Matt 6:10b

Datum: 19 Mei 2021 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 

En so het ons nou al gevorder tot by die vyfde byeenkoms van ons Pinksterreeks oor die Gebed van ons Here. By die derde bede: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Langs die pad het ons ons verwonder aan daardie wonderlike openingswoorde, waarin Jesus ons oproep om God “Ons Vader” te noem en in verwondering voor Hom te verskyn. Daarna het ons geleer dat die hoogste prioriteit waarvoor ons kan bid, nie ons eie dingetjies is nie, maar die eer van God, en vir die koms van sy koninkryk. En so kom ons dan vanaand by die derde bede. Dis nie verniet dat teoloë dit “die moeilikste bede van die Ons Vader” noem nie, wanneer Jesus ons leer om vir God te vra: “Laat U wil geskied...”

 

As ons oor die wil van God nadink, voel dit meeste van die tyd vir ons of dit ‘n baie duistere, ingewikkelde saak is, waarvan ons min weet en eintlik nog minder verstaan. Maar weet jy, dis nie heeltemal waar nie. Want ‘n groot deel van God se wil het Hy self baie duidelik aan ons bekend gemaak. Dit staan swart op wit in die Bybel. Ons noem dit die geopenbaarde wil van God. Kom ons neem ‘n voorbeeld: As God vir jou sê: “My wil is dat jy God bo alles sal liefhê en jou naaste soos jouself” is daar niks vaags daaraan nie. Dit sê presies wat sy wil vir jou lewe is. Dis wat God wil hê, en dis geen geheim nie. Dis staan baie duidelik in die Bybel, en al jy hoef te doen, is om dit te gehoorsaam, sonder kompromie en sonder om teë te praat!

 

En selfs die dele van sy wil wat jy nie in die Bybel opgeskryf sal kry nie, is God bereid om met jou te deel. Dis tog presies hoekom Hy sy Gees vir ons gegee het, om ons te lei sodat ons sal weet wat sy wil is. Dis dalk nie altyd vir ons so glashelder nie, maar ons kan tog God se wil soek met die hulp van die Heilige Gees wat vir ons gegee is om ons te lei in die waarheid.

 

Dis dan die geopenbaarde wil van God. Maar dan is daar natuurlik ‘n tweede deel van God se wil wat ons nie altyd so maklik verstaan nie. Dis die wil van God soos dit afspeel in ons lewe van eke dag. Die ou mense het dit genoem die bestiering van God. Dis hoe God dinge volgens sy wil laat gebeur in ons wêreld. Meeste van die tyd is dit vir ons moeilik om te verstaan, soos die digter tereg gesê het, soos ‘n Wag-‘n-bietjieboom, waaraan geen mense regtig vat kan kry nie. Ons verstaan nie die moeilike dinge wat oor ons pad kom, die lyding van ons wêreld en die pyn wat mense – baie keer onsself - ervaar nie.

 

Maar anders as die geopenbaarde wil van God wat ons moet gehoorsaam, vra hierdie deel van God se wil iets heel anders van ons. Na alles het jy mos nie juis ‘n keuse daaroor nie. God vra jou dus nie om dit te gehoorsaam nie. Nee, vir hierdie deel van God se wil word jy opgeroep om God net regtig te vertrou, en sy wil in kinderlike afhanklikheid te aanvaar. Om daarby te berus.

 

 

  1. God se wil is nie vir ons ‘n geheim nie (Miga 6:8)

Nou dit klink alles baie mooi, maar wat is die wil van God dan nou eintlik? Wel, die eerste belangrike ding oor die wil van God is dan dat dit nie vir ons ‘n geheim is nie. Jy hoef maar net te luister wat die profeet Miga vir ons sê oor die wil van God: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid.” Die Here het jou bekend gemaak wat sy wil is. Met ander woorde, jy weet wat Hy wil!

 

Dit klink of dit alles vreeslik eenvoudig moet wees. Maar nou is daar tog ‘n probleem. En daardie probleem is dat God se wil dikwels reëlreg teenoor ons eie wil staan. Ons weet baie goed wat Hy wil, maar ons is nie lus om dit te doen nie. Ons verkies om dit nie te doen nie, want dis net vir ons makliker en geriefliker om te doen waarvoor ons lus is. En so ignoreer ons God se wil. Ons bely dat Hy ons Koning en ons Here is, maar ons maak eintlik hoegenaamd nie soos Hy vra nie....

