Jesaja 51:1-16
Datum: 19 November 2017
Prediker: Hannes Burger
Waar ek vandaan kom, was familiebande verskriklik belangrik. In daardie wêreld het hele families baie keer sommer dieselfde bynaam gedeel, wat van geslag tot geslag oorgedra is, al was dit dalk nooit eers om mee te begin besonder vleiend nie. Dikwels het ‘n paar geslagte in dieselfde omgewing bly woon, saamgeboer en as ‘n hegte eenheid saam die droogtes trotseer. Famieliebande was geweldig belangrik. Maar later in die stad het ek gou agtergekom dat dat ons moderne mense hier nie meer so voel nie. Ons het iets vergeet van familiebande. Die indiwidu het vir ons al belangriker geraak. Jy moet self kies, self iets van jou lewe maak. Dié dat ons kinders deesdae die wêreld vol is – hulle is onafhanklike, selfstandige mense.
Dit het selfs oorgespoel na die kerk. Ook in die kerk het ons al meer so begin dink. Waar jy vandaan kom, tel nie meer regtig nie - dis wie jy is en wat jy nóú doen wat tel. Jy moet self ‘n keuse maak vir die Here, en dan reken hulle moet jy sommer jouself laat doop ook, want niemand mag namens jou besluit nie. Jy is vir jou eie geestelike lewe verantwoordelik. Daarom is die volgende ou ook glad nie jou probleem nie – hy moet self sorg dat hy homself bekeer en hemel toe gaan. Boonop kan jy self besluit hoe jy God wil aanbid – jy hoef nie elke Sondag in die kerk te wees nie, want jy kan dit net so goed op jou eie iewers doen.
Maar nou is die eintlike vraag in die kerk mos nie wat die tydsgees bepaal nie. Die eintlike vraag is: wat sê die Bybel? Wie is nou eintlik reg, vandag se stadsmense of gister se Karoo-mense?
Laat ek sommer met die wegtrekslag sê: die antwoord is nie so eenvoudig nie. Aan die een kant sê die Here baie duidelik in ‘n gedeelte soos Esegiël 18 dat Hy elke mens volgens sy eie lewe gaan oordeel. Jy gaan nie gered word omdat jou ouers gelowige mense is nie, en jy gaan ook nie verlore omdat jou ouers geen erg aan die Here gehad het nie. God is regverdig en Hy werk met ons elkeen as unieke persone, as indiwidue. Dis dus heeltemal reg: jy moet self besluit waar jy wil staan; niemand kan dit namens jou doen nie. Dis die een kant van die prentjie.
Maar daar is ook ‘n ander kant. Daar loop ‘n goue draad dwarsdeur die hele Bybel, dat God met mense in hulle verbande werk. Dit begin by Abraham, wie se hele familie se toekoms geraak is deur sy besluit om God te gehoorsaam, dwarsdeur tot by die tronkbewaarder van Filippi, wie se hele familie daar en dan gedoop is toe hy tot bekering gekom het. God het gekies om met mense in hulle verbande te werk...
- Abraham
Dis hoekom Jesaja hier ‘n hele millennium na Abraham gelewe het, vir God se mense kan sê: Julle het ‘n band met Abraham. Hy en Sara is julle voorouers, hulle is die klip waaruit julle gekap is. Húlle is waar julle vandaan kom. Want sien, julle is die nageslag wat God destyds aan Abraham belowe het. Dit geld vir die Jode en dit geld vir die gelowiges van vandag. Daardie nag toe God vir Abraham buitentoe gevat het en vir hom die sterre aan die woestynhemel gewys het, het God al vir jou in gedagte gehad. En toe God daar vir Abraham die belofte gemaak het, het Hy jou reeds daarby ingesluit.
En dit maak vandag ‘n reuse verskil aan jou. Want jy onthou wat God die nag vir Abraham belowe het toe Hy die verbond met hom gesluit het? Dis vandag nog vir jou ook waar. Daardie nag het God vir Abraham gesê: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” Dieselfde God wat dit vir Abraham belowe het, staan vandag nog by sy belofte. Hy het niks verander nie. En júlle is die mense van wie God hier praat. Julle is die nageslag van wie Hy hier praat. Die Here wil júlle God wees...
En nou, sê God vir sy mense, gaan Ek dit vir julle wys... Ek ken julle haglike omstandighede. Ek weet julle is ballinge in ‘n verre land. Maar omdat Ek in beheer is, gaan Ek vir julle uitkoms gee, op ‘n manier wat julle gaan verstom. Ek is groter as julle omstandighede, en Ek sal wys dat Ek julle God is...
- Maar ‘n verbond het altyd twee kante.
Dis ‘n wonderlike boodskap. Maar toe maak die Jode die verkeerde afleiding daarvan. Hulle reken toe dat dit sommer outomaties en meganies sal gebeur. God sê dan hier baie duidelik dat Hy uitkoms gaan bewerk. Maar hier staan ook: vir hulle wat sy wil soek en dit doen. Die uitkoms is vir “hulle wat wil reg doen, hulle wat na die wil van die Here vra”, sê vers 1. En wat is dan nou die wil van God wat ons moet doen? Hoor wat sê Jesus self in Johannes 6:40: “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” God se wil vir jou is, dat jy sal glo. En daarom sal lewe...
