Efes 3:14-21

Datum: 25 Julie 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Kindermoment: Het julle gesin al ooit iewers op ‘n vreemde plek gery en dan kom jy later agter Pa weet nie lekker waarheen hy op pad is nie. Hy het verdwaal. Maar hy is seker, as hy net so ‘n bietjie soek, sal hy wel die plek kry. Later is Ma se geduld heeltemal op. Sy kan nie verstaan dat hy nie net by die eerste garage of ou langs die pad stop, en vir hom die pad vra nie. Maar Pa wil nie. Hy is seker hy sal self regkom, en hy het regtig nie nodig om vir enigiemand te vra nie. En teen die tyd dat hulle wel die plek kry, praat pa en ma net sulke kort sinnetjies mekaar, en ook net as dit regtig nodig is.

 

Moenie vir my vra hoekom Pa’s dit doen nie. Ek weet nie. Ek weet net ek was al self baie kere in die moeilikheid omdat ek nie net wil stop en iemand die pad vra nie. En moenie vir my sê jy ry net op die selfoon se GPS nie, want hy het my ook al by geleentheid lekker laat verdwaal.

 

Ek moet erken, eintlik is Ma reg. Dis mos net baie eenvoudiger om iemand te vra wat wéét. En nou is dit vir my so wonderlik dat die Here ook vir ons Iemand gegee het wat weet. En jy hoef nie eens af te trek om hom te vra nie, want Hy is die hele tyd by jou! Dis God se Gees, wat binne-in elke kind van die Here woon. As jy nie weet wat om te doen nie, hoef jy nie verder te sukkel en te wonder wat om te doen nie – jy kan Hom net vra.

 

Daardie dag toe Jesus terug hemel toe is, was die dissipels baie hartseer. Hulle kon altyd alles vir Jesus vra, want Hy was net daar, by hulle heeltyd. Maar nou gaan Hy weg, terug na die hemel waarvandaan Hy gekom het. Toe sê Jesus vir hulle: Moenie so hartseer wees nie. Want julle gaan nooit ooit alleen wees nie. Die Here gaan self binne-in julle kom woon, om vir julle te leer en te wys wat julle moet doen. Julle kan Hom net vra, en Hy sal nooit vir julle jok nie. Hy weet altyd wat God wil hê.

 

Jy moet dit onthou. Ons weet nie altyd lekker wat ons moet doen nie. Vra die Here, en wees net rustig. Op die een of ander manier sal Hy jou wys. Dalk lees jy iets in die Bybel, of dalk sê iemand dit vir jou, of dalk wéét jy sommer net skielik. Maar Hy sál op die een of ander manier vir jou wys. Dis hoekom Jesus vir ons die Gees gestuur het, dat Hy vir ons kan wys wat om te doen. Vra Hom net!

 

Volwasse diens: Elke gesin het seker maar sy eie privaatgrappies, waaroor buitestaanders meeste van die tyd net hulle koppe kan skud. So onthou ek die week weer een aand wat ons daar in Noord-Natal almal so om die tafel gesit het - want toe het gesinne nog saans saam om die tafel gesit. En so onder die aandete gaan die krag skielik af. Ek was toe nog op Laerskool, maar ek onthou vandag nog hoe my ma in die geskokte stilte net gevra het: En nou...? En so het dit ‘n gereelde gesegde in ons familie geword, wat ons dikwels aangehaal het. Onthou, dit was natuurlik voordat Eskom ons ligte kort-kort begin afsit het. Vandag wonder ons dalk eerder Wat nou? as die krag aan is...

 

Snaaks hoe sulke goed ‘n mens bybly. Die afgelope week gesels ons weer oor die toekoms van die kerk, en in besonder De Eike se pad vorentoe. Een van die dae, hopelik heel binnekort, gaan dinge meer na normaal toe terugkeer. Ons gaan ons oë uitvee en terugkom kerk toe. Maar na alle waarskynlikheid gaan die hele manier van kerk-wees anders wees as waaraan ons gewoond is. Dalk ten kwade ook, maar heel waarskynlik end-end ook baie ten goede. En wat dan nou? Hoe gaan ons dan kerk wees?

