Lukas 19:28-40
Datum: 10 April 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ons lewe in vreemde tye, sê een van ons lidmate die afgelope week weer vir my. Eers was dit hierdie verskriklike pandemie wat niemand sien kom het nie, en wat al ons lewens op hulle koppe omgekeer het. En toe was dit nog nie eens regtig verby nie, toe breek die oorlog in Oekraïne uit. Jy kan sommer sien die oom verstaan glad nie wat hy nou om hom sien gebeur nie – en eerlikwaar, ek is die laaste een om hom kwalik te neem. Want hierdie is inderdaad ongekarteerde waters waarin ons nog nooit gevaar het nie. Dit roep net soveel vrae op, waarop ons nie regtig antwoorde het nie. Sê my dominee, vra die oom, wanneer gaan God ingryp? Ons Here kan dit tog nie net so laat aangaan nie!
Ek kan nie wag dat die Here moet ingryp en dinge net weer kom regmaak nie, sê hy vir my, en hy is al een wat so wens nie. Ek dink hy verwoord daarmee die versugting van gelowiges die wêreld oor. Wil die Here nie maar net kom en alles kom regruk nie? Alles is nou so stukkend en so deurmekaar – wil die Here nie maar ingryp, en dit kom regmaak nie? En toe lees ek dié week weer in aanloop tot Palmsondag uit Lukas 19 die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem. En skielik is dit asof daar so ‘n ongemaklikheid oor my kom. Hierdie gedeelte laat my toe met net soveel vrae, maar nou is dit nie meer vrae oor God nie. Nou is dit eerder vrae oor myself.
Jy sien, dis presies waarvan ons ook in Lukas 19 lees. Ons lees van mense wat reikhalsend uitsien daarna dat God in hulle lewe moet ingryp, dat Hy eindelik die Verlosser moet stuur, die Messias wat alles moet kom regmaak. Maar voordat jy baie ver gelees het, begin jy agterkom hulle is op geen manier in voeling met God se plan nie. Hulle verwagting verskil radikaal van wat God hier aan die doen is. Hulle wens vir ‘n Messias wat alles hier om hulle moet kom regmaak, en God se plan is veel groter: Hy wil die wêreld kom verlos uit die greep van die dood en die sonde. Terwyl hulle plan gerig was op hulle onmiddellike behoeftes, het God eindeloos verder gekyk...
En dis toe wat die vraag by my opkom: Waarvoor hoop jy regtig, as jy wens dat God sou ingryp? Wat verwag jy regtig van God?
Verwag ek en jy nie dalk ook ‘n genie uit ‘n bottel, wat net alles moet kom reg toor dat ons kan aangaan met ons lewens nie? Sal dit ons nie dalk pas as Hy tog nou net hierdie probleme kom uitsorteer, en dan verder vir ons sal uitlos en niks verder pla nie? Wag ek en jy nie dalk ook reikhalsend op ‘n ridder op ‘n wit perd wat vir ons uitkoms moet bring nie?
Want as dit jou verwagting is, wag dieselfde totale teleurstelling dalk vir jou, as wat die mense van Jerusalem in Lukas 19 ervaar het...
Wat dink jy regtig gaan gebeur wanneer God ingryp...?
- Die man op die geleende donkie.
Dis presies waaroor Lukas 19 gaan. Lukas vertel hier vir ons die vreemde verhaal van God se ingrype in ons wêreld. Maar dis ook ‘n verhaal wat ‘n mens ongemaklik maak. Dit laat jou stil en verwonderd as jy dit gelees het. Want wie sou ooit kon dink dat die ingrype van God in ons wêreld so doodgewoon, so uiters onopspraakwekkend sou wees? Dit is op die oog af ‘n doodnormale toneel wat voor ons oë afspeel. ‘n Jong man wat op ‘n geleende donkietjie die stowwerige strate van die stad ingery kom. Wie sou vir een oomblik kon raai dat dit die finale bedryf in die grootste drama van alle tye kon wees?
Wie wat dit gesien het, sou kon raai dat die laaste toneel van God se verlossingswerk voor hulle oë aan die afspeel was? Maar dan gebeur daar voor jou oë iets terwyl Jesus so die stad ingery kom. Dit is inderdaad byna of die klippe self begin uitroep! Die skare begin in beweging kom, en kort voor lank neem die opgewondenheid hand oor hand toe. Dit word ‘n massa-histerie van mense wat God hardop begin loof en prys. Hulle begin sing, want hulle begin verstaan iets daarvan dat hulle die profesie van Sagaria 9:9 voor hulle oë sien waar word, want Sagaria het al voorsien dat die Koning van die wêreld op ‘n eenvoudige donkietjie na die stad toe aangery sou kom. En so raak die golf van opgewondenheid net al groter. Die vreugdekrete raak al harder, en die gesing van die massa terwyl hulle God prys en hulle oorklede as eerbetoon voor Hom op die pad oopgooi. Jesus se eenvoudige inrit in Jerusalem in raak ‘n intog, dit raak ‘n groot geleentheid – ‘n absolute triomfmars.
