Matt 6:12

Datum: 23 Mei 2021 (Oggenddiens)

Prediker:

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 

Iemand skrywe oor die laaste bede van die “Ons Vader” en sê dis dalk vir onsself die belangrikste bede van almal. Dis vir ons selfs nog ‘n belangriker bede as die een wat dit voorafgegaan het, waarin ons vir ons daaglikse behoeftes gebid het. Want vir seker het jou liggaam brood nodig om te lewe, maar jou siel, sê hy, het vergiffenis nodig om vir ewig te lewe. Daarom is daar niks belangrikers wat jy van God kan vra, sê hy, as vergiffenis nie. En nou weet ek nie lekker of mens die bedes van Jesus se gebed so teen mekaar kan afspeel nie. Maar een ding is seker: hierdie is vir die Here ‘n ontsaglik belangrike gebed. As jy net vir een oomblik nadink oor wat hierdie vergiffenis Hom alles gekos het, begin jy iets verstaan van hoe belangrik hierdie bede vir God is.

 

Vir God is niks belangriker as om die muur tussen Hom en sy kinders af te breek nie. Die muur wat sonde opgebou het tussen en skeiding gebring het tussen die Here en die skepping waarvoor Hy so lief is nie. Dit moes sy hoogste prioriteit wees, anders sal Hy immers mos nie sy eie Seun gegee het as offer om daardie vergiffenis en hierdie nuwe verhouding waarin ons nou mag lewe, moontlik te maak nie.

 

  1. Hierdie bede is ‘n belydenis

Maar nou skrywe iemand anders vir my iets oor hierdie bede wat my nogal laat nadink het. Hoe verklaar jy dit, vra hy, dat ons hierdie bede sommer so maklik bid, en sonder om vreeslik te wroeg ons skuld voor God bely, terwyl ons duisend dode sal sterf voordat ons teenoor ons eie lewensmaat sal erken dat jy ‘n fout gemaak het, en daarvoor om verskoning sal vra? Jy bid baie maklik: “Vergewe my al my sonde”, maar selfs nie eens vir die persoon naaste aan jou kan jy sê: Vergewe my, ek het verkeerd gemaak” nie. Wat sê dt vir jou? Vra hy. Hoekom sou dit wees? En dan waag hy self die antwoord: Is dit nie dalk omdat ek en jy nie regtig verstaan wat ons sê, as ons ons skuld voor God bely nie?

 

Ons verstaan nie regtig wat sonde is nie, want ons is meesters daarin om vir sonde mooi naampies uit te dink, wat my Afrikaanse Juffrou genoem het “eufemismes”, versagtende naampies sodat dit darem nie só erg klink nie. Ons vertel onsself baie gou dat almal dit maar doen. Niemand is sonder foute nie en my eie foutjies is definitief nie die ernstigste  waarvan ek weet nie – ek hoef nie eens voor die Zondo-kommissie daaroor gte getuig het nie Nee wat, eintlik is ek heel oraait.

 

Maar as jy gesê het “Ons Vader wat in die hemel woon” staan jy gestroop voor God. In God se teenwoordigheid kan jy maar net absoluut eerlik wees met jouself. Hier kan jy geen rol speel nie. En alle versagting en eufemismes val weg soos mis voor die son. En dan hoor jy die harde woord wat ons eie belydenisskrif vir jou gebruik. Die kategismus noem ons “misdadigers”... Die ou liedjie het gepraat van ‘n lysie wat jy van jou seëninge kan opstel, maar jy moet dalk ‘n slag ‘n lys maak van maniere waarop jy die wil van God in jou lewe al oortree het. Dán sou jy regtig verstom staan oor so ‘n katalogus van al die maniere waarop jy God al teleurgestel het en steeds elke dag teleurstel.

.

Maar natuurlik doen ons dit nie. En om eerlik te wees, dis ook nie regtig nodig, as jy glo in Jesus en glo dat hy vir al jou sonde betaal het nie. Dan staan jy net voor God en ervaar dieselfde wonder wat ons met die eerste bede beleef het, as jy net in ‘n enkele kort sinnetjie mag sê: Vergewe my my sondes...