 

Dalk het jy nog nie te veel daaroor gewonder nie. Daar is na alles net te veel ander goed waaroor mens kan wonder. Maar die leiers van die gemeente het nogal wel. Op die oomblik kan ons natuurlik nie bymekaarkom en ‘n dinkskrum daaroor hou nie, en dis dalk ook baie goed. Want al wat ons nou daaraan kan doen, is om daaroor te bid. Maar dalk is dit die heel beste wat ons kán doen. Ons moet bid, met groot oorgawe, dat die Here ons sal lei op ‘n pad vorentoe wat ons glad nie op die oomblik helder kan sien nie.

 

En so kom Efesiërs 3 toe oor my pad. Terwyl ek wonder: Wat nou? lees ek hoe bid Paulus vir die Efesiërs. En toe gaan daar vir my ‘n lig op. Want as ons as gemeente dan voor af gaan begin, lyk dit my is dít die plek om te begin. Want hier hoor ons Paulus bid vir dit wat regtig belangrik is in ‘n gemeente. Dalk het elkeen van ons ons eie lysie van goed wat regtig essensieël is vir ‘n gemeente, maar kom ons vergeet almal eers daarvan. Wat sê die Here, is die basiese boustene van ‘n gesonde gemeente?

 

  1. Die gebed om KRAG.

Die héél eerste ding wat Paulus bid vir die Efesiërs, is dat die Here hulle sterk sal maak. Hulle was nog nie baie lank Christene nie, en nog maar baie onseker. En die wêreld waarin hulle gelewe het, was totaal heidens, vol versoekings. Dit sou eintlik 'n wonderwerk wees as hulle onder soveel druk staande sou bly. En dis vir hierdie wonderwerk wat Paulus hier bid. Dat die Heilige Gees só deel van hulle lewe sal wees dat Hy hulle in elke situasie en voor elke versoeking sal versterk, sodat hulle staande sal kan bly. En dan sou hulle reg wees as die Here weer kom.

 

In 2021 lyk ons wêreld nie eintlik minder heidens nie. En soos die Efesiërs, is ons ook onseker. Dit voel half of ons verleer het om kerk te wees, en niemand weet hoe nou vorentoe nie. Daarom wys Paulus se gebed ons waar ons ook moet begin. Bid dat die Here ons as gelowiges sterk sal maak. Dit gaan ook 'n wonderwerk vra vir jou om in hierdie heidense wêreld end-uit staande te bly. Trouens, ons gaan dit net regkry as God ons self orent hou.

 

En dis die sleutel vir die toekoms. Vir jou, vir jou gesin, en vir die kerk. Die sleutel vir ons kerk-wees in die toekoms lê nie by die kerkraad nie. Dit lê by God self. As Hy deur sy Gees só in jou woon, dat sy almagtige krag  jóú kan dra. As ek en jy totaal oorgegee aan sy Gees lewe, dán sal ons onberispelik voor God kan staan.

 

En daar het ons al ten dele die antwood op ons vraag: Wat nou? Dis nou tyd om sterk te staan in die Here. Dis nou tyd vir ‘n nuwe toewyding, ‘n nuwe commitment. Dis al manier waarop ons kerk sal wees in die nuwe era. Kom ons bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word.

 

  1. Die gebed om LIEFDE.

En wat gebeur, as hierdie krag deur jou bruis? Watter verskil gaan dit in jou lewe maak? Dit gaan jou nie alleen orent hou nie, maar dit gaan jou ook help lewe soos God vra. Die Gees gaan jou help om regtig lief te hê. Dís mos wat die Heilige Gees doen. Hy maak ons vry van onsself, sodat ons nie meer net vir onsself hoef te lewe nie. Hy maak ons ‘n familie, waarin ons mekaar regtig lief kan hê, en waar ons soos een man ‘n verskil kan maak.

