Eksodus 33:7-22

Datum: 19 Januarie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Dis nou al ‘n hele paar jaar vandat die laaste pastoriekind destyds uit van Broekhuizenstraat 10 skool toe is. Ons jongste is dan nou al amper dertig! Dis dié dat ek al so half vergeet het van daardie eerste skooldag, en die mengsel van opgewondenheid en vrees waarmee hulle die eerste keer hulle skoolklere aantrek en die onbekende aandurf. Gelukkig darem destyds vir tannie Lida se speelskooltjie, maar dit was nog altyd ‘n reuse sprong vir ‘n baie klein mensie...

 

Ek het al bietjie vergeet van die knop in jou keel en die traan in jou oog wat jy maar net hoop niemand sien nie, wanneer jy hulle so agternakyk op pad skool toe. Maar die afgelope week het ek weer  onthou. Want sien, ons kleinkind het die eerste keer die veiligheid van Pa en Ma se huis, en Oupa en Ouma se sorg, verlaat om haarself in die wye wêreld daar buite te gaan handhaaf. En die wêreld daar buite is wyd, hoor, veral as jy nog nie drie is nie. Dis sulke tye wat Oupa maar swaar sluk, net soos daardie pa op daardie oulike TV-advertensie...

 

Maar onsekerheid oor wat wag, is nie net deel van ‘n Gr.1’tjie se lewe nie. Vir elkeen van ons bring ‘n nuwe jaar ‘n klomp onsekerheid. Nie een van ons weet wat wag in 2020 nie. Of jy nou pas gebore is, of twee-en-‘n-half jaar oud is, jy weet nie wat wag nie. Dit geld vir Graad R’tjies en Gr. 1’tjies, vir Graad 8s en eerstejaars, vir mense wat begin werk of pas afgetree het. Voor ons lê die groot onbekende. Ons kan nie eens raai wat ons oor 11 ½ maande vir mekaar gaan sê oor 2020 nie.

 

  1. Moses is onseker.

Nou kom ontmoet dan vanoggend vir Moses. Moses is ‘n man met ‘n enorme probleem. Die uitdaging voor hom is net té groot. Sien, die Here het hom aangesê om sy volk deur die woestyn te lei na die beloofte land toe. Nou dalk klink dit nie vir jou so vreeslik erg nie, maar onthou net bietjie met wie jy hier te doen het. Hulle is ‘n besonder halstarrige mense bymekaar. Hulle aanvaar geen gesag nie – nie van God nie en vir seker nie van Moses nie. Hulle is nou vir die eerste keer in hulle lewe vry na al die jare van slawerny, en hulle is vasbeslote om nou na niemand te luister nie. Hulle wil maak net soos hulle wil.

Dis ‘n nagmerrie. Maar dink verder. Dink bietjie oor die pad wat hulle moes gaan. Die pad Kanaän toe het nie elke paar kilometer ‘n One Stop langs die pad nie. Dis woestynwêreld, en die mense wat daar woon, hou nie van nomade wat daar deurtrek en hulle vee se weiding opeet nie. Omtrent nêrens langs hierdie pad is daar water nie, en bitter min kos. Moses se werk is regtig nie die soort taak wat jy graag sou wou hê nie. Maar selfs dit is nog nie al nie. Ten minste dink jy dalk, weet Moses dis God se opdrag, en Hy sal sorg op die pad – maar toe kom mors die volk dit ook op. Toe Moses sy rug draai, maak hulle ‘n goue kalf en aanbid dit. Dit het ‘n ramp die volk laat tref, en nou die selfs nog groter ramp, want nou weier die Here om verder saam met hulle te trek.

 

Arme Moses! Wat gaan hy maak? Wat kan hy maak? Hy weet nie. Dis te veel vir een mens. Wat sou jy in sy plek gemaak het?

 

  1. Wat maak Moses in sy onsekerheid?

Kyk hier wat maak Moses. Toe hy besef dat hy hom teen ‘n muur vasgeloop het, en hy glad nie weet hoe vorentoe nie, gaan skep hy ‘n plek van stilte en toewyding waar hy alleen met die Here kon wees. “Die tent van ontmoeting” het hy dit genoem, en dis waarheen Moses getrou gegaan het om by die Here te gaan stil word, en te probeer hoor wat dit is, wat die Here wil hê hy moet doen. Daar het Moses gaan stil geword en daar, sê die Bybel, het die Here met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend praat. En daar kon Moses sy hart uitstort voor die Here, pynlik eerlik met God. Daar was dit net hy en God, en daar het Hy en God tyd deurgebring.

