Lukas 3

Datum: 28 Mei 2017

Prediker: Chris Barnardo

28 Mei 2017
Pinkster: Christus het ons vrygemaak om in geloof kaalvoet gewillig anders te kyk
Laai lêer af om later te luister (11,23MB)

Iewers het die idee in my eie kop posgevat ek moet ekstra geld hê voordat ek iets kan weggee, of ‘n bydrae kan maak vir die Here se werk. Dalk het dit gebeur toe die diaken in my kinderdae vir die kerk kom kollekteer het by ons huis. Een keer het ek vir hom gevra of ek ook ‘n paar sent mag bydra. Toe het my pa en die diaken gelag en verder gesels. Tog het ons almal iets om met mekaar te deel. Selfs diegene met twee stelle klere op hulle naam, het een stel om te deel, sê Johannes die Doper. Vrygewigheid het niks te make met die oorvloed of gebrek aan dinge op jou eie naam nie. Vrygewigheid is eerste ‘n hart-ding. As die Here jou hart aangeraak het om mededeelsaam te leef, dan klou jy nie aan jou besittings vas asof jou lewe daarvan afhang nie. Dan is jou hart vry en jou hande oop. Dan gee jy. Jy gee jouself. Jy gee jou tyd. Jy gee jou aandag. Jy gee jou talente. Jy gee jou sente en rande. Jy deel jou hulpmiddels. Jy gee jou hart. Jy gee jou hart want Jesus laat jou anders kyk!

Anders kyk na mense. Elke dag is dit vir baie mense ’n stryd om oorlewing. Baie families kry swaar. Vir sommige is dit vanselfsprekend dat ’n gesin hoofsaaklik uit ’n pa, ’n ma en kinders bestaan. Die werklikheid is egter dat kerngesinne soos die, eerder die uitsondering as die reël is. In die grootste deel van die samelewing is moeders verantwoordelik daarvoor om kinders groot te maak. Hulle doen dit na die beste van hulle vermoë met beperkte bronne tot hulle beskikking.  In die meeste arm gemeenskappe is, is vroue dus paradoksaal die mense met die grootste invloed maar die minste mag. Die vraag aan myself is heeltyd. Hoe gee ek troos aan hierdie mense?

Wat van die kinders? Hulle verstaan glad nie.

OORGANG

Die vraag is wat die kerk hiermee maak? Die oë van geloof behoort ons tog anders te laat kyk na diegene op die rand van die samelewing. Ons, die kerk van die Here is mos gestuurdes met ’n opdrag. Ons is Dissipels. Jesus se voltydse navolgers. Groei en verandering is hulle stapelvoedsel. Koue informasie en lewelose rituele is nie hulle kos nie. Dissipels van die Here laat toe dat Hy gedurig aan hulle beitel, kap, saag en snoei. Terwyl ander net bid, is dissipels alreeds deel van die antwoord op hulle eie gebede. Hulle bid nie net nie, maar doen ook. Hulle hoop nie net nie, maar gee in God se Naam uitdrukking aan hulle verwagtings. “They walk their talk;” “hulle loop hulle praat.” Hulle gee gedurig uitdrukking aan hulle gedagtes oor hoe om God te verheerlik. Hulle sing nie net hulle geloof nie, maar leef dit. Hulle liefde vir die Here gee aanhoudend af op hulle harte, woorde en lewe. Dissipels van Jesus se vingerafdrukke vertoon altyd iets van die Here se deernis. In hulle voetspore is die regte roete aanwysers te sien wat lei na God se ewige stad. Hongeriges kry brood by hulle. Stukkendes ontvang ‘n pleister of twee. Jesus se hemelse lig skyn elke dag ‘n klein stukkie helderder in al sy dissipels se omgewing. Hulle geloof gebeur voltyds. Hulle liefde vir die Here is aanhoudend; hul omgee vir ander mense ook.

KYK DE EIKE ANDERS?