Filippense 4:1-9

Datum: 15 Oktober 2017

Prediker: Johan Morkel

Die skoolverlaters van vanjaar is my Belydenisklas wat aan die begin van die jaar belydenis van geloof afgelê het.  Baie dankie vir my kollegas wat my die geleentheid gegee het om vanoggend vir die laaste keer met julle as groep te praat.  Met vanoggend se geleentheid sê ons vir die skoolverlaters sterkte vir die matriek-eindeksamen, ons wens hulle seën en voorspoed toe vir die pad vorentoe.  En ons gee vir oulaas vir hulle as groep ‘n boodskap voordat hulle in verskillende rigtings begin spat.  Waaroor praat Paulus in dié gedeelte as hy die brief aan die gemeente begin afsluit, as hy ‘n paar laaste opmerkings oor die geloofslewe maak,iets ten slotte vir hulle oor die Christelike lewenswyse sê(sien die opskrif).  Paulus begin deur te verwys na konflik onder lidmate in Fillipi.  Ek gaan nie iets vanoggend oor konflik sê nie.  Ek gaan eerder iets sê oor woorde wat Paulus in die eerste sin gebruik.  Hoor net weer die woorde wat hy gebruik: getroue medewerker, ander medewerkers, hulle wat saam met my die stryd voer, hulle wat in diens van die Evangelie is.

Wie is die werkers, medewerkers in die gemeente?  Wie is hulle wat “in diens van die Here” staan?   Is dit net die predikante, kategete, kerkraad, koster, orrellis, kantoorpersoneel wat in diens van die Here is?  Die antwoord is natuurlik: almal in ‘n gemeente is in diens van die Here.  Dit is nie so dat net sommiges van die gemeente in diens van die Here is nie, jy jouself kan verskoon en sê dit is ander se verantwoordelikheid nie.  Jy as skoolverlater kan nie maar dink jy het met jou belydenisaflegging arriveer nie, nou hoef jy niks verder te doen nie, jy kan maar nou arms vou en terugsit en verder saam met die stroom gaan!  Nee, vriende, die Bybelse model van gemeente wees, is dat elkeen ‘n werker, medewerker vir die Here is.  Daar vir elkeen van ons iets is om vir die Here te doen, elkeen ‘n gawe ontvang het om die Here mee te dien.  Die vraag wat elkeen van ons moet vra, is: wat doen ek vir die Here?  Waar/wat is my plek om iets vir die Here te doen?  Ook jy as skoolverlater moet in die gemeente waar jy volgende jaar gaan wees, vir jouself duidelikheid kry: Wat wil die Here hê ek moet doen?

Paulus praat voorts oor die hantering van bekommernis.  Elkeen van ons sal iets kan aandui hoekom ons bekommerd sou kon wees.  Elke ouderdomsfase het eise van sy eie.  Dalk sê jy die toekoms maak my bang, my geldsake laat my wakkerlê, my gesondheid maak my bekommerd, my bekommernis is my huwelik, my verhouding met my kinders.  As skoolverlater is dit dalk die matriekeksamen wat voorlê, dalk weet jy nie watter loopbaan om te volg nie, dalk is jy bang jy gaan nie die studies vir jou beroep maak nie.  Ons het die keuse om of bekommerd te wees en te sien wat dit ons in die sak bring.  Of om te doen wat Paulus hier vir ons uitspel:  Paulus sê, maak “in alles” - in elke situasie, by elke geleentheid - dit wat jou bekommer, aan die Here bekend.  Hy gebruik dan ook verskillende woorde: gebed, smeking, danksegging.  Daarmee sê hy: doen dit op allerhande maniere, doen dit in volle afhanklikheid van die Here, nie halfhartig en oppervlakkig nie!   Luister na die belofte wat hierop volg: En God sal jou sy vrede gee, Goddelike vrede, vrede wat net Hy kan gee.  Vrede, so beskryf Paulus dit verder, wat alle verstand te bowe gaan – jy of niemand anders kan dit verstaan of uitdink of fabriseer nie.  ‘n Vrede, sê Paulus verder, waaroor God self sal waak – God sal wagstaan sodat jou vrede nie gesteel word nie.  Ek dink nie ons begryp altyd die waarde van hierdie belofte van die Here nie.  ‘n Lidmaat sê die afgelope week vir my dat die Here besig is om in haar krisis vir haar hierdie vrede te gee.  Mense kan dit nie glo nie, wonder waar haar kalmte vandaan kom, dink daar is fout met haar?  Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan!  Skoolverlaters: Moenie vrede/gemoedsrus op ander plekke soek nie, jy sal dit nie daar kry nie.  Jy kan jouself baie tyd en energie spaar deur in plaas van om vrede in al wat ‘n wêreldse ding te soek, eerder die weg te volg wat hier staan.  Ware vrede en gemoedsrusus lê in oorgawe aan die Here.  Selfs al is jou omstandighede nie daarna nie.  Paulus sit in die tronk terwyl hy van hierdie vrede skryf.

