Matt 6:9a

Datum: 16 Mei 2021 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 

Vanoggend het ons so ‘n bietjie begin praat oor gebed. Gebed, wat iemand genoem het “die asemhaling van die geloof” omdat daar geen lewe in jou geloof kan wees daarsonder nie. Gebed wat ons Kategismus noem die vernaamste deel van ons dankbaarheid, dit wat by uitstek wys dat ons God waardeer en dit wat Hy as Vader vir ons doen en beteken. Op die ou end het ons vanoggend afgesluit met die oproep: Gaan soek dan net iewers ‘n bietjie privaatheid op, sit af jou selfoon en die TV, en gesels bietjie met God...

 

En wat nou? Wat gebeur nou, as jy gekies het om gehoorsaam te wees en die oop deur na God toe te benut? Ek is bevrees die meeste van die tyd staan ons verleë, en weet nie wat om te sê nie. Gebed behoort vir ons soos asemhaal te wees, maar dit kom nie so natuurlik nie. Ek wonder hoeveel mense het oor die afgelope dertig jaar in De Eike vir my gesê: Nee wat, bid jy maar. Jy het mos op universiteit geleer om dit te doen. Asof jy iewers ‘n graad moes kry voordat jy met jou vrou kon gesels het. En as ek reg onthou, was daardie eerste paar woorde vir die jong meisie op wie jy verkief geraak het, vir die meeste van ons ook maar destyds erg ongemaklik. Jy het toe ook nie geweet wat om te sê nie. Maar dit het jou nie gekeer nie. En kort voor lank het die verhouding begin ontwikkel en het dit net al beter gegaan. Tot julle ure lank kon klets. En vandag weet sy al wat jy dink sonder dat jy jou mond oopgemaak het.

 

Dis hoe dit werk in ‘n verhouding. Jy gaan dalk aan die begin effe ongemaklik wees, maar druk net deur. En as jy nie weet wat om te sê nie, moenie alleen voel nie, want Jesus se dissipels het ook nie geweet nie. Dis mos hoekom hulle vir Jesus gevra het...

 

Gaan word dan net in jou kamer stil word en praat met God. Roep Hom dan aan as “Ons Vader             wat in die hemel is...” En weet jy wat? Dis eers genoeg! Jy hoef eintlik vir eers niks meer as dit te doen nie. Want hierdie sewe woordjies omvat eintlik die hele evangelie. Dit sê eintlik klaar alles...

 

  1. Ons mag Hom “Ons Vader” noem.

Noem net God “Ons Vader”, en laat die verwondering jou oorweldig. Want agter hierdie woordjies lê daar soveel onverdiende liefde en genade opgesluit, dat dit jou verstand laat duisel. Daaragter sit die totale verlossingswerk van Christus, die wonder dat Hy kans gesien het om vir ons mens te word, om ons skuld op Hom te neem en so die verhouding te herstel met die Een wat ons gemaak het.

 

Jy moet as’t ware die sewe woordjies rondrol in jou mond; sê dit oor en oor totdat jy dit proe, totdat jy iets begryp van die absolute wonder wat daaragter lê: Ons Vader wat in die hemel is...

 

“Vader” is nie ‘n titel waarop jy sommer enigiemand noem nie. Dis die grootste eretitel wat daar bestaan, al is ons as menslike vaders dit selde waardig. Maar God is! En as jy God ons Vader noem, sit daaragter ‘n belydenis van totale vertroue en oorgawe. Dan sê jy daarmee vir God soos Paulus: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”

 

Maar wat my elke keer tussen die oë slaan, is die kinderlike eenvoud waarmee Jesus ons leer om God aan te spreek. Ek onthou ‘n oom in my kinderdae wat altyd die Here in sulke groot woorde en verhewe taal kon aanroep, wat die een titel vir God na die ander een kon opstapel, en dan wonder ek maar so op my eenjie: wanneer in my lewe gaan ek dit eendag kan doen? Hier leer Jesus my dat dit totaal onnodig is. Dis nie ons eie welsprekendheid en kennis van groot woorde wat maak dat God na ons luister nie. Hy hoor die kinderlike afhanklikheid wat straal uit die eenvoud van ‘n kinderstemmetjie wat na sy pa roep.

 

  1. Maar Hy is baie spesifiek “Ons” Vader...

Maar dalk moet ek jou tog net daarop wys dat Jesus ons leer om God aan te spreek as “Ons Vader”. Daarmee herinner Jesus ons daaraan dat ons deel van ‘n familie is. Hy is jóú Vader, inderdaad, maar jy gaan nooit alleen tot Hom nie. Ware gebed kan nooit selfgerig en selfsugtig wees nie. Wanneer jy stil word voor God, gaan dit ook nie in die eerste plek oor jou nie.

 

Dit gaan ook nie regtig oor jou woorde nie. Want God laat Hom nie deur woorde beïndruk of mislei nie. Voordat jy jou oë toegemaak het, het Hy reeds die gesindheid van jou hart gelees. Hy weet presies wat in jou hart is. En daar soek Hy die kinderlike respek en afhanklikheid wat uit die woorde straal wat Jesus ons geleer het. En, natuurlik, as jy regtig kan sê “Ons Vader wat in die hemel is” beskerm dit jou daarvan dat die res van jou gebed ‘n arrogante bestellingslys word van alles wat jy graag wil hê God moet vir jou doen, asof Hy vir jou werk.

 

  1. Maar Hy is ook “in die hemel”...

‘n Laaste opmerking: dis interessant dat Jesus ons leer om God aan te spreek as “Ons Vader wat in die hemel is...” Dit herinner jou onmiddellik daaraan, dat God gans anders is as jy. Hy is nie aards soos ons nie. Hy is eindeloos verhewe bo ons, die Een wat ontoeganklike lig bewoon, die eindeloos heilige God. Hy is nie ons gelyke en ons maat nie. Hy is dikwels vir ons totaal onbegryplik en oorweldigend. Daar kan nooit sprake van familiariteit wees tussen my en God nie. Ek kan net tot Hom bid, as ek onthou dat Hy God is...

 

Maar juis daarom kan ek tot Hom bid, want Hy is verhewe bo ons wêreld en ons alledaagse probleme. Hy is die Almagtige wat nie raadop staan teenoor jou dilemmas nie. Hy kan help. Sy krag en sy wysheid is onbeperk: Hy is nie aards soos ons nie! Hy is ons Vader wat in die hemel is...

 

“Die Aanhef van die gebed is alreeds ‘n gebed op sigself” skrywe die Nederlandse teoloog H. Veldkamp. Eintlik hoef jy net dít te prewel: Ons Vader wat in die hemel is...AMEN