, met wanhoop skrik en dink iemand het Jesus se liggaam gesteel.  Dit was ‘n groot realiteit in daardie tyd.  Ek kan sommer net dink wat my eie reaksie sal wees as ek dit moes aanskou.

Dit is moeilik om dit te glo.  Dit is moeilik om te glo dat Jesus opgestaan het.  Menslik is dit onmoontlik.  Waar in vandag se moderne era het ons al mense sien opstaan na drie dae in ‘n graf?  Ons lees nie van sulke stories nie.  Ons sien ook nie meer sulke realiteite nie.

Ons ervaring daarvan is digitaal.  Dit verskyn op films en prentjies.  Dit verskyn op boodskappies en emails.  MAAR tog bly dit net ‘n vae realiteit in ons kerklike tradisie.

Hoe verduidelik ‘n mens die realiteit van Christus se opstanding uit die dood – oorwinning oor die dood – aan mense wat regtig seer het, angs het, onseker is, vrae het, siek is?  Die realiteit is, ons gaan sukkel om dit te verstaan, maar dit is fine.  Dit is deel van ons menslikheid.

Wat die werklikheid van Jesus se opstanding vir ons eerder kan doen, is groter as vrae of soeke na antwoorde.  Dit bemagtig ons om meer te doen as wat ons menslik dink ons kan doen. Die opstanding…

…stel ons in staat!

Hierdie gebeurtenis stel ons in staat om die dood met sober vertroue in die gesig te staar.  Alles wat vir ons te moeilik is.  Alles wat vir ons sleg is.  Alles wat ons hopeloos laat kan ons met groot ywer aanpak. Hoekom, want Christus het die dood oorwin.

Dit stel ons in staat om angs aan te vat.  Dit stel ons in staat om onsekerheid aan te vat.  Dit stel ons in staat om siekte aan te vat.  Dit stel ons in staat om konflik te hanteer.  Dit bemagtig (empower) ons om dit te doen.  Dit stel ons ook in staat om deur goed te werk: Die afsterwe van ‘n geliefde.  Die stryd met kanker.  Die stryd teen enige iets.

Ek wil dit ook net regstel.  Hierdie is nie ‘n kitsoplossing of plaas vervanger vir medikasie nie.  Baie mense het medikasie nodig en dit is fine.  Hierdie is ‘n gedagte waar Jesus saam met ons deur goed werk.

Hierdie opstanding uit die dood, stel ons in staat om ons realiteite aan te pak, met die wete dat Jesus saam met ons daar deur gaan.  Dit is waarin ons hoop moet lê.  Dit is waarin ons weer lewe moet kry.  Dit is waar ons vanuit die dood weer opgewek moet raak.

…gee betekenis!

Hierdie gebeurtenis grond nie net ons hoop vir die toekoms nie, maar dit gee betekenis aan ons alledaagse lewens.  Hierdie opstanding uit die dood moet vir my en jou betekenis gee vir ons alledaagse lewens.  Nie net vir my en jou nie, maar vir ander mense ook.

Dit is hier waar ek so bietjie vas gehak het.  Ek besef regtig net weer opnuut dat hierdie opstanding van Jesus Christus al lankal nie meer betekenis aan my lewe gegee het nie.  Ek het baie daaroor gepreek, maar het die essensie daarvan verloor.

Ek wil vanuit my eie verhaal met julle iets deel.  Aan die begin van laas jaar was ek vir 7 maande werkloos.  Ons het net op my vrou se skrale onderwys salaris geleef.  Vir my as man, het dit my identiteit beïnvloed.  My menswaardigheid.  My rol as man.  Ek het alles in my vermoë probeer om geld in te kry.  Ek het meubels reggemaak, gesing, gepreek en alles gedoen, maar ter vergeefs het dit broek skeer gegaan.  Ek het planne gemaak.  Ek het alles gedoen om werk te kry.  Vir my was dit baie sleg, MAAR… dit was by verre die beste tyd van my lewe.  Vir die eerste keer het Jesus se oorwinning oor die dood vir my betekenis in my lewe gegee.

Ek het bewus geraak van ‘n stuk hoop, ‘n werklikheid wat gegrond is in ietsie groter as ek.  Ek het amper alles verloor, maar het meer gewin.  En besef dat ‘n mens soms alles moet verloor, om weer iets te leer.  Vir die eerste keer het my geloof my iets gekos.

Ek luister soms na mense hoe hulle kla oor huis paaiemente, wat se kar hul moet koop, waar hulle kos moet koop – Woolies of Checkers.  Belasting wat hulle op eiendom moet betaal.  Ek kon onthou hoe ek in my werkloosheid na twee van my vriende moes luister.  Ek moes luister hoe die twee praat – fyn brag - oor wie die meeste geld verdien.

Die opstanding van Christus vra eerder van ons om in ons karre te klim.  Tygerberg hospitaal toe te ry.  Die Onkologie afdeling vir kinders te besoek en Jesus se opstanding toe te laat om deur ons betekenis te gee aan gebroke mense.  Dit is die realiteite van die lewe.

Die realiteit is.  Ek kan al my besittings verloor, maar ek kan nie vir Jesus verloor nie.  Toe ek niks gehad het wat my bind nie, het ek baie meer gehad om te gee.  Christus se opstanding kon baie meer deur my gee.

Jesus het ons egter na sy opstanding alleen kom laat nie.  Hy het geweet ons gaan sukkel.  Hy het geweet ons gaan nie alles verstaan nie.  In handelinge 1: 1-8 lees ons hoe Jesus ons belowe dat hy ons nie alleen gaan laat nie.  In handelinge 2 lees ons wat die belofte was.  Dit was die Heilige Gees.

“The promised counselor”

Dit is die beskrywing wat een van die kommentare die rol van die Heilige gees gee.  Hy is “the promised counselor.” 

Hy stel ons in staat om enige gebeure in die gesig te staar…

Hy gee ook betekenis aan ons situasies…

Ek wil julle gou ‘n guns vra.  Wat gou jul hande en steek dit in die lig.  Voel julle enige iets?  Dit is juis omdat ons niks voel nie, dat ons so sukkel om God se teenwoordigheid te verstaan.  Almal van ons wil God se teenwoordigheid voel.  Almal van ons wil weet waar die Heilige Gees is.

Vat gou jou hand.  Sit dit voor jou mond.  Haal gou asem teen jou hand.  Wat voel jy?  Dit is waar God se Gees is.  Hy is in jou.  Hy het dit reeds in jou geblaas.  Ons lees dit alreeds in Genesis 2:7 met die skepping van die mens.  Elke keer as ons asem haal spreek ons God se naam, “YHWH.

Dit is wat ons in staat stel.  Dit is waar ons betekenis kry.  By God se Gees wat in ons leef.  Hy leef nêrens anders nie.  Hy leef in ons.  Dit moet ons hoop gee.  Dit moet ons betekenis gee.

Amen