Lukas 15:11-24

Datum: 4 Junie 2017

Prediker: Chris Barnardo

Die vraag waarmee ons vanoggend konfronteer word, is: “Kan genade opraak?

Ouers droom mooi drome oor hulle kinders. Ouers koester ideale vir hulle kinders en hoop dat hulle suksesvol sal wees in alles wat hulle aanpak. Dis hoe ouers aanmekaargeweef is.

Ek glo dat elke ouer daagliks Lukas 2: 52 bid en hoop dat hulle kinders soos Jesus sal grootword. En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Maar soms gebeur die onvoorsiene. Die ontnugtering gevolg deur die vraag: Wat het ek as ouer verkeerd gedoen? En dan die reaksie. Woede, teleurstelling.

Ek onthou dit soos gister toe ek as Jeugwerker in my studentedae in Brackenfell saam met die kinders geloof ontdek het.

Dit was ‘n Saterdagnag, baie laat, toe die voordeurklokkie lui. Half deur die slaap het ek my pad gevoel-voel tot by die voordeur gevind.

Hy het daar gestaan. Hy was in skok. ‘n Pa wat woedend is. Hy vertel my dat sy seun en sy vriende laatnag op die parkeerterrein by Tygervallei, met hulle motorfietse, doghnuts gaan gooi het. Ek weet nou nog nie wat dit is nie.

Die Polisie het sy seun gearresteer en in die vangwa gelaai.

Die pa en ma was op pad terug na ‘n heerlike aand saam met vriende by die lekker kuier-eetplekkie. Hulle het by rooi verkeerslig tot stilstand gekom. ‘n Polisievangwa het langs hulle ingetrek en ook tot stilstand gekom.

Die pa het regs gekyk. In sy seun se gesig vas wat by die venstertjie van die vangwa uitgekyk het. Hierdie pa kon nie glo wat hy sien nie. Laatnag, op pad terug van vriende, op ‘n stil pad, by ‘n rooi verkeerslig, sien hy sy seun in die vangwa sit. Die pa het dit verloor.

Nou staan die pa voor my deur. Barney, jy moet help. Ons moet my seun uit die selle kry. Maar voordat dit gebeur soek ‘n paar minute alleen met hom in die selle.

“My geduld met hierdie kind is op,” het hy vir my gesê. “Ek het hom genoeg kanse gegee om sy lewe reg te ruk… Nou gaan ek dit in hom infoeter!”

”Jy gaan niks van daardie soort doen nie," het ek vinnig geantwoord. “Skree op my en slaan my, maar as jy jou kind gaan haal, dan doen jy dit soos die verlore seun se pa."

Hy en ekself was vir ’n oomblik geskok. Want hy was ’n “gesiene kerkman” en ek die jeugwerker wat as oud soldaat nog moes leer dat jy nie golwe in ’n gemeente maak nie.

GENADE RAAK NIE OP NIE

“Genade raak nie op nie,” het ek die stilte deurbreek. “Nie aan hierdie kant van die graf nie…

As God bereid is om sy oordeel tot die allerlaaste toe uit te skuif, dan moet jy en ek dieselfde doen. Dan moet ons vir mekaar genadig wees.”

“Te duiwel daarmee. My kind sleep my naam deur die modder.”

“Ek beloof ek sal al die modder van jou lyf afspuit. En van jou naam af. Maar nou het jou kind ’n pa nodig, nie ’n bokser nie. Gaan wees dit vir hom, soos die Verlore Seun se pa, bedoel ek!"

Een ding wat ons nooit mag doen nie, is om mekaar af te skryf as ons van mekaar verskil.

Of as ons mekaar teleurstel. Ja, ons mag nooit die waarheid laat val nie.

Maar as ons idee die waarheid maak dat ons mekaar sommer net so kan verloor, dan mis ons die waarheid …

Nog erger, dan mis ons genade!

Immers, as die pa van die verlore seun hier in Lukas 15 bereid was om daardie einste kind wat hom prakties dood verklaar het terug te vat, dan moet ons dit ook met mekaar doen.

As ’n pa van daardie tyd begin om sy seun tegemoet te hardloop. Dit was ongewoon. In daardie tyd het Pa’s na niemand toe gehardloop nie. Dan kan ons dit ook doen.

By God is genade altyd die hoofroete. En dit gebeur in verhoudings, van in-huis tot op-pad saam met Jesus.

WEES ’n BIDDENDE OUER

Dit is 'n gegewe dat ons as ouers foute gaan maak.

Foute is die storie van ons lewe. Ons almal maak dit.

Diegene wat dit nie maak nie, jok. Of hulle leef in ontkenning.

