Matt 6:11
Datum: 20 Mei 2021 (Aanddiens)
Prediker: Hannes Burger
Pinkster 2021 – Here, leer ons bid… “Gee ons ons daaglikse brood”.
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Uiteindelik! Ek sal verstaan as jy vanaand ‘n sug van verligting slaak. Want vandag trek ons al by die vierde bede van die Gebed van Ons Here, en nou kom ons eindelik by ons eie behoeftes uit. En laat ek en jy nou nie vir mekaar jok nie – dis regtig nie hoe ons gebede gewoonlik werk nie. As ‘n reël val ons sommer dadelik met die deur in die huis, en vertel eerste van alles vir God wat ons graag wil hê – wat as jy daaroor dink, nogal nie regtig sin maak nie. Want ons weet mos heeltyd dat die Here baie goed weet wat ons nodig het. Hy het dan self vir ons gesê: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Julle hemelse Vader weet tog wat julle nodig het...
En tog kan ons gewoonlik nie wag om vir die Here te vertel wat ons graag wil hê nie. Maar nou kom leer Jesus vanaand vir ons ‘n baie groot les. Hy kom leer ons om God te vertrou. Só te vertrou met ons alledaagse dinge, só te vertrou met ons kinders en ons kleinkinders, dat ons Hom nie sommer dadelik hoef storm te loop met al ons kwellinge oor hulle nie. Ons kan rustig wees omdat ons hemelse Vader weet wat ons nodig het. Ons kan ontspan en ons eerste konsentreer op dit wat regtig die belangrikste is: die eer en die koningskap en die wil van God.
Maar weet jy wat is nogal vir my kosbaar? Dis vir my wonderlik dat Jesus nêrens sê dat dit wat jy graag wil hê, vir Hom onbelangrik is nie. Vir watter soort pa sou God dan wees, as sy kinders se wense nie eens vir Hom ‘n punt tel nie? Nee, Jesus erken dat ons daaglikse behoeftes ook belangrik is, want Hy wil graag vir ons dit gee wat ons gelukkig maak, maar daarmee saam sê Hy ook vir ons, soos ons soms vir ons kinders sê: Wag net eers ‘n oomblik. Haal net eers diep asem. En vertrou My... Vertrou my sóveel dat jy eerste van alles die koninkryk en die wil van God sal soek. En kyk dan net hoe gee Ek jou die res...
- Wat val jou op van hierdie bede?
Daar is ‘n paar dinge wat ek wil hê jy nogal moet raaksien in hierdie bede. En die eerste is dat ons vir ons “brood” mag bid. Die Here leer ons om vir God te vra vir dit wat ons elke dag nodig het om te kan lewe. As jy hierdie bede bid, bely jy daarmee dat alles van God kom. Alles wat jy elke dag nodig het om van te lewe, kom as genadegawes uit die hand van God. Dis nie jou harde werk wat vir my voorsien, of jou goeie pensioenskema nie.
Dit wat ek elke dag voor my op my tafel sien, is gawes uit God se hand. Ek het daarop geen aanspraak nie, en tog gee Hy dit net vir my omdat Hy my liefhet, en omdat sy genade geen einde ken nie. Wat hierdie bede eintlik is, is ‘n belydenis dat ek nie van dag tot dag sonder Hom kan lewe nie. Ek lewe, omdat God vir my sorg. Ek lewe, omdat Hy vir my my daaglikse brood gee...
En die tweede woordjie in hierdie bede wat jy tog ook nie moet miskyk nie, is die woordjie “ons”. Net weereens herinner hierdie bede ons daaraan dat daar nog steeds geen plek vir selfsugtigheid in ons gebede is nie! Ek bid nie net vir myself nie, maar vir ‘n ganse mensdom wat elke dag van God se sorg afhanklik is, selfs dié wat dit nie eens erken nie, en nooit hierdie bede bid nie. Ons almal het dit nodig, dat God elke dag vir ons sal sorg. Hy gee die oeste op die lande en die gesondheid om te kan werk. Hy sit die kos op ons almal se tafels. En daarmee bid ek ook vir hulle wat nie het nie, en nie so bevoorreg is soos ek nie.
Maar die derde woordjie wat my hier opval, is dat Jesus ons leer om baie spesifiek vir “vandag” te bid. Veral ook omdat ons nie regtig van dag tot dag lewe nie. Ek en Adri gaan koop nie elke dag die kos wat ons ons nodig het nie; ons gaan koop minstens ‘n week vooruit. Dis net soveel makliker as jy ‘n week se voorraad het, want dan is jy nou eers klaar gesukkel. Dan hoef jy nie elke dag weer moeite te doen en winkel toe te gaan nie. Dis net gerieflik om een maal ‘n week sommer als klaar te maak. Maar hierdie bede getuig van iets anders. Dit getuig van ‘n daaglikse afhanklikheid van die Here, van oomblik tot oomblik. En hoop nie iewers ‘n voorraad van God se goedheid in my spens op, ‘n neseiertjie waarop ek kan teer nie. Nee, ek is elke dag van God afhanklik. Hy sorg van dag tot dag vir my, en ek weet dit en erken dat ek nie daarsonder kan lewe nie.
- Jy mag God nader vir dit wat jy nou nodig het!
Maar dalk is die wonderlikste van hierdie bede dat ons dit wel mag bid. Jy mag maar vir God nader met dit wat jy nodig het, en selfs met dit wat jy net doodeenvoudig graag wil hê ook. Hy het ons immers self genooi om dit te doen! In Filippense 4 nooi die Here ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Moet oor niks besorg wees nie. Moenie snags wakker lê totdat jy later ‘n maagseer ontwikkel nie. Kom leer eerder om My te vertrou, sê die Here. Wat in hierdie vertroue lê die sleutel van God se vrede opgesluit. Sê vir my wat jy wil hê, vertrou My daarvoor. En lewe in my vrede...
- Maar bowenal is dit ‘n les in wat jy regtig nodig het...
Ten diepste is hierdie bede dan ‘n belydenis, van hoe totaal afhanklik ek van God is. Natuurlik weet God wat ek nodig het, self voordat ek dit gevra het, en selfs van die goed wat ek nooit geweet het om te vra nie. Maar ek weet ek kan nie lewe sonder Hom nie. Ek is elke dag totaal afhanklik van elke krummeltjie brood uit sy hand. Hy is my Vader, wat in die hemel is...
Daarom kan ek maar eerste van alles die koninkryk soek. En selfs al word my vertroue ook somtyds getoets deur wat oor my pad kom, sal ek aan Hom bly vashou. Selfs wanneer daar dinge gebeur waaroor ek baie maklik sou kon wakker lê, omdat dit voel asof alles nou net buite my beheer is, en asof die toekoms baie donker en onseker lyk, nooi Jesus my om net my oë toe te maak en te bid: Here, ek vertrou U vir alles wat ek vandag nodig het. Sorg asseblief vir my. Want U is my Vader, wat in die hemel is... AMEN