Matt 6:5-8; Luk 11:1

Datum: 16 Mei 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Vra vir enige dominee wat is die gedeelte van die Bybel waarvoor hy die heel bangste is. En ek wil jou amper waarborg hy gaan nie eerste dink aan Esegiël of Openbaring nie. Nee, as die meeste dominees eerlik is, sal hulle vir jou moet erken dat hulle huiwering is om oor daardie stukke van die Bybel te preek wat almal uit hulle koppe ken. Sê nou maar soos oor Johannes 3:16, of dalk ‘n gedeelte soos Romeine 8. Want wat gaan jy daaroor sê wat jy nie alreeds by herhaling gesê het nie? Hoe vat jy ‘n gedeelte soos 1 Korintiërs 13 en maak dit regtig weer nuut, sodat jy kan seker wees mense hóór dit regtig? Ja, sulke óórbekende gedeeltes is enige prediker se nagmerrie...

 

Maar nou is daar ‘n stukkie van die Bybel wat jy selfs nog beter as Psalm 23 ken. Jy en dit al langer as dit uit jou kop  - heel waarskynlik het jy dit al op Laerskool geleer nog voordat die juffrou eers by Psalm 23 uitgekom het. En dis nou by hierdie gedeelte wat ons hierdie week gaan stilstaan. Die gebed wat Jesus by sy kerk geleer het. Ons noem dit die “Ons Vader” maar ek is nogal bietjie jaloers op ons Engelse broers en susters se naam daarvoor. Hulle noem  dit “The Lord’s Prayer” – die gebed van ons Here.

 

En nou het jy sekerlik al baie preke oor die gebed van die Here gehoor. En daarby nog verskeie katkisasielesse, want ons kategismus staan nogal ‘n hele paar geleenthede daaraan af. En vir seker sou jy die “Ons Vader” uit verskillende hoeke kon benader. Jy kan dit as ‘n intensiewe kursus in gebed beskou – maar nou wil ek tog nie graag vir julle in die week wat kom, sewe kategeselesse of lesings gee daaroor nie. Ek sou seker ook as ‘n stok kon gebruik om julle by te kom oor jou eie gebedslewe, en jou elke aand erg beswaard huis toe stuur. Maar nou wil ek jou ook nie so skuldig as moontlik laat voel nie – want ek weet al uit ervaring dat dit niks sal bereik nie. Vroeër of later gaan begin skuldgevoelens weer weggaan, en wat dan?

 

Nee, ek nooi jou om in hierdie sewe geleenthede my te vergesel op ‘n reis deur “Die Gebed van ons Here”. Sodat ons in die proses meer kan leer oor gebed, natuurlik. Maar my eintlike oogmerk is om met jou die oorweldigende gevoel van verwondering te deel wat ek self ervaar het terwyl ek elke dag hiervoor voorberei het. ‘n Ervaring wat ek glo sal maak dat ek nooit weer dieselfde sal wees as ek hierdie wonderlike woorde op my lippe neem nie: “Ons Vader wat in die hemel is...” Mag dít die week jou ervaring wees, mag hierdie wonder jou ook oorweldig, en jou inspireer tot ‘n meer sinvolle gebedslewe.

 

  1. Waarom bid ons?

Maar dalk moet ons net eers iets vra, voordat ons op hierdie reis vertrek. Dalk ‘n bietjie moedswillige vraag, wat baie mense nogal vra: Maar hoe belangrik is gebed nou eintlik? En ek kan hulle nogal nie kwalik neem as hulle daaroor wonder nie. Want dit lyk asof die meeste Christene eintlik heeltemal goed oor die weg kom sonder dat hulle hulle baie moeg maak oor gebed.

Die ou dae van lang gebede in die kerk in die kerk is verby. Kyk maar as die dominee vandag geleentheid gee vir gebed, hoe bitter min mense het die vrymoedigheid om deel te neem. Ons gemeente se gebedsbediening bestaan uit drie of vier tannies wat elke Vrydagoggend vir die hele gemeente kom bid. Maar ook as ons bietjie na ons eie lewe kyk, lyk dit regtig nie of gebed vir ons ‘n prioriteit is nie. Eintlik kom ons heel goed klaar daarsonder, behalwe miskien vir ‘n geykte gebedjie voor ete of net voor ek die lig afsit in die aand.

 

Miskien wil jy selfs verder gaan, en my vra of dit regtig ‘n probleem is? Ek meen, hoekom is gebed dan belangrik? Ek meen, wat is die sin van gebed as God tog in elk geval alles van my weet? Hy weet presies wat ek nodig het voordat ek my mond oopmaak? En het Hy nie in elk geval lankal besluit wat gaan gebeur nie? Wat help dit dan ek bid?

