2 Korintiërs 4
Datum: 30 Mei 2017
Prediker: Chris Barnardo
Die land brand, en ander hooplose opmerkings!
By sosiale geleenthede, rondom die braaivleisvure, tydens daardie eerste koffie vroegoggend by die werk, by familie-kuiers, saam met vriende, langs die sportvelde terwyl ons kinders deelneem, vind daar gesprekke plaas wat simptomaties is van ’n geestelike paniektoestand.
Baie mense sê dat die land brand en kyk waar gaan alles heen! Ek kry die gevoel dat mense dit regkry om mekaar in ’n depressie in te praat.
So baie mense sit op moedverloor se vlakte. Ons is nou te oud om ons wortels uit te trek. Die kinders moet maar besluit of hulle ander heenkome vêr van hierdie gemors wil gaan soek.
Wanneer ek na die nuus kyk wil dit voorkom asof dit nie net ons land is wat brand nie.
Bomme by groot samekomste. Voertuie wat in hordes onskuldige mense injaag. Noem maar op. Dwarsoor die wêreld heen kan niemand se veiligheid gewaarborg nie.
Tog hoor ek baie dit wat klink soos ’n refrein. Die land brand!
So ook daardie hooplose vraag wanneer daar diep in die braaivleisvure gestaar word: “Waar gaan alles heen?”
OORGANG 1
As ek sulke taal hoor, en dit meestal onder gelowiges, dan wonder ek of ons al ooit die Nuwe Testament behoorlik gelees het wat gedurig vertel dat swaarkry, teenstand en vervolging metgeselle van gelowiges aan hierdie kant van die graf is?
In die woorde van Paulus in 2 Korinthiërs 4 dra ons altyd die dood van Jesus saam met ons.
Ons dra eerste ’n kruis en dan eers ’n kroon, nooit andersom nie.
Dis asof gelowiges regoor Suid Afrika, en ook elders op die planeet, in een of ander geestelike paniektoestand verval het.
Orals slaan mense in geestelike sweet uit.
As ek die Bybel reg verstaan, behoort ek en jy as kinders van die Here, hakke in te kap en die leiding vir ’n slag te neem.
Geestelike leiers staan nie net op kansels nie. Geestelike leiers sit vanaand in hierdie kerkgebou. Elkeen van ons, brandend, hoopvol en vol passie om sin in hooplose omstandighede te bring.
WAT STRAAL ONS UIT NA BUITE?
Is ons nie juis in ’n tyd soos hierdie geroep om met ’n vaste vertroue en ’n diep innerlike vrede ons hoop in die lewende God uit te straal nie?
Moet ons oog nie slegs op die Here wees, en nie op ons eie omstandighede nie?
Moet ons nie ’n slag net ophou om te vertel hoe sleg dit orals gaan nie?
Hoekom is swaarkry en slegte omstandighede die enigste hefbome wat maak dat ons onsself nou voor God moet verneder?
Moet dit eers droog wees, of sleg gaan in die wêreld voordat ons voor God buig?
Jakobus roep ons in hoofstuk 4:10 van sy brief op om onsself altyd voor die Here te verneder, nie net wanneer dit swaar gaan nie. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
God sien die nederiges raak, maar Hy verwerp die hoogmoediges.
God is altyd naby ons. Dit is ons troos. Daarom kan en moet ons die vure van hooploosheid rondom ons blus!
SLOT
Christus het ons vrygespreek om anders te werk te gaan.
God ontferm Hom oor ons. Daarom word ons nie moedeloos nie.
Daarom vermy ons praktyke wat nie die lig kan verdra nie.
Daarom vervals ons nie die woord van God nie.
Daarom verkondig ons nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here.
In ons harte skyn daar ‘n lig wat ons verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.
Maar alles in ag genome.
Ons is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
Net soos Piet gisteraand gesê het. Hy kan nie daardie ISIS terroris liefhê nie en Jesus wat vir hom se: Jy is reg, ek weet jy kan nie, laat my toe om deur jou liefde te betoon.
Liewe vriende, Christenskap is nie vir sussies nie. Voortdurend word ons ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood.
Voel jy soms ook so? Opgebruik?
Maar dan het ek en jy die opdrag dat die lewe van Jesus sigbaar word.
Sigbaar daar langs die sportveld, om die braaivleis vuurtjie, by die werk tydens daardie eerste koffie terwyl die nuus bespreek word.
En dit is ‘n moeilike alleen paadjie waaroor ons môreaand gaan gesels.