Sagaria 8
Datum: 13 Januarie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Saam met die Here, het die volk ‘n toekoms – en ‘n getuienis!
Verlede week was meeste van julle nog op vakansie. Ons het toe maar die nuwe jaar in julle afwesigheid afgeskop met Sagaria 4. Moenie die dag van klein dingetjies onderskat nie, het die Here vir Serubabbel gesê. Dis wat God van ons vra: Maak net ‘n begin met die werk wat Ek vir jou gegee het; gee net n babatreetjie en laat die Gees van die Here die res doen. Dis na alles nie deur jou eie mag en krag wat jy sal slaag nie, maar deur my Gees, het die Here vir die beleërde leier van die Jode gesê.
Sedertdien het 2019 toe begin gebeur. Die skole het heropen en ons is terug werk toe. Maar nou is ek bietjie nuuskierig. Watter klein treetjie het jy toe besluit om in die Naam van die Here te doen? Watter klein aanpassingtjie het jy gemaak, om jou lewe ‘n klein bietjie meer volgens sy wil in te rig? Of het daar niks verander nie? Was selfs ‘n klein aanpassingtjie toe net te veel gevra? Want as dit so is, is ons bietjie in die moeilikheid. Want dan weet ek nie regtig hoe ons kan sê dat ons vol-uit tot eer van die Here lewe wil nie. Om die waarheid te sê, dan wonder ek half waarmee ons nou eintlik regtig hier besig is...
Veral as jy Sagaria verder lees. Want Sagaria 7 vertel vir ons die skokkende verhaal van hoe die priesters by die Here moes gaan kers opsteek, en uitvind wat Hy nou eintlik regtig van hulle wou hê, nou dat hulle terug is in hulle eie land. Die groot vraag was: wil die Here steeds hê dat sy mense die vasdae moet hou, wat Hy destyds vir hule beveel het? Of wou Hy dalk nou iets anders hê?
Toe kom die skokkende antwoord. Ek wil eintlik niks van julle hê nie, sê die Here. Want soos julle Godsdiens beoefen, kan julle dit eintlik maar eerder los. Want julle hele godsdiens draai eintlik maar net om julleself. Dit waaroor dit eintlik vir julle behoort te gaan, naamlik die eer van God, dis vir julle ‘n bysaak. My eer tel nie vir julle nie – anders sou julle gedoen het wat Ek van julle vra. Nou hou julle julle eerder lankal doof as Ek met julle praat. Hoofstuk 7 sluit af met die volgende woorde: “Hy het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie, Ek sal hulle met ’n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie.”
En dan volg die aller-verskriklike woorde wat my vierspoor laat vassteek het: “Hulle het van ’n pragtige land ’n verwoeste wêreld gemaak.” Dis oor júlle ongehoorsaamheid en sonde wat die land van melk en heuning ‘n woesterny geword het, waar wilde diere ronddwaal...
Ek weet nie van jou nie, maar hierdie woorde tref my soos ‘n emmer koue water. Dit stuur koue rillings langs my ruggraat af. Want moet ons dan nou sê as ons om ons kyk hoe lyk dinge in ons eie land? Ons wys baie maklik die vinger van wie se skuld dit nou eintlik is, maar Sagaria moet ons weer laat dink. Wie se skuld is dit hierdie pragtige land ‘n verwoeste wêreld geword het?
Dan wonder ek of ek nie maar eerder hier aan die begin van 2019 liewer vir Sagaria 7 suutjies toe moet maak en die Bybel baie diep weg moet bêre nie....
1. Die nuwe era
Maar gelukkig het ek dit nie gedoen nie. Gelukkig het ek aangelees. En in Sagaria 8 die Here hoor sê: Dit gaan alles verander... en dan sê die Here een van daardie goed in die Bybel, wat jou asem eenvoudig wegslaan. Hy sê: “Ek is hartstogtelik begaan oor julle” sê Hy. Nes jy verwag Hy gaan die streep trek en sê Tot hier toe en nie verder met julle nie – kom sê die Here: Ek is lief vir julle – eintlik selfs nog meer. Hy sê: Ek word vertéér deur my liefde vir julle. Ek is oneindig meer lief vir julle as wat Ek ooit kwaad vir julle sou kon wees oor julle ontrou en julle sonde.
Jy het eintlik nie die vaagste idee hoe lief die Here sy kinders het nie. Daarom gaan Hy nie toelaat dat dit eindeloos met hulle sleg gaan nie. Ek gaan alles verander, sê Hy. Julle sal nie langer verstrooid oor die wêreld lewe, die slagoffers van almal om hulle nie. Ek kom self terug Jerusalem toe. Ek kom weer by julle bly.