Jou gedagte wêreld.  Ek gaan vir julle ‘n kinderstorie vertel: Buddy was ‘n oulike seuntjie, maar hy het heeldag TV gekyk, internet gesurf en saam met ‘n slegte groep seuns uitgehang.  Een aand tydens aandete sê sy ma hy moet sy sop eet.  Ewe skielik skree Buddy:  “Ek sal nie!”  Die hele familie was geskok.  Buddy het begin huil, dit was nie soos hy is nie.  Die volgende dag het Buddy sy suster se stokkielekker in die modder gegooi.  Hy was baie lief vir sy suster en kon nie verstaan waarom hy so lelik was nie.  Op ’n dag praat Buddy se hoed met hom.  Hy sê vir hom: “haal net my af, dan sal jy sien wat hierdie slegte goed aan jou gedoen het!”.  Buddy wou eers nie, maar toe hy sy hoed afhaal en in die spieël kyk, sien hy sy kop het in ’n asblik verander!  As ons van ons gedagtes ‘n vuilgoeddrom maak: in slegte geselskap is, vuil en lelike grappe vertel, verkeerde dinge praat en luister, pornografie kyk, ons heeltyd met selfgesentreede goed ophou, sal ons koppe só begin lyk.  En sal ons gedrag almeer soos dié van Buddy word!  Daarom sê Paulus ons moet ons gedagtes vul met mooi goed, opbouende dinge, dit wat rein is, edel is, waar is.  Dit geld vir ons almal, oud en jonk!  Skoolverlaters: beskerm jouself teen slegte invloede, pas jou gedagtes op, jou gedagtes is die oorsprong van dit wat jy sê en wat jy doen, jou gedagtes bepaal hoe jy leef, wie jy is!

Wees bly in die Here.  Paulus sê “wees bly in die Here!  As hy nie die woorde “in die Here” by gesit het nie, sou ons miskien ons wenkbroue kon lig.  Ons werk mos nie soos ‘n skakelaar wat net aan- en afgesit word nie.  As ek nou my vingerklap, dan moet ons almal bly  wees?  Dit werk nie so nie.  Ons het alles wat ons het, van die Here ontvang, Dinge soos dat ons ‘n warm en beskutte huis het, dat ons nou ons skoolloopbaan kan voltooi, ons gesondheid, kos en klere.  Dié dinge behoort ons reeds dankbaar te maak, bly te maak!  Maar dit is nie wat Paulus hier bedoel of in gedagte het nie.  Hy sê: Wees bly IN die Here.  Ons het IN die Here soveel ontvang.  Ons het verlossing van sonde ontvang, kindskap van God, om deel van die gemeente te wees, die ewige lewe. Ons het die beloftes van die Here ontvang: dat Hy vir ons sal sorg, Hy altyd by ons sal wees, niks ons sal skei van sy liefde nie.  Hierdie dinge, wat ons “in die Here” ontvang het, maak ons bly.  As ons dit onthou, sal ons minder kla.  Selfs al gaan dit minder goed met ons soos met Paulus, kan mens steeds blywees.  Paulus is in die tronk wat maar ‘n koue en donker plek was.  Gevangenes is aan mekaar vasgeketting en moes hul eie kos en klere voorsien.  Maar dit ontneem nie Paulus van sy blydskap in die Here nie, hy skryf vanuit die tronk aan die gelowiges in Fillipi “om bly te wees”.  Hy gebruik die woordjie “blydskap“ 16x in die brief!

‘n Seuntjie het met 'n skerp voorwerp krapmerke op motors getrek en duisende rande se skade aangerig.  Toe sy ouers hom vra hoekom hy dit gedoen het, was sy antwoord dat hy dit op televisie gesien het.  Een of ander advertensie het gewys hoe 'n persoon krapmerke op motors maak.  Hoekom sou die seun so iets doen?  Mens noem dit modellering.  Die kind het die voorbeeld gevolg wat in die advertensie aan hom gestel is!  Dit is waarmee Paulus die gedeelte afsluit: “En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet dit moet julle doen.  En die God wat vrede gee, sal by julle wees.”  Sommige mag dink dit is verwaand van Paulus om dit te sê.  Ons moet onthou dat daar nie destyds ‘n Bybel was soos ons dit vandag ken nie.  Paulus kon nie die Fillipense verwys na die Bybel nie.  Nou verwys hy hulle na sy eie lewe, en hy sê: doen so!  Ons moet altyd onthou, ons stel die voorbeeld aan ander, ons is die rolmodel van Christenskap vir ander.  Ander sien ons en volg ons na, ons lewens is die boek wat die wêreldling lees.  Dikwels besluit hulle op grond van ons voorbeeld om die Evangelie te glo of nie.  Ons volwassenes moet vir die jongmense ‘n voorbeeld wees om na te volg, En julle jongmense se lewens moet weer ‘n voorbeeld vir ander, vir mekaar en vir julle juniors wees.

Amen.