- Jesus se intog in Jerusalem raak ‘n triomftog!
As ek die dag daar rondgehang het, is ek seker dat daar ‘n eindelose dankbaarheid in my hart sou tuisgemaak het. Ek sou vir myself gesê het: Uiteindelik! Uiteindelik het die mense die lig begin sien! Uiteindelik begin hulle verstaan wie Jesus is – dat Hy eindeloos méér is as die Seun van Josef die timmerman, eindeloos méér as ‘n rabbi wat mooi verhale oor die koninkryk kan vertel, eindeloos méér as die uitkoms wat hulle verwag het, wat ‘n ridder op ‘n wit perd hulle sou kon kom gee. Uiteindelik begin hulle verstaan dat Jesus hulle Koning is, dat Hy God se antwoord op die verderf en die stukkendheid van ons wêreld is. Hierdie oomblik op die strate van Jerusalem is ‘n reuse deurbraak vir die koninkryk van God! Hierdie is die begin van ‘n reuse herlewing, mense wat in hulle massas vir Jesus as Verlosser aanvaar en Hom volg!
En hoe verder Jesus die dag die stad binne ry, hoe meer neem die massa-histerie net toe. Oral juig mense Jesus toe as Koning, as die Messias wat eindelik gekom het.
- En dan... die antiklimaks.
En dan, wanneer die feesvieringe net mooi sy histeriese hoogtepunt bereik, trek iets net skielik jou aandag. En jy kyk weer. Jy kyk verstom na Jesus, wat die middelpunt van al die aandag is. En jy sien daar loop ‘n traan oor Jesus se wang. En in daardie oomblik besef ons dat daar iets verskriklik verkeerd is. Daar is ‘n enorme fout. ‘n Totale misverstand.
Te midde van al die uitbundigheid om Hom, loop daar trane oor Jesus se wange. Want Jesus weet dat al hierdie feesvieringe op dees aarde niks beteken nie. Hy weet dat hierdie stad wat so naby aan sy hart is, dat Jerusalem onafwendbaar op pad is na sy ondergang toe. Dat daar vir hulle ‘n baie donker toekoms voorlê, gevul met bloed en rook en die wreedheid van die Romeinse legioene.
Want die Messias na wie hulle so hartstogtelik verlang het, is uiteindelik by hulle, maar hulle herken Hom nie. Hulle is so op hulle eie planne ingestel, dat hulle totaal blind is vir God se groter plan. Ten diepste omdat Jesus net nie is wat hulle wou hê nie! Op ‘n manier het hulle so amper verstaan dat God se plan deurgebreek het in ons wêreld, dat die koninkryk so bitter naby aan elkeen van hulle gekom het, maar op die ou end het hulle ten diepste net nie kans gesien vir God se plan nie. Vir ‘n Messias wat ly, en vir volgelinge wat moet leer om soos kindertjies afhanklik te wees van God, daarvoor het hulle nie kans gesien nie. Dit was net te veel gevra.
Daarom kon daar vir hulle geen redding wees nie. Die vrede wat vir Jesus sóveel sou kos, sou net by hulle verbygaan. Want hulle het gedink hulle weet beter wat vir hulle vrede nodig is...
En so raak die vrolike verhaal waarvan Lukas 19 vertel, ‘n tragedie. Waaraan ek en jy in 2022 weinig kan verander, natuurlik. Behalwe dat dit my opnuut weer ongemaklik maak. En skielik begin ek wonder of my idee van wat vir my vrede nodig is, ooreen stem met God s’n? Hoeveel ek regtig verstaan van hoe sy koninkryk werk?
Maar die vraag wat Lukas 19 eintlik oproep, waaraan ek en jy nie vanoggend kan ontsnap nie, is: Watter soort Messias verwag jy, wat vir jou uitkoms moet bring? Een van jou eie maaksel, wat by jou eie planne inpas? Of kies jy vir God se plan, sien jy kans om alles op die altaar te plaas, en net Hom te dien, ongeag jou eie voorkeure? Verstaan jy meer van die koninkryk, meer van hierdie Messias, as die skare van Lukas 19, wat soos ons weet enkele dae later sou aandring daarop dat hierdie selfde Jesus gekruisig moes word?
En nou raak dit Paasnaweek. Wat vir my en jou ontsaglik naby bring aan die essensie van God se plan. Mag die Here jou oor die komende week aanraak, jou oë oopmaak om te sien wie Hy werklik is, en wat God regtig in jóú lewe wil doen...
AMEN