Dan gaan die voorspoed terugkeer na die stad. Die tempel sal eindelik, na 15 jaar, klaar herstel wees, en Jerusalem sal weer ‘n spog-stad wees. Die tempel sal weer die middelpunt van julle bestaan wees. Die stad sal nie meer die grap en die bespotting wees van al wat heiden is nie. Want kyk, God kom terug na Jerusalem toe, terug na sy mense toe. En daarmee begin daar ‘n nuwe era. Niemand sal dit kan miskyk nie. Die era van geweld en bedreiging, toe niemand dit gerus op die strate kon waag nie, sal net daar vergeet wees. Kinders sal weer in die parke speel, en seniors sal rustig kuier waar die soldate eens hulle tente opgeslaan het en niemand dit kon waag nie.
Dit klink soos ‘n droom. ‘n Idilliese prentjie. Ek is seker baie van dié wat dit gehoor het, het destyds net hul kop geskud. Kan nie wees nie.
Daarvoor is die chaos en duisternis net té groot. Daar was net geen kans dat dinge ooit weer normaal sou raak nie. Maar is iets vir God onmoontlik, net omdat dit vir ons onwaarskynlik lyk? En ons? Kan ons in 2019 waag om te sê dat dit nou neusie verby is, dat die kerk sy rol uitgespeel het, en dat daar geen salf meer aan die situasie in ons land te smeer is nie? Dat daar geen toekoms is nie?
Dit wat vir ons onmoontlik lyk, is vir God kinderspeletjies...
2. Maar wat van ons?
Dis net so nodig dat ons vandag God se antwoord deur sy profeet aan sy mense hoor. Want ons God bly dieselfde. Hy is steeds presies dieselfde Verbondsgod van wie Sagaria 8 praat. Die Een wat gister en vandag dieselfde is, en bly tot in alle ewigheid. En al lewe ons vandag in ‘n totaal ander wêreld as hulle, verskil ons omstandighede tog nie so baie van hulle s’n nie. Want ook vandag hoor jy selfs kerkmense wat praat oor ons wêreld asof daar geen hoop is nie, asof die prentjie nét donker is, en al hoe meer so sal word.
Luister mooi wat sê God hier vir sy mense sê. Wat is die oplossing? Wat gaan maak dat God weer regtig in 2019 onder ons sal kom woon? God se oplossing is dat ons lewe weer deur die waarheid gekenmerk sal word – met ander woorde, dat ons ophou kerk spéél, ophou máák asof ons Hom dien, en die Here met ware oorgawe begin dien. Dat ons regtig die Here sal begin dien, regtig ons lewe ten volle aan Hom sal gee. Maar dat dat dit ook oorspoel na ons menseverhoudinge. Dat ons liefde onder mekaar eg en opreg sal wees. Dat ons dienaars van mekaar sal wees, soos die Here ons geleer het.
Dat ons sal ophou om mooi besluite te neem wat ons net nooit uitvoer nie. Ek is steeds hartstogtelik begaan oor julle, sê die Here. Dis júlle wat so min gepla is...
3. Uiteindelik: weer ‘n getuienis!
Ons het pas Kersfees gevier. Niks wys duideliker dat God nie met ons speletjies speel nie. En nou is dit regtig tyd vir ‘n nuwe era in De Eike, liewe vriende. Dis tyd vir waarheid en trou. Dis tyd dat ons regtig sal verander. Dis tyd dat God regtig weer ons Here word, regtig beheer van ons lewe neem. Dan sal die gelag en gespot onder die heidene ophou, want hulle sal sien dat daar ‘n bo-natuurlike krag onder julle werk. Ons sal ‘n getuienis hê. Mense sal van oral af aangetrek word, vervreemdes en selfs mense wat vyande van die kerk was, sal hulleself nie kan help nie. Hulle sal stroom na die kerk, omdat hulle sal sien dat God hier is, en dat ons regtig sy wil soek, en in kontak met Hom lewe. Daar sal ‘n herlewing kom soos die wêreld nog nooit gesien het nie.
En dan vra jy in hierdie verkiesingsjaar: Is ooit regtig daar ‘n toekoms in dié land, is daar ‘n toekoms vir die kerk? Sagaria sou net sy kop skud oor so ‘n kleingelowige vraag. Hy twyfel geen oomblik nie. Vir die mense van die Here wat werklik naby aan Hom lewe, wag daar ‘n bloeitydperk. Hulle sal altyd ‘n getuienis hê, want hulle sal altyd die Here self by hulle hê.
AMEN