Romeine 8:19-21

Datum: 1 Junie 2017

Prediker: Chris Barnardo

1 Junie 2017
Pinkster: Christus het ons vrygemaak om vir God se skepping te sorg
Laai lêer af om later te luister (5,90MB)

Paulus se brief aan die Romeine vervul ’n mens met verwondering. Ja, dis al meer as 1960 jaar  gelede geskryf, iewers tussen 55 en 57 nC.

En nog steeds laat dit jou na jou asem snak. Paulus het  natuurlik nie sy brief in hoofstukke geskryf nie, maar wat ons vandag as Hoofstuk 8 ken, is werklik  iets waaraan ’n mens jou kan verwonder.

Hier vertel Paulus ons hoe ons as vrygemaaktes kan lewe.

Die Christene aan wie Paulus in Rome skryf, was aan baie staatsdruk uitgelewer, aan baie  versoekings, ja, selfs aan vervolging.

Jy kon nie binne daardie konteks in jou loopbaan vorder as jy  nie vir die Romeinse gode wou offer nie.

Jy kon selfs jou lewe verloor, en beslis jou vryheid.

Paulus skryf aan hierdie mense oor die wonder van lewe as ’n vrygemaakte mens.

Maar waarvan  maak ons geloof in Christus ons vry?

Ek kan ten minste 5 dinge sien waarna Paulus in hierdie hoofstuk verwys.

  1. Vrygemaak om in God se heerlikheid te deel In Romeine 8:18.
  2. Vrygemaak om nuut te lewe. Ons hele skrifgedeelte, die voorafgaande en opvolgende dele ingesluit, ruik nuut. Dis soos wanneer ’n mens ’n nuwe kar koop. Jy kan nie ophou om die nuutheid daarvan te ruik nie. So is ons geloof in  Christus ook. Dit oortuig ons om te glo daar is nie ’n einde nie. Alles word gedurig nuut.  Ons kan elke dag met die geloof opstaan dat vandag nuut sal wees. Dat ons nuwe kanse sal kry om  ou dinge reg te maak. Dat ons nuwe oplossings vir ou probleme sal kry. Dat ons nuwe moed vir ou  moedeloosheid sal kry.
  3. Vrygemaak om sonder bekommernis en vrees te lewe. Die hele brief aan die Romeine vertel dat ons vrygemaak is ? ook van ons bekommernisse – en veral  van ons vrese. Die Romeinse Christene het dikwels gevrees vir hulle lewens. Paulus ook. Maar  Christus maak ons vry van ons vrese, want God maak alles nuut.
  4. Vrygemaak om sin te gee aan ons lewens. Die waarde wat ons in Christus het ? die hoop, vryheid en nuutheid wat dit ons gee – dit maak dat ons lewens sin het. En ons kan sin maak uit ons lewens.
  5. Ons is vrygemaak om vir God se skepping te sorg..

Maar wat  bedoel Paulus met “die skepping”?

Waarna verwys hy?

Wel, hy verwys na die plante en die diere. Dis  so eenvoudig as wat dit is.

Die skepping is deur God geskape.

Dis immers hoekom dit “die skepping” genoem word. Dis geskape.  Dis nie iets wat ons geskep het nie. Ons het dit van God gekry om te onderhou.

God het ons  vrygemaak ? nie om oor die skepping te heers asof ons dit kan misbruik en uitput soos ons wil nie.

Ons moet meehelp om die skepping vry te maak.

Die skepping moet vooruitgaan en nie terugval in  verwaarlosing of oorweldig word deur skadelike gasse en so warm begin kry dat die pole smelt nie.

In die natuur word die skepping self en natuurlik herskep; dit kan elke dag nuut word en nuwe saad  en geboortes voortbring.

Maar mense gebruik die skepping op sodat dit nie self kan vernuwe soos  God se doel daarmee was nie.

Die skepping het waarde omdat dit deur God geskape is. Dis wat ons moet respekteer en koester.

Maar die skepping het sy doel verloor. God se doel met die skepping was dat mense, diere en plante hier  saam sal woon en mekaar sal onderhou, sodat God se heerlikheid sal toeneem na mate ons daarvan  deel word.

Maar ons is vrygemaak om die skepping te onderhou en nie langer te misbruik nie.

Hier beteken  “vrygemaak” dat ons nuwe insig het, dat God ons aangestel het oor die skepping, nie om dit op te  gebruik nie, maar om die waarde daarvan te erken wat God daaraan toegeken het.

Die skepping sal volledig vernuwe word.

Volgens ons teksgedeelte glo ons ook dat daar ’n tyd sal  kom wanneer Christus oor ’n nuutgemaakte aarde sal heers en daar geen meer trane en verlies sal  wees nie.

Tot daardie tyd kom, moet ons as vrygemaaktes saam met die skepping leef – saam deel  van God se heerlikheid, saam waardevol omdat God waarde aan almal en alles gee, saam aangewese  om mekaar te vernuwe.

Daar moet heeltyd vernuwing plaasvind. Die skepping mag nie verwoes word nie. God se skepping mag nooit uitgeroei word nie.

Deuteronomium 22:6-7 bied ’n verrassende kyk op God se hart.

Kom ek lees dit vir julle. Deuteronomium 22:6 en 7

“Wanneer jy afkom op ’n voëlnes in ’n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie. Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy ’n lang lewe hê.

Hier word vir die Israeliete gesê dat hulle nie voëlneste mag plunder terwyl ’n ma op haar eiers sit nie.

Ten minste moet sy toegelaat word om weg te vlieg.

Vers 7 voeg by dat dit goed sal gaan met diegene wat hierdie voorskrif gehoorsaam. Hulle sal ’n lang lewe geniet.

Kan jy dit oorvertel! God se gedetailleerde versorging van sy skepping is so sterk in die fokus hier.

Die Here kan dit nie vat dat mense links en regs sy skepping plunder en verwoes nie.

Nie net renosters nie, maar ook voëls maak vir Hom saak.

So ook honde, katte, en al die ander diere.

Ons godsdiens moet daarom ook skeppingsdiens insluit.

Dit is ons roeping om God se skepping te help oppas.

Van daardie heel eerste oomblik af dat God mense gemaak het, was dit die geval.

Nie eens Adam en Eva se droogmaak-episode daar in Genesis 3 het dit opgehef nie.

Ons kan nie wegkyk as selfs die kleinste diertjies verwaarloos  ons word nie.

Of as waterbronne besoedel word, en die skepping vergiftig word met koolstofdioksied nie.

God verwag van ons om sy skepping sommer vandag nog te beskerm op elke manier wat ons kan.

WAT MOET ONS DOEN?

Ek bid:

  • Here, gee ons die krag en insig om mekaar en die skepping te vernuwe. Laat ons mekaar vrymaak tot nuwe lewe, elke dag.
  • Here, help ons om die waarde in ander raak te sien. En in onsself. Maak ons vry om die waarde in mekaar en in die skepping raak te sien – en te vier.
  • Here, dankie dat U ons waardevol gemaak het, en sin aan ons lewens gegee het. Laat ons  saam met die skepping die doel nastreef wat U vir ons het.