Exodus 33:7-22
Datum: 22 Oktober 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
In die stad Efese het daar ‘n baie beroemde filosoof gewoon. Dit was toe filosowe baie hoog aangeskryf was, byna soos sportsterre vandag. Daarom sal jy verstaan dat hierdie ster-filosoof van hulle waarskynlik die bekendste en mees geliefde inwonder in Efese was. Almal was trots op Hierakleitos van Efese, en daar was nie ‘n siel in daardie stad wat nog nie oopmond na sy wyshede staan en luister het nie.
Ongelukkig het die wiel bietjie gedraai vir filosowe, en is hulle nie naastenby so hoog aangeskrewe soos destyds nie. Daarom weet jy na alles waarskynlikheid nie eers van Hierakleitos en van sy gesegdes nie. Om die waarheid te sê, selfs die van ons wat ‘n bietjie meer belangstel in sulke goed, of dalk filosofie op universiteit bestudeer het, weet nie veel van hom nie. Eintlik moet ek nou maar eerlik wees en erken dat ek van net één enkele ding weet wat hy gesê het – laat jou nogal wonder hoe ek ooit Filosofie 3 deurgekom het, né...
Maar wat ek wel weet, is dat Hierakleitos gesê het dat die tyd vloei soos ‘n rivier. En jy kan nooit twee keer na mekaar op dieselfde plek in ‘n rivier instap nie, want jy gaan elke keer in nuwe water intree. Die oues is klaar verby. Dis weg see toe. So werk die lewe ook, het Hierakleitos van Efese gesê. “Alles vloei en niks bly dieselfde nie”. In Grieks rym dit nogal: “Panta rei kai ouden menei”...
En is dit nie waar nie! Die enigste konstante in die lewe is verandering” het iemand anders gesê. Jy kan nooit twee keer na mekaar op dieselfde plek jou voet insit in die rivier nie. Jy kan dieselfde situasie nooit twee keer beleef nie. Die lewe verander daagliks, byna van oomblik tot oomblik. Elke dag bring nuwe uitdagings, elke jaar bring nuwe aanpassings, ‘n nuwe fase. Dalk is ek net nou meer sensitief daarvoor as ooit tevore, maar dis vir ons almal waar.
Ek weet baie goed dit kan ‘n mens nogal angstig maak. Meeste van ons sou dalk verkies dat alles eerder dieselfde bly, veral as ons redelik tevrede en gelukkig is met ons situasie. Ek wil nie regtig hê enigiets moet my bootjie skommel nie. Ek wens dit kon vir altyd so bly. Ander is dalk meer avontuurlik, maar te veel verandering is ook nie die ideaal nie. Maar of ons nou daarvan hou of nie, ek vrees ou Hierakleitos van Efese was reg. Alles vloei en niks bly dieselfde nie...
Wat moet ons as gelowiges nou daarvan sê?
- Moses is onseker.
Dalk kan Moses ons daarmee help. So kom ons bekyk hom bietjie van naderby. En die eerste ding wat jy gaan raaksien, is dat Moses ‘n man met ‘n enorme probleem is. Hy staan voor ‘n enorme uitdaging, wat dreig om hom te oorweldig. Die uitdaging voor hom is net té groot. Want jy weet mos die Here het hom destyds beveel om sy volk deur die woestyn te lei na die beloofte land toe. Nou, ek weet jy dink dis dalk nie so vreeslik erg nie, maar onthou bietjie wie was hierdie mense wat hy moes lei. Hulle is besonder halstarrig. Hulle aanvaar geen gesag nie – nie van God nie en vir seker nie van Moses nie. En nou dat hulle uiteindelik vry is na al jare van slawerny, is hulle vasbeslote om na niemand te luister nie. Hulle wil maak net soos hulle wil. En dis vir húlle wat die arme Moses moet lei.
Dis al klaar ‘n nagmerrie. Maar dink bietjie verder. Oor die pad wat hulle moes gaan. Daar loop nie ‘n breë nasionale pad Kanaän toe nie, elke paar kilometer het nie ‘n One Stop langs die pad nie. Nee, hierdie pad loop deur ongerepte woestynwêreld. En die paar mense wat wel nog daar bly hou regtig nie van nomade wat daar deurtrek en hulle vee se weiding opvreet nie. Omtrent nêrens langs die pad is daar water nie, en bitter min kos. En daar moet Moses sy mense deurlei.
Dis regtig nie die soort taak wat jy graag sou wou hê nie. Maar selfs dit is nog nie al nie. Dalk reken jy dis mos darem die Here se volk die, en Hy sal hulle sekerlik op hierdie pad help. Maar toe gebeur daar iets wat Moses se opdrag net nog eindeloos kompliseer. Toe Moses sy rug draai, kom mors die volk alles op. Hulle maak ‘n goue kalf en aanbid dit. Dit was niks minder as kontrakbreuk met die Here nie, en daarmee het hulle ‘n streep getrek deur die verbond wat Hy met hulle gesluit het. Daarom het ‘n ramp die volk getref. En nou wag selfs ‘n nog groter ramp: na die goue kalf-episode weier die Here om verder saam met hulle te trek.
