Romeine 9:30 tot 10:21

Datum: 28 Mei 2017

Prediker: Chris Barnardo

28 Mei 2017
Pinkster: Christus het my vrygemaak, daarom sal ek kaalvoet gewillig bly
Laai lêer af om later te luister (7,84MB)

Ek het nog nooit in my hele lewe iemand hoor sê: “Ek het te veel geloof nie.”

En nog nooit het ek in die Bybel gelees dat geloof in volumes afgelewer word nie.

Groot gelowiges kry iets soos 1 Gigabytes se geloof en kleiner gelowiges 500 MB, of so iets nie. Geloof is nie ’n item of ’n kommoditeit waaroor ekself beskik nie. Geloof is ’n verhouding met die lewende God. Dit is ‘n vaste vertroue dat die Here getrou is. Geloof is om Hom ernstig op te vat as Hy sê Hy is ryk in genade en dat Hy my in Christus raaksien. Geloof is nie iets wat in myself gesetel is nie. Dit is nie ’n deug of prestasie nie. Geloof is leeg; dit is volledig gerig op die Here. Geloof laat my wegkyk en opkyk. Geloof laat my met bedelaarshande voor God staan omdat ek weet dat ek totaal van Hom afhanklik is. As God my nie genadig is nie, is daar vir my geen hoop nie. As Hy my nie optel en my gebede verhoor nie, is alles net ’n gejaag na wind. Geloof vat God ernstig op vir hierdie, sowel as die toekomstige lewe. Dit verwag alles van Hom en van Hom alleen.

Martin Luther het iets daarvan verstaan. Na baie ure, dae, maande , jare as monnik in ’n klooster. Baie tyd in afsondering, hoor hy God se stem!

DIE GENADE ALLEEN

In 1545, ’n jaar voor sy dood, word ’n uitgawe van sy werke in Wittenberg gepubliseer. Luther word die geleentheid gegee om ’n voorwoord te skryf vir een van die volumes. Hy gebruik dit om te reflekteer oor die begin van sy loopbaan in Wittenberg.

Hy skryf: As jong priester het ek genade nie verstaan nie. Regverdiging deur geloof het ek gehaat. Ek is ’n sondaar voor die Here. Deur baie ure, dae en maande het die Here aan my die volgende openbaar. Die regverdiges sal leef deur die geloof. Regverdiges leef deur hierdie geskenk van die Here. Naamlik geloof. Van daardie oomblik af het die Bybel vir Luther ’n ander betekenis gekry.

Tim Keller skryf die volgende:

"It is only in the gospel of Jesus Christ where you get the verdict before the performance,” Ware woorde!

Genade is God se enigste roete.

Sy waarheid gebeur nooit los van sy genadige verhoudings met mense nie.

Genade is nie iets wat die Here bewys totdat dit nie meer werk nie, en dan probeer Hy iets anders.

Immers, God se genade is nie iets nie maar Iemand.

Genade het ‘n eksklusiewe naam: Jesus Christus!

Sy genade het ook ’n eksklusiewe roete: dit gebeur wanneer Jesus kruis toe stap met al ons sondes en gemors op sy skouers. Dit gebeur as Hy daar met ons plekke ruil.

Dit gebeur nou nog elke dag as Hy saam met ons stap en oor en voor met ons begin - ook wanneer ons gebede leweloos teen ons eie huis se plafon vasslaan.

Of as die lewe ons magteloos laat.

Of as ons lewens nie uitwerk soos wat ons gehoop het nie.

Of as ons net keelvol en moeg geleef is.

Of as ons vir God vir die hoeveelste keer in die steek gelaat het…

Genade is om te weet niks wat ons ooit gedoen het; op die oomblik doen, of in die toekoms gaan doen, kan maak dat God meer of minder van ons hou nie.

Hy het ons in elk geval lief!

En om dit stamelend agterna te bid …en te glo.

Genade is om te weet selfs ons min geloof, ons klein geloof en ons on-geloof bring nooit ‘n einde aan God se verniet-genade nie.

Nooit raak sy liefde of ontferming teenoor ons op nie.

DAAROM KYK ONS ANDERS

Daarom dat sy genade tot gevolg het dat ons anders kyk na die lewe, na ons kinders, ons verhoudings, ons werk en ons kerk. Genade maak nie dat ons die waarheid systap nie, maar dat ons mekaar juis hiermee in die oë kyk.

Dan praat ons nie meer oor mekaar, of neem besluite oor mekaar agter mekaar se rug nie, maar doen lewe saam van gesig tot gesig!

Want God leef so saam met ons elkeen.