Nogtans is dit een van die swaarste dinge ooit om te herken ons maak foute.

Dit voel kompleet of ons foute ons karakter ontbloot. Ons voel dit laat ons sleg lyk wanneer ons ons foute erken omdat dit ons krake en tekorte ontbloot. Fout!

Dis nie waar nie! Sulke eerlikheid wys juis dat ons mense is. En dat ons eg en broos is.

Dit bevry ons van daardie kunsmatige “beeld-poets” oefeninge waar ons ’n vals beeld van onsself moet voorhou aan ander.

Dit bevry ons van die druk om iemand te probeer wees wie ons nie regtig is nie.

Hoor hier, ons geloof maak ons nie foutloos nie.

Ons geloof maak ons lief vir God en ander, met ons eie feilbaarheid en al.

God se genade is juis bedoel vir onvolmaakte mense soos onsself.

Jesus se genade roep elke keer uit dat ons foute nooit die laaste sê in ons lewe het nie.

Daar is meer aan ons as ons jongste mislukkings.

Ons is begenadigdes. Ons is kinders van die Allerhoogste.

Ons vind skuiling by Hom.

Foute is ons besigheid, maar genade is God se besigheid.

In Christus vat Hy ons soos wat ons is, maar genadiglik los Hy ons nooit daar nie.

Daarom groei ons altyd deur ons foute. Ons leer hieruit om nederig te wees en alles van die Here te verwag.

Daardie seun het sy ouerhuis onder moeilike omstandighede verlaat. Hoogspanning. Gebreekte harte.

Tog is daar kinders wat die huis verlaat met mooi herinneringe. Alle kinders moet tog een of ander tyd die huis verlaat.

Daar is egter een ding wat jy as ouer nie mag nalaat nie en dit is gebed vir jou kinders. DIS JOU GEESTELIKE ERFLATING.

Jy sal nooit 'n perfekte ouer wees nie, maar jy kan 'n biddende ouer wees.

Niks wat jy ooit kan doen as ouer, sal meer vrugte dra as jou gebede nie.

Met ons kinders, wat reeds die huis verlaat en twee alreeds getroud is, het ek agtergekom dat ek nou selfs meer vir my kinders bid, as toe hulle klein was.

Hoe bid ons  vir ons volwasse kinders?

* Ons bid vir hulle vir wysheid. As die kinders nog in die huis is, kan jy vir hulle help keuses maak en hulle steun op hulle ouers se wysheid.

Nou bid ek vir hulle dat hulle selfstandig sal wees en dat die Here vir hulle die onderskeidingsvermoë sal gee om die kaf van die koring te skei.

Ek bid feitlik daagliks die woorde wat oor Jesus gesê is in Lukas 2:52 oor hulle af: " En so het Jesus groot geword en in wysheid toegeneem..."

Mag ons kinders soos Jesus in wysheid toeneem.

* Ons moet bid vir hulle finansies. Ons, wat al 'n bietjie ouer is, weet hoe ons die sente moes omdraai in ons jare as jong werkendes/getroudes.

Ons moet bid dat die Here ons kinders sal help om hulle geld wys te bestuur, dat hulle goeie rentmeesters sal wees en dat die Here in hulle finansiële behoeftes sal voorsien.

* Die heel belangrikste: Ons moet bid dat ons kinders se liefde vir die Here sal toeneem en dat hulle daagliks in 'n persoonlike verhouding met Hom sal leef.

Ek weet dat as hulle die pad saam met die Here stap, hulle die sin van die lewe sal besef en dat hulle ook die storms van die lewe sal kan aandurf.

* Ons moet bid dat hulle hulle geloof sal uitleef en besef, dat hulle eintlike roeping is om 'n verskil in ander mense se lewens te maak.

Mag hulle besef dat hulle elke dag die kerk van Jesus vir ander is. Mag hulle woorde, maar veral hulle dade, mense vir Jesus se koninkryk werf.

Soos wat 'n mens se volwasse kinders die huis verlaat, voel dit asof jy nie meer regtig 'n doel in hulle lewe het nie.

Nou het jy egter eers 'n doel: BID vir hulle! Jou gebede is jou grootste  nalatenskap vir jou kinders.

En onthou, GENADE KAN NIE OPRAAK NIE! Hardloop hulle tegemoet, soos die verlore seun se Pa. Omhels hulle, maak hulle vry om te leef, laat hulle jou sagte genade beleef. Onvoorwaardelik liefde. Bly jy as ouer op die hoofroete. Die pad wat oortrek is met genade.

Genade met die eksklusiewe naam: Jesus Christus!  Jesus wat met ’n kruis na Golgota stap en daar met ons plekke ruil.