 

En dit bring ons by hierdie derde bede van die “Ons Vader”. En as jy waag om hierdie bede te bid, maak jy doelbewus ‘n keuse. Jy kies doelbewus vir die wil van God; dat God ons deur sy Gees in staat sal stel om te maak soos Hy van ons vra, en nie soos ons selfsugtige, sondige natuur ons lei nie. Ons kies hiermee om ons kruis op te neem en Hom te volg soos Hy vra. Die keersy daarvan is natuurlik dat jy kies téén jou eie wil. Met hierdie bede sê ons vir God: U is my Here en my Koning. Ek kies vir U wil en nie vir hoe ek wil nie. Ek kom offer my eie voorkeure aan U.

 

En dis nogal baie gesê. Daarom sê ek: dis ‘n gevaarlike bede hierdie, en jy moet baie mooi dink voordat jy waag om dit te bid...

 

  1. Maar daar is ook ‘n deel van God se wil wat ons nooit verstaan nie

Maar dis nie al wat hierdie bede sê nie. Want dit gaan nie net oor die geopenbaarde deel van God se wil, die deel wat vir ons uitgespel is nie. Dit gaan ook oor die tweede deel, die deel wat ek en jy nooit sal verstaan nie. Wat dan nou daarvan? Wel, die eintlike vraag is net: hoeveel vertrou jy regtig die Here? Met jou totale lewe, en al jou omstandighede? Dan is die antwoord eenvoudig. Dan kan jy maar waag om te bid: Laat u wil geskied...

 

Aan die ander kant is hierdie bede natuurlik ook nou weer nie so erg soos dit dalk mag klink nie. Want ons weet mos baie goed dat God vir ons baie lief is, en dat sy wil vir ons die heel beste is. Dis dus geensins ‘n waagstuk om Hom te vertrou nie. Inteendeel, wanneer jy bid dat sy wil geskied, bid jy as kind van die Here inderdaad die beste gebed wat jy maar vir jouself kan bid. Jesus het ons mos self verseker dat God nie sal toelaat dat daar letterlik ‘n haar van jou kop af sal val sonder sy instemming nie, sê Jesus self. Ek weet ek is God se kind en Hy sorg vir my.

 

En al verstaan ek glad nie wat met my gebeur nie, mag ek weet dat ek in die beskermende hand van God lewe. Al gaan my pad ook deur die donker dieptes. Selfs al draai ek in die operasiesaal of Intensiewe Sorg-eenheid, en selfs al moet ek by ‘n oop graf staan, sal ek nie bang wees nie. Ek sal Hom bly vertrou, want ek weet Hy sal my altyd vashou. Hy sal my nooit prysgee nie. Ek is veilig by Hom.

 

En dis dan die tweede implikasie van hierdie gebed. Dis ook ‘n verbintenis om God te bly vertrou. Nie met ‘n fatalistiese gelatenheid van “wat sal gebeur sal gebeur” nie, maar soos ‘n kindjie, in absolute vertroue...

 

  1. Daarby is dit ‘n gebed vir God se wil oor die hele aarde

Maar weereens is dit natuurlik ook ‘n bede wat ek ten slotte natuurlik ook nie net vir myself bid nie. Want die wil van God geld nie net vir my in my klein hoekie nie. Daar is ‘n wye wêreld wat niks weet of verstaan van God se wil nie, en ek bid dat Hy self ook sy wil daar waar sal maak. Sodat die duiwel nie in ons wêreld sy sin sal kry nie. Maar dat God ook vir my sal gebruik, en vir my die krag sal gee om sy wil waar te begin maak, oral waar ons kom. Dat ek van die wêreld die soort plek sal maak, wat God wil hê dit moet wees. In hierdie bede meld ek aan vir diens vir God om my te gebruik om sy wil waar te maak...

 

Ons bely dat God se wil goed is. Die beste is. Vir my, vir jou, vir ons wêreld. Dis nie ‘n opoffering om te bid dat sy wil sal waar word nie. Dis die héél beste wat jy van God kan bid...

 

AMEN