1 Samuel 15:34-16:13
Datum: 17 Junie 2018
Prediker: Chris Barnardo
Die verhaal van Cinderella oftewel Aspoestertjie het my as kind VERSKRIKLIK ge-fassineer. Ek weet nie van julle nie, maar toe ek as kind na hierdie verhaal geluister het, het dit my altyd in verwondering gelaat. Daar was altyd iets spesiaal aan hierdie storie. Dit was meer as die Wollie Wasbeer, Rooikappie en die Drie Varkies-verhale wat my ma en ouma vir ons as kinders voorgelees het.
Ek kon destyds myself nie indink dat ’n stiefma en sussies so lelik teenoor ’n ander mens kon optree nie. Aspoestertjie was vir my die oorwinning van armoede en onderdrukking oor die magtige en arrogante ma en sussies. Die absolute voorbeeld van wie laaste is, sal eerste wees. Ek kan onthou dat ek as klein seuntjie gedink het dat liewe Jesus seker hierdie verhaal geskryf het.
Ek het altyd gedink dat hierdie so ’n skoon storie was en ek het elke oomblik geniet het om daarna te luister. Ek het van alles in die storie gehou. Die arme Aspoestertjie wat net die wind van voor kry. Haar nare stiefsussies en die aaklige stiefma. Die wonderlike Fee, die pampoen wat in ’n koets verander, die perde, die koninklike bal, die asemrowende mooi aand en die wals- al in die rondte, al in die rondte het sy gedans. ’n Aand waaroor ons al almal gedroom het en skielik , voordat ons besef, is die aand verby.
Dan was daar ook daardie glasskoentjie wat net aan Aspoestertjie se voet gepas het. Ek het nogal lekker gekry toe die stiefsussies ook die skoentjie probeer aanpas het en ek het geweet julle probeer verniet. ’n Hartseerstorie met ’n gelukkige einde. Ek was van die begin tot einde mal oor hierdie verhaal.
Niemand kon ooit dink dat die glasskoentjie aan Aspoestertjie se voet sou pas nie. Wie sal tog nou ooit kon dink dat ’n prins op ’n arm meisie verlief sou raak. WIE SOU OOIT SO KON DINK? Dat Aspoestertjie gekies sou word. Onbeskryflik.
SAMUEL IS DIE EEN-PERSOON-SOEKGESELSKAP
Op ’n manier is Samuel se verhaal in sy soeke na ’n nuwe koning, ’n Aspoestertjies verhaal. Is dit nie so nie? Samuel is die gesant wat soek na die een aan wie se voet die glasskoen sal pas.
Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning.”
“WAT?” het Samuel seker gedink. Geen landswye soektog nie? Sonder enige CV’s? Geen goedkeuring van die Ring nie? Geen verwysings om op te volg nie. Die stad en die huis waarheen Samuel moes gaan was alreeds vooruit bepaal.
Ek weet dat baie Diensverhoudingskommissies hiervan sou gehou het. Geen werk of taakomskrywing om in te vul nie. Geen opgeblase idees oor hoe God se geskenk aan die gemeente moet lyk nie. Geen kriteria in die kerkbode van ‘n dertigjarige met veertig jaar gemeente ondervinding nie. In alle waarskynlikheid het Samuel gedink dat hierdie n vinnige “joppie” gaan wees. Hy hoef nie eers n tassie met oornagklere te pak nie. Hy sal vroeg terug wees.
Samuel was die een-mens soekgeselskap wat moes gaan soek na die volgende koning en God maak dit so maklik vir hom. Alles is alreeds in plek. Die wie, wat, waar wanneer en hoe, is klaar uitgesorteer. Samuel moet net opstaan en na die klein dorpie toe gaan met die naam Bethlehem. ‘n Dorpie waarvan ons later hoor toe skaapwagters en wyse manne ook daar aangekom het op soek na ‘n koning.
Samuel daag by Isai se huis op en sy seuns word een vir een in ge-paradeer. Eliab, Abinadab, Samma, totdat al sewe voor Samuel staan. Nope... die skoen pas nie.
Ek vermoed dat Samuel drie dinge in hierdie proses geleer het. Dinge wat ’n gemeente gerus in gedagte kan hou.