Arme Moses! Wat gaan hy maak? Wat kan hy maak? Hy weet nie. Dis te veel vir een mens. Ek is ook maar bly ek hoef hom nie raad te gee nie. Ek weet eerlik nie wat ek vir hom sou sê, of wat ek in sy plek sou gemaak het nie.
- Wat maak Moses in sy onsekerheid?
Maar wat maak Moses toe? Hy besef hy het hom teen ‘n muur vasgeloop, en hy weet glad nie hoe vorentoe nie. Toe doen hy die enigste ding wat hy in sy krisis kán doen. Hy skep ‘n plek van stilte en toewyding waar hy alleen met die Here kon wees. “Die tent van ontmoeting” noem hy dit, die plek waar Moses altyd by die Here gaan stil word het, om te probeer hoor wat die Here wil hê hy moet doen. En dis wat Moses nou doen. Hy gaan word stil voor die Here. En daar, sê die Bybel, het die Here met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend praat. En op sy beurt kon Moses ook daar sy hart uitstort voor die Here, pynlik eerlik met God. Daar was dit net hy en God, en daar het Hy en God tyd deurgebring.
Miskien maak dit jou jaloers. Miskien wens jy jy kon ook dit doen. Met God praat soos met ‘n vriend. Miskien wens jy jy het ook jou eie tent van ontmoeting in jou agterplaas gehad. Dit sou seker lekker wees.
Maar weet jy, jy het dit nie regtig nodig nie. Jy kan jou eie heiligdom skep, jou eie plek van ontmoeting waar jy stil kan word voor die Here. Maak nie saak waar dit is nie – enige stil plek kan jou tent van ontmoeting raak. Dit maak mos nie regtig saak waar jy dit doen nie, maar dat jy dit doen. Kry vir jou ‘n plekkie waar jy soos Moses stil kan word en jou kaarte voor die Here ooppak. Natuurlik gaan dit van jou kosbare tyd vra. En dit gaan net werk as jy dit in volle, onvoorwaardelike vertroue op die Here doen. Maar daar is nie regtig enige rede hoekom jy dit nie kan doen nie. Jy weet mos klaar God is deur sy Gees elke oomblik by jou. Doen dit net!
Dalk is die eintlike vraag: Hoe graag wil jy regtig die Here se wil vir jou lewe weet?
- Moses erken sy onvermoë vir die pad vorentoe.
Maar eers terug na Moses toe. Moses verskyn voor God. En jy kan sommer hoor hoe eerlik Moses met die Here is. Moses steek nie weg dat hy die Here nodig het nie. Hy weet goed hy kan nie self aan sy roeping beantwoord nie. Hy kan nie uitdagings van die pad vorentoe hanteer nie. Moses weet, hy kan nie die pad sonder God loop nie. En hy erken dit. Hy sê dit reguit vir God. As die Bybel vir ons sê dat God met Moses soos met ‘n vriend praat, dink ek jy kan sê dat Moses met God praat soos ‘n kind met sy pa, ‘n pa wat hy weet hom eindeloos liefhet en wat vir hom net die heel beste op aarde gun.
Die res is geskiedenis. God luister na Moses en verhoor sy gebed. Moses hoef toe nie die toekoms, hierdie groot onbekende, alleen aan te durf nie. Hy hoef nie op sy eie insig te probeer staatmaak en self die uitdagings te hanteer nie. God sal saam met hom gaan, wanneer hy saam met die volk wegtrek na die Beloofte Land toe.
- En tog stel God ook grense.
Maar kyk net wat gebeur toe: Moses vat ‘n kans. Dalk reken hy hy sal die Here makliker volg as hy weet hoe die Here lyk. En al weet hy hy mag nie, vra Moses die Here om Homself vir Moses te wys. Hom aan Moses te openbaar. En God sê Nee.
Dis ‘n baie belangrike les oor God wat Moses daar leer, en dis ook vir ons vandag belangrik. Ja, God wás vir Moses genadig. En God hét Homself aan Moses verbind, en selfs soos ‘n vriend met hom gepraat. Maar dit het nie verander dat Hy steeds God gebly het nie. Moses moes leer dat God in beheer bly; en dat Moses ook in hierdie verhouding sy plek moes leer ken.
God bly God. Hy is ons Vader, Hy is vir ons lief en sorg vir ons. Hy nooi ons om al ons behoeftes aan Hom te kom voorlê, sodat Hy vir ons kan sorg. Maar Hy bly God. Ek en jy mag nooit aan Hom dink, of voor Hom verskyn, sonder om te onthou wie Hy is, en sonder om oorweldig te wees deur sy grootheid, en die wonder dat ons hoegenaamd met Hom mag praat nie. Niks daarvan is vanselfsprekend nie. Dis alleen as ons laag voor Hom buig, en Hom al die eer gee, wat ons op sy leiding en hulp kan staatmaak. Hy bly te alle tye God
AMEN