Maar nou kom die groot wonder: God werk nie met ons elkeen op ons eie nie. Hy neem vandag nog steeds jou mense met jou saam. Dis mos wat vers 8 sê: “Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.” God wil hê dat jou kinders ook sal deel in die vreugde wat Hy gee: “Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees, ellende en smart sal verdwyn. Ek is die Here”.
- Wat verwag God dan van ons?
Iemand wat nog nooit in die kerk was nie, en nog nooit die woord gehoor het nie, kan dalk hiervan aflei dat dit beteken dat die Here alles doen, en dat ek en jy geen aandeel daaraan het nie – dat dit maar net soort van gebeur met ons. Dat ons niks hoef te doen nie. Maar ek hoop regtig nie dis wat jy dink nie. Want dan het jy regtig in al die jare nog nooit geluister na die Woord van die Here nie. En dit kan ek darem nie glo nie.
Ons weet mos almal enige verbond het altyd twee kante. God belowe wel dat Hy jou God sal wees en vir jou sal sorg. Maar dan verwag Hy ook van jou om dit te lewe. Jy moet lewe soos iemand in wie se lewe Hy regtig God is. Jy behoort na alles nie meer aan jouself nie; jy neem nie meer jou eie besluite en sorg vir jouself nie. Die Here is inderdaad jou God – lewe dan so...
En nou is dit presies hoekom ons as doopouers hier voor staan. Dis waartoe ons ons verbind. Here, U het met ons ‘n ooreenkoms aangegaan. ‘n Verbond. En ons wil hê dat U ook die God van ons huis sal wees. Dis waarom ons straal van blydskap soos ons hier staan, omdat U ons God wil wees, en u lewe selfs vir hierdie kleine meisiekind gegee het. U het ook vir haar alles gedoen het sodat sy U ook eendag met oorgawe kan dien. Maar ter selfder tyd staan ons ook hier vol hoop. Want al word sy in ‘n deurmekaar, onseker land groot, waarvan baie mense dink dat die toekoms maar donker lyk, weet ons as gesin dat ons ‘n God het wat ons nooit sal prysgee nie – en vir my nie, maar ook nie vir my kinders, my nageslag nie, soos Jesaja sê. En dan maak dit dat ons hier staan in diepe afhanklikheid van die Here, omdat ons weet dat ons nie self opgewasse is om hierdie kindjie groot te maak nie. Ons kan nie self die pad loop nie. Maar ons hoef ook nie. Want Hy het belowe in sy verbond met ons, om ons God te wees. Nou en vir altyd. Vir ons en vir ons kinders.
Daarom staan ons oorweldig van verwondering. Omdat God so groot en so goed is...
DOOPFORMULIER
Die betekenis van die doop
God het in die Ou Testament al 'n ooreenkoms met Abraham aangegaan. Ons noem dit 'n verbond. Die verbond kan vergelyk word met 'n testament waarin God al sy gawes aan sy kinders toesê. By die doop bevestig God dat ons en ons kinders in hierdie testament ingesluit is.
Ons en ons kinders word verseker dat God ook ons God is. Dit beteken:
- dat Hy ons Vader is wat ons liefhet en vir ons sorg;
- dat Jesus Christus ons Verlosser is;
- dat die Heilige Gees in ons woon, van ons nuwe mense maak en ons lei.
Geen mens kan hierdie gawes van God verdien nie, want die sonde waarmee ons gebore word veroorsaak dat ons die dood verdien. Jesus het egter die straf vir die sonde op Hom geneem en aan die kruis in ons plek gesterf. Daarom bied God nou die ewige lewe as geskenk vir ons aan. Ons kinders is ook hierby ingesluit, al verstaan hulle nog niks hiervan nie.
Die betekenis van die doop kan maklik verkeerd verstaan word:
- Dit is nie net 'n mooi gewoonte wat ons ter wille van ander mense onderhou nie.
- Dit is ook nie 'n bygelowige handeling waardeur ons teen gevaar en ongeluk beskerm word nie.
- Dit is ook nie die geleentheid waar kinders hulle name kry nie. Dit gaan by die doop oor God wat Hom met sy liefde aan mense verbind.
Ons het nou gehoor wat die doop beteken. Daarom vra ons dat julle as ouers opreg die volgende vrae antwoord:
- Bely julle dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?
- Aanvaar julle die Bybel as die Woord van God en aanvaar julle die leer van die kerk soos die belydenisskrifte dit verwoord, as die ware en volkome leer van die verlossing?
- Beloof julle om hierdie kind in die leer na die beste van die julle vermoë te onderrig en ook te laat onderrig?
Die doopouers antwoord hardop: Ja.
Die doopbediening:
“Cari Annelle Botha, ek doop jou in die Naam van die Vader, en die Seun, en die Heilige Gees.
Amen.”