 

  1. Om so eerlik voor God te staan, maak ons vry.

En die groot wonder is, as jy hierdie bede bid, maak dit jou vir die eerste keer werklik vry. Vir die eerste keer sedert die mens met God wegkruipertjie probeer speel het in die tuin Eden, het jy niks om vir God weg te steek nie. Dis tog wat dit beteken as ons oor Jesus bely, in Jesaja se woorde: “Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom...

 

Jesus het mos een maal die storie vertel van die man wat die miljoene rande skuld kwytgeskeld is, meer as wat hy ooit in sy leeftyd – of in ‘n paar leeftye - sou kon terugbetaal. En as jy in God se teenwoordigheid staan, besef jy terdeë dat daardie man van Jesus se storie jy is. Jy is die een wie se hemelhoë skuld vergewe is, sonder dat jy ‘n greintjie daarvan verdien het. En dan begin jy iets begryp van die wonder dat jy hoegenaamd daar kan staan. Dat jy hoegenaamd mag sê: “Ons Vader wat in die hemel woon...”

 

  1. Vergiffenis lei tot ‘n nuwe leefstyl.

Maar net soos in Jesus se storie in Matteus 18, eindig die gebed ook nie daar nie. Want vergiffenis is nie net iets wat jy ontvang nie. Dis by uitstek ook iets wat jy dan uitdeel. Soos ‘n aflosstokkie wat jy aangee. Om krampagtig die aflosstokkie vas te klou soos ‘n kleinnood, beteken net dat jy gediskwalifiseer sal word. Aflosstokkies is bedoel om aan te gee. Net so ook vergiffenis. Vergiffenis is bedoel om aan te gee, en nie om by jou te stop nie.

 

Dis juis die probleem met die man in Jesus se storie. Hy het nie regtig verstaan wat in die troonsaal gebeur het, die omvang verstaan van die genade wat aan hom bewys is nie. Toe gaan hy maar net aan met sy lewe asof daar niks gebeur het nie. Dit kan nie wees nie! sê Jesus. As jy enigsins verstaan wat in die troonsaal met jou gebeur het, sal jy ook vergewe sonder om boek te hou van hoeveel keer. Daarom is hierdie bede ook ‘n verbintenis tot ‘n lewensstyl van liefde en vergiffenis. Waarin ek my Vader se voorbeeld sonder kompromie volg. Waarin ek vergewe soos Hy my vergewe het. Eers dán lewe ek regtig soos sy kind, en is die sonde se houvas op my regtig gebreek. Daarom bid ek nie net vir vergiffenis vir dit wat verby is, vir reeds gedaande sonde nie.

 

Ek bid ook vir die pad vorentoe. Dat God my sterk sal maak teen die suigkrag van die sonde, my staande sal hou in die lewenslange stryd teen die Satan en teen die stuk boosheid wat in my oorbly, vir die res van my lewe. Maar weereens sou dit ook nie help ek bid dit, en dit bly net daarby nie. Daarom verbind ek myself ook deur hierdie bede om met alles in my te stry teen die sonde. Om te breek met dit wat ek weet verkeerd is in my lewe, en die nuwe lewe in Christus met oorgawe te leef. Want ek kan tog nie bid “Verlos my van die Bose” as ek self aktief met hom flankeer nie. Daarom neem ek standpunt in teen die sonde, en skaar my onherrroepelik by “My Vader, wat in die hemel is...”

 

En so sluit die Gebed van ons Here met ‘n frase wat blykbaar oorspronklik nooit deel van die teks was nie. ‘n Latere toevoeging. En nou hou ek persoonlik regtig nie van latere toevoegings tot die Bybel nie, maar vir hierdie een maak ek die uitsondering. Want waar ek oorweldig staan in die teenwoordigheid van soveel genade en sorg, in kinderlike afhanklikheid voor my Vader, kom hierdie woorde amper vanself: “Aan U behoort die koninkryk, en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid.

 

AMEN.”