 

As jy so sê, verstaan jy gebed nog heeltemal verkeerd. Want baie mense dink gebed werk soos daardie lysie wat Ouma elke week vir Adri Whatsapp, van al die inkopies wat sy die week nodig het. En as dít jou gebedslewe is, dat jy elke dag net jou inkopielys vir God deurgee met al jou behoeftes, mors jy vir seker jou tyd. Want God weet dit alles lankal. Maar die punt van Matteus 6 is, dit is NIE wat gebed is nie. Gebed is oneindig meer as dit!

 

  1. Die versoek van Jesus se dissipels:

So dalk moet ons eerder begin deur te vra: hoekom kom die dissipels dan toe daardie dag na Jesus toe en vra Hy moet hulle leer bid? Ek dink dis omdat hulle in Jesus se lewe gesien het watter verskil ware gebed kan maak. Hulle het gesien Jesus se batterye is ook ook maar pap nes ons s’n. Maar dan verdrwyn Hy stilletjies en gaan soek sy Vader op en dan kon hulle sien watter geweldige verskil ‘n lewende gebedsverhouding maak. Hulle het Jesus met geestelike krag sien optree, vanuit die bron wat sy kommunikasie met sy Vader was.

 

En dis wat hulle bietjie jaloers gemaak het. En dis wat ek ook mis. En dis hierdie krag wat jy ook mis in jou geestelike lewe. Gebed is die geheim. God wil hê ons moet bid, sodat Hy die krag wat Jesus uit die dood opgewek het, in jou lewe kan laat werk. Gebed is die sleutel wat die almag van God in jou eie lewe kan ontsluit. S?ó belangrik is gebed.

 

  1. Gebed is ‘n daad van gehoorsaamheid.

Hoe belangrik bely ons kerk dan nou, is gebed nou eintlik? En nou moet jy mooi luister, want dis dalk die belangrikste ding wat ons heel week gaan sê. Op grond van die Woord sê die Kategismus dat gebed “die vernaamste deel van ons dankbaarheid” is. En as jy dink dat dankbaarheid die belangrikste dryfveer van ons geloofslewe is, en dat dit alles wat ons doen en sê bepaal, begin jy dalk verstaan hoe belangrik gebed is.

 

Daarby, sê die Katagismus, is gebed deel van ons gehoorsaamheid aan God. Dis nie iets wat ons doen omdat ons so lus is nie – dis iets wat ons doen omdat God van ons vra, nee, omdat God van ons eis om dit te doen. Dis hoekom dit in die kerk bekend staan as een van die “geestelike dissiplines”. Jy mag nie wag totdat jy eendag daartoe voel om te bid, of dalk diep genoeg in die moeilikheid is dat jy lus sal wees om te bid nie. In ons verhouding met God vra Hy dat jy met Hom sal praat. En ook nie net in die verbygaan of in geykte frases wat jy al hoeveel keer gesê het nie. Want dis nie hoe kommunikasie in ‘n verhouding werk nie.

 

Maar tog is dit nie ‘n sware verpligting wat God op ons lê nie. Want hoe kan dit nou ‘n straf wees om te praat met die een wat jy regtig liefhet? Dis nie ‘n moeilike wet hierdie nie. Daarom noem hulle dit ook “die asemhaling van die geloof”. Dis eintlik die natuurlikste ding onder die son vir elke gelowige. Dis ‘n spontane stuk dankbaarheid teenoor God, jou Vader, wat vir jou só eindeloos goed is.     Dis die “vernaamste deel van ons dankbaarheid”.

 

En dit alles begin by die eindelose verwondering dat ons mag bid. Dat ek en jy mag sê “Ons Vader” en weet dat Hy hoor. Omdat Hy belangstel. Omdat Hy jou liefdhet. En soos met enige kommunikasie, hoe meer jy dit beoefen, hoe meer raak dit ‘n spontane gesprek tussen jou en God. En dan is dit bitter ver van ‘n “wishlist” af. Dis ‘n gesprek...

 

Wanneer jy dan bid, vergeet van jouself. Vergeet al die mooiklinkende formules, al die  holrug geryde frases. Gaan soek iewers ‘n lek waar jy regtig net stil kan word. Dis eintlik die heel belangrikste, baie belangriker as groot woorde; word net regtig stil. En praat met God...

 

AMEN