 

Die vrug van die Gees is liefde, skryf Paulus aan die Galasiërs. Liefde raak die hoofmotief, die grootste dryfveer van jou lewe. Nou is liefde nie meer iets wat jy doen as jy dalk daaraan dink nie, maar dis wie jy is. Dis jou identiteit. Jy lewe uit God se liefde, sodat sy liefde jou hele bestaan dra, soos die fondament van 'n gebou. Jy kan nie anders nie, want jou hele lewe draai daarom. Jy kan jouself nie help om die wonder van God se liefde te deel nie.

 

Wat nou? Ek vermoed dit is die een ding wat baie van ons bietjie verleer het in die Lockdown-tyd. Om by mekaar betrokke te wees. Maar as ons onsself opnuut weer vir die Here gee, sal Hy self die vlam weer aansteek. Dan sal sy krag weer deur die gemeente bruis, sodat ons sal weet wie ons is in Jesus Christus, en sodat ons regtig lief sal hê.

 

  1. Die gebed om KENNIS.

Maar daar is net een manier waarop ‘n gemeente dit sal kan ervaar. En dis as ons God regtig leer ken. En nie sommer maar net so bo-langs soos ‘n Facebook-friend nie. Nee, dis iets heeltemal anders waarvan Paulus hier praat. Paulus bid dat ons God regtig sal ken - nie net met jou verstand, soos iets wat jy uit ‘n boek geleer het nie, maar op 'n baie persoonlike vlak, soos jy jou lewensmaat leer ken. Dat God nie meer vir jou 'n vreemdeling sal wees nie. Dat jy naby genoeg aan Hom sal lewe om Hom beter te leer verstaan, totdat jy weet wat sy wil vir jou lewe is; wat die beste ding vir jou sal wees om te doen, en die regte besluit om te neem.

 

Natuurlik kan niemand God regtig ken nie. Hy is te groot daarvoor, en sy liefde sal altyd ons verstand te bowe gaan. Maar God wil Homself aan jou openbaar. Hy wil jou toelaat om Hom te ken. Hy nooi jou om die pad só saam met Hom te stap, dat jy elke dag sy teenwoordigheid sal beleef, en sy sorg sal ervaar. Dat jy al hoe vaster aan Hom sal groei soos jou verhouding met Hom al meer verdiep, sodat jy Hom regtig leer ken. Maak dit weer deel van jou roetine om tyd saam met God deur te bring, sodat jou ore fyn ingestel sal wees om sy stem te hoor.

 

  1. Die gebed om VOLHEID.

En so kom Paulus by die boonste trappie. Waar ons eintlik wil uitkom. As jy vol is van God se krag, en al meer van sy liefde ken, omdat jy ook Homself al beter leer ken, sal jy ook al meer wees wat Hy wil hê jy moet wees. Jy sal al meer soos Jesus Christus wees. Ons as gemeente sal al meer soos Jesus wees. Dit is God se hoë ideale vir ons! Hy wil dat ons "gevul sal wees tot die volheid van God". Dat ons uitstyg soos ‘n arend. Daar is net geen beperking in God se ideale vir jou nie!

 

Moenie geestelik klein dink nie. Moenie gou-gou besluit jy is nou verlos en dis eintlik genoeg nie. God wil hê dat jy geestelik hoë ambisie sal hê. Dat ek en jy sal streef na die volheid van dit wat God in ons lewe wil doen. Dis al wat goed genoeg is – vir jou, vir die kerk. Dat jy jou volle geestelike potensiaal sal bereik, en tot eer van God begin lewe, en regtig geestelik volwasse sal wees. God wil jou jou maksimum potensiaal laat bereik.

 

Wat nou? Nou moet jy jou oë sluit en saam met my bid:

 

“Here, ons Vader, aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het, ons bid dat U deur u Gees uit die rykdom van u heerlikheid aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon en dat ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag ons in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag ons u liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag ons heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan U wat deur u krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan U kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.                                                      Amen”.