Eerstens, die soektog neem gewoonlik langer as wat mens dink. Dalk moes Samuel ’n nag-stop-tassie gepak het.
Tweedens, daar word na kandidate gekyk wat op die oppervlak baie goed lyk maar daar is iets wat pla. Hulle besit al die kwalifikasies en wonderlike verwysings met bewese agtergrond, gawes en talente, maar daar is steeds iets wat kortkom.
Derdens, mens moet nooit opgee nie, want die regte een sal sy/haar opwagting maak. Jy weet dit net. Samuel het dit geweet maar het dit nie verstaan nie. ......Hy het net geweet. Samuel mag dalk die soekgeselskap wees, maar God kies. Dit is hoe dit altyd werk.
GOD DOEN DIE KIES-WERK
Daar is die prins se gesant wat met verwondering kyk toe die glasskoentjie aan die arm meisie se voet pas. En dan is daar Samuel, verwonderd, toe die jong seun uit die veld geroep word om voor hom te kom staan. Klein, roesgesiggie, hy lyk soos SINK PYN SPESIFIEK. Mooi oë. Goeie voorkoms. Hoekom is Samuel verwonderd. Want Samuel was die een-mens-soekgeselskap maar God het die kies-werk gedoen. Die hooffiguur is nie Samuel of Isai nie. Of selfs Dawid nie. Die hooffiguur in hierdie verhaal is die Here.
Ons dink dat ons alles uitgewerk het vir ons lewens. Dat al die eendjies in ’n ry gesit is. Onthou net. God doen die kies-werk. Ons dink ons het die regte persoon vir hierdie of daardie posisie en ons werk hard daarvoor sodat my voorkeur keuse gekies kan word, maar onthou dit is God wat die kies-werk doen. Neem kennis, dat die Here baie maal mense kies wat ons nie verwag nie.
Hoekom? Want die Here is nie ingestel op die uiterlike nie. Die Here kyk altyd na die hart. Kyk na Dawid. Dawid is jonk en so onbelangrik in die oë van sy gesin dat hy nie geroep word om saam met sy broers voor oom Samuel te paradeer nie. Die skape is belangriker as Dawid.
“Dawid, pas jy die skape op terwyl een van jou boeties vandag as koning gesalf word.”
Nee, die Here kyk na die hart. Die Here kyk verby die roes op Dawid se gesig. Hy kyk tot diep in Dawid se siel.
So baie mense sê dat hulle nie kan nie. Ek is te jonk of ek is te oud. Ek is afgetree,(Christene tree nooit af nie) ek is gestremd of my gesondheid laat dit nie toe nie. Kyk hoe lyk ek!
Dawid sou ook met so ’n goeie verskoning vorendag kon kom. Dalk is dit wat Dawid daardie dag gedink het toe Samuel, die een-mens-soekgeselskap, daar aangekom het om vir ’n koning te soek sodat Saul vervang kon word. In Dawid se stoutste verwagtinge sou hy nooit kon dink dat hy geroep sou word en God hom sou kies nie. Ek vermoed dat Samuel en Isai dieselfde gedink het.
Isai is op ’n roll! Hy maak die trofeekas oop. Sy seuns is gewas en netjies aangetrek terwyl die kleintjie skape oppas. “Samuel, hierdie is my trots. Ek en my vrou het hard gewerk om hulle te bring waar hulle is. Die beste skole, sport, musiek programme. Om kinders in vandag se tye groot te maak is nie maklik nie: “Sê Isai. Maar het hulle nie oulik uitgedraai nie?
Terwyl Isai die trofeekas oopmaak en die manne se jongste prestasies vir Samuel wys, is Samuel besig om hulle noukeurig deur te gaan. Samuel kyk elkeen diep in die oë, maar die skoen pas nie. Sewe maal nee.
“Is dit al jou seuns?” : Vra Samuel.
Wel, eintlik is daar nog een. Maar hy is die enetjie wat agter die skape aanhardloop.
“Gaan haal hom!”. En almal in die vertrek giggel agter hulle hande. Net soos Aspoestertjie se stiefsusters gedoen het toe Aspoestertjie die glasskoentjie moes aanpas. Arme Dawid. Samuel gaan hom een kