Prediker 6:12
Datum: 29 Maart 2020
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Inleiding:
Dalk laat die stukkie wat ons uit die Bybel gelees het, jou vanoggend skielik regop sit. Jy wonder seker of dit nie darem ‘n verskriklik vreemde boodskap is, vir ‘n land wat tans onder die skadu van ‘n dodelike virus leef nie? Ek meen, dis regtig nie asof die boodskap van Prediker 6 ‘n mens vreeslik gaan opbeur nie. Prediker is na alles die ou wat ons nog laas heeltyd herinner het daaraan dat alles maar net op sy tyd gebeur: daar is ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. Elke ding het sy tyd, en dit help nie eintlik jy gaan jou vreeslik afsloof nie - alles kom op die ou end tot niks...
- Die Bybel hou rekening met die onsekerheid van ons bestaan.
Goed, laat ek maar erken, dit is regtig nie baie opbeurende leesstof nie. Maar dis juis vir my die groot wonder van die Bybel: dit probeer nie vandag vir jou ‘n droomwêreld skets, en voorgee dat alles net voorspoedig sal gaan, en niks slegs ooit sal gebeur nie. As dit so was, sou dit eintlik vir ons heeltemal niks te sê gehad het nie, want ons weet almal ons wêreld waarin ek en jy elke dag leef lyk nie so nie. Nee, ek is bevrees die Prediker is reg. Daar ís inderdaad ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te gaan... of soos vers 12 dan ook vandag ons aan herinner, ons weet eenvoudig nie wat môre vir ons inhou nie
En as daar nou een ding is wat regtig ernstig op ons senuwees werk en ons gespanne maak, is dit die onbekende. Verlede week het ek in die E-Nuusbrief die term gebruik dat ons nou vaar in “ongekarteerde waters” – dis waar ons nou is. Ons word nou gekonfronteer deur ‘n situasie wat ons nog nooit geken het nie en waar ons nog nooit was nie. En as ons al ooit die noodvraag van vers 12 gevra het, dan is dit nou die vraag wat op ons almal se lippe is: “Wie kan vir ons sê wat wag...?” Ons wens so ons het gewéét...
- Die Prediker gee nie dadelik die antwoord nie.
Maar nou kom gee die Prediker nie dadelik vir ons sulke klinkklare, helder antwoorde nie. Hy begin nie dadelik vir ons in detail verduidelik wat al die antwoorde is waarna ons smag nie. Om die waarheid te sê dis juis presies wat hierdie boek sulke morbiede leesstof maak: die skrywer is die slimste ou wat daar nog ooit was, en nog altyd kom hy net met geen konkrete antwoord vorendag nie. Al die baie vrae wat hy so aanmekaar vra, bly net so onbeantwoord in die lug hang...
Maar nou is ook dit mos nie vir ons vreemd nie. Want ons verstaan dit eintlik ook baie goed; want ons self weet meeste van die tyd ook nie wat die antwoorde is nie. Ons het nie ‘n kristalbal wat vir ons helder en duidelik wys wat wag vir ons in die toekoms vir Suid-Afrika, en wanneer hierdie bedreiging van hierdie virus verby sal wees en die lewe weer sal kan aangaan, sodat almal weer kan kom en gaan soos hulle wil nie. As jy vir my vra, voel dit eintlik vir my ook ons lewe op die oomblik ook soos die skrywer sê, soos skaduwees, elkeen afgesonder in ons eie huis, afgesluit van mekaar.
En steeds weet ons nie wat “in hierdie wêreld sal gebeur” nie...
- Die antwoord.
En so laat die Prediker ons dan tot in die laaste verse van sy boek wag vir die antwoord. En selfs dit is nog altyd nie die logiese verklarings wat al ons nuuskierigheid sal bevredig nie. Nee, sy antwoord het my eerder laat dink aan aan van ons kweekskooldosente. Hy het destyds gepraat oor al ons vrae oor die swaarkry in ons wêreld: “God gee nie vir ons die antwoorde nie”, het hy gesê. “Hy gee vir ons die Antwoord.”
Hy gee nie vir ons logiese antwoorde op al ons lewensvrae nie. Maar Hy gee vir ons iets eindeloos beter as dit: Hy gee vir ons Iemand wat by ons kom staan, en ons trane afdroog. Hy gee vir ons die Trooster, wat ons kom leer wat regtig die sin in hierdie chaotiese wêreld is. En daarom sal jy ook nie hier in die Predikerboek al die logiese antwoorde op ons lewensvrae aantref nie. Met ander woorde: Jy gaan nie verstaan waarheen God met ons op pad is nie. Jy gaan nie verstaan hoekom so baie mense seergekry het met hierdie virus, op so baie maniere nie. En enigiemand wat vir jou ‘n maklike, klinkklare antwoord uit sy mou probeer skud, kry dit vir seker nie by God nie.
Want die slotsom van dit alles is nie dat jy alles sal verstaan nie. Nee, in Prediker 12:13 lees ek: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie” (12:13). Die antwoord in hierdie deurmekaar wêreld met sy baie krisisse en vrae, is om by die Here skuiling te soek. Naby aan die Here, gaan jy nie noodwendig alles skielik verstaan nie, maar jy gaan die vrede vind van ‘n kind wat weet dat ons veilig is in sy Vader se hand. En weet jy, as ek verder blaai in die Bybel, is dit op die ou end ook presies wat ek in die Nuwe Testament ook vind.
Want daar lees ek van die slag wat Jesus vir ons gesê het: Moenie jou ontstel as jy in isolasie moet gaan en in jou eie huis vasgekeer word, vol onsekerheid oor wat buite aangaan nie. Oenie vreesbevange wees, omdat jy nie weet wat die toekoms inhou nie. Want Ek sal heel tyd saam met jou dáár in jou huis wees. Vertrou my net. Los dit in my hande, en Ek sal vir jou sorg...
Goed, dis natuurlik nie presies die woorde wat Jesus gesê het nie. Maar aan die ander kant, is dit eintlik. Want wat Hy gesê het, is: “Kyk Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld”. Kyk... jy sal dit sien en beleef. Ek sal daar wees vir jou en jou mense. Want weet jy, Ek het mos belowe dat niks julle ooit uit my hand sal kan ruk nie. Vir seker ook nie Covid-16 virus nie. Al wat ek van jou vra is: Bly glo net, en vertrou My... want jy is veilig in my hand...
AMEN