 

Miskien maak dit jou jaloers. Miskien wens jy ook jy kon hierdie onbekende jaar só begin. Met God praat soos ‘n mens met sy vriend praat. Miskien wens jy jy het ook jou eie tent van ontmoeting in jou agterplaas gehad. Dit sou seker lekker wees. Maar weet jy, jy het dit nie regtig nodig nie. Jy kan jou eie heiligdom skep, jou eie “tent van ontmoeting”, waar jy ook al is. Enige plek waar jy stil word voor die Here, kan jou tent van ontmoeting raak. Die belangrike is mos nie waar jy dit doen nie, maar dat  jy dit doen. Daar kan jy net soos Moses stil word en jou kaarte voor die Here ooppak. Natuurlik gaan dit van jou kosbare tyd vra. En dit gaan net werk as jy dit in volle, onvoorwaardelike vertroue op die Here doen. Maar daar is nie regtig enige rede hoekom jy dit nie kan doen nie. En eintlik is daar iets wat dit vir jou selfs nog oneindig makliker maak as vir Moses. Want God lewe mos deur sy Gees binne-in jou!

 

Die vraag is net: Hoe graag wil jy regtig weet wat die Here se wil vir jou lewe is...?

 

  1. Moses erken sy onvermoë vir die pad vorentoe.

En so verskyn Moses voor God. En weet jy wat val my dadelik op? Hoe eerlik Moses met die Here is. Moses weet hy het die Here nodig. Hy weet hy kan nie self aan sy roeping beantwoord nie. Hy kan die uitdagings van die pad vorentoe hanteer nie. Moses weet, hy kan nie die pad sonder God loop nie.

 

En hy erken dit. Hy sê dit vir God. As God met Moses soos met ‘n vriend praat, dink ek jy kan sê dat Moses met God praat soos ‘n kind met ‘n pa praat, wat hy weet vir hom eindeloos liefhet en wat vir hom net die heel beste op aarde gun.

 

Die res is geskiedenis. God luister na Moses en verhoor sy gebed. Moses hoef toe nie die toekoms, hierdie groot onbekende, alleen aan te durf nie. Hy hoef nie op sy eie insig te probeer staatmaak en self die uitdagings te hanteer nie. God sal saam met hom gaan, wanneer hy saam met die volk wegtrek na die Beloofte Land toe.

 

  1. En tog stel God ook grense.

Maar kyk net wat gebeur toe: Moses vat ‘n kans. Dalk reken hy hy sal die Here makliker volg as hy weet hoe die Here lyk. En al weet hy hy mag nie, vra Hy die Here om Homself vir Moses te wys. Hom aan Moses te openbaar. En God sê Nee.

 

Dis ‘n baie belangrike les oor God wat Moses daar leer, en dis ook vir ons vandag belangrik. Ja, God wás vir Moses genadig. En God hét Homself aan Moses verbind, en selfs soos ‘n vriend met hom gepraat. Maar dit het nie verander, dat Hy steeds God gebly het nie. Moses moes leer dat God in beheer bly; en dat Moses ook in hierdie verhouding sy plek moes leer ken.

 

God bly God. Hy is ons Vader, Hy is vir ons lief en sorg vir ons. Hy nooi ons om al ons behoeftes aan Hom te kom voorlê, sodat Hy vir ons kan sorg. Maar Hy bly God. Ek en jy mag nooit aan Hom dink, of voor Hom verskyn, sonder om oorweldig te word deur sy grootheid, en die wonder dat ons hoegenaamd met Hom nag praat nie. Dis nie vanselfsprekend nie. Dis alleen as ons laag voor Hom buig, en Hom al die eer gee, wat ons op sy leiding en hulp kan staatmaak. Hy bly te alle tye God.

 

En nou is dit 2020. En wat wag vanjaar vir jou? Ek weet nie en jy weet nie. Maar wat ek wel weet, is dat ek nie hierdie pad vorentoe sonder God wil aanpak nie. Ek het nodig dat Hy my sal lei, dat Hy vir my sy wil bekend sal maak, sodat ek sal weet watter pad om te loop. En nou weet ek ook hoe. God nooi jou vanoggend na sy tent van ontmoeting in hierdie week, waar ek hoe jy dit ook al wil inrig. Kom raak stil by God, totdat jy sy stem hoor. Kom sit jou hart op die tafel en kom vra Hom om jou te lei in 2020. Hy sal jou nie teleurstel nie.   

AMEN