Daarom wil ek my skoene uitrek. Ek wil kaalvoet gewillig bely dat genade al die verskil in die wêreld maak! Ek wil nie meer stilbly nie. EK wil getuig van God se genade.

NET EEN BUITENGEWONE DING IS NODIG IN DOODGEWONE MENSE SE LEWENS

‘n Lewensingesteldheid van genade kan soms al die verskil in die wêreld maak.

Mens leer nogal baie van die krag van ingesteldhede wanneer mens kyk na die 1981-treffer-fliek Chariots of Fire.

Die fliek vertel die verhale van twee atlete wat albei goue medaljes gewen het tydens die 1924 Olimpiese Spele in Parys. Die eerste persoon wat in die fliek uitgebeeld word is Harold Abrahams.

Abrahams het die eerste plek behaal in die honderd meter resies vir mans.

Hy word geskets as ‘n toegewyde maar komplekse mens wat geweldig worstel met sy eie identiteit en self-waarde.

Hy was byna obsessief daaroor dat hy moes wen en in ‘n gesprek met sy afrigter net voor die skoot klap openbaar hy sy houding oor die wedloop wat voorlê. Hy noem die wedloop:

“… ten lonely seconds to justify my existence.”

So ‘n houding mag jou dalk dryf tot hoë hoogtes.

Wanneer jy dink dat jou bestaan elke dag regverdig moet word deur die kwaliteit van lewe wat jy leef, dan kan so ‘n stukrag merkwaardige dinge laat plaasvind.

Dis egter slegs goed wanneer jy aanhou wen.

Wat doen jy wanneer jy verloor?

Of wat maak jy wanneer jou lewensmaat van jou skei?

Of hoe beheer jy hoe jy voel wanneer jy jou werk verloor?

Soos baie mense vandag hardloop Abrahams dus om aan homself waarde en betekenis toe te ken.

Die tweede karakter wat in die fliek na vore kom is Eric Liddell. Hy was byna as legende beskou wat die eerste prys behaal het in die vierhonderd meter vir mans.

Liddell kom ook voor as ‘n uiters toegewyde mens maar met ‘n heel ander ingesteldheid teenoor sy moontlike prestasie. Alhoewel hy ook kompeteer om te wen, is daar nie die obsessie soos by Abrahams nie.

In ‘n gesprek met sy sussie, Beckie, verduidelik hy waarom hy hardloop:

“Beckie, I believe God made me for a purpose. He also made me fast. And when I run I feel his pleasure!”

Deur die loop van die fliek is dit duidelik dat hy nie hardloop om God se plesier te verdien nie maar omdat God se plesier oor sy ganse lewe geskryf staan.

God se oortreffende liefde vir hom is dus sy identiteit en genade is daarom sy ingesteldheid.

Prestasie is vir hom ook belangrik maar sy self-waarde hang nie daarvan af nie.

Hy hardloop want God het hom lief ongeag wat gebeur.

Hy leef en presteer dus vanuit die genade en rus van God!

Dan is daar nie die druk om te móét wen nie maar om slegs te doen wat jy kan.

En wanneer jou beste nie goed genoeg is nie dan dra die genade van Jesus jou!

So baie mense beweer dat hulle Jesus volg maar hulle self-waarde is steeds gebou op hoe goed hulle doen,

hoe suksesvol hulle kinders is,

hoe belangrik hulle in ander mense se oë en in hoe ‘n mate hulle presteer.

Sulke mense raak gou moeg en afgemat en word dikwels teleurgestel.

Hulle voel dikwels moedeloos, kan selde stil sit om te ontspan en stel soms onmoontlike standaarde aan die mense rondom hulle.

En dit terwyl Jesus alreeds in hulle plek, namens hulle, alles gedoen het om hulle ‘n kraakvars, splinternuwe identiteit te gee naamlik dat hulle onvoorwaardelik geliefd is.

Mag ons ook soos Liddell sê: “When I run I feel his pleasure!

SLOT

Daar is vir jou plek aan die Here se voete.

As jy vanoggend jou plek bespreek kan ons oorgaan tot dade. Want doen is gestetel in wie jy is voor Jesus.

Ons kan in hierdie land die gety draai.

Ons kan kom hoor in die komende week terwyl ons by Jesus se voete sit, wat gedoen moet word.

Is jy gereed om hierdie reis saam met medegelowiges aan te pak? Met toewyding?

As jy nie jouself commit nie gaan jy jou tyd saans mors om die aande se dienste by te woon. As doen nie voortspruit uit daardie diep rus aan die Here se voete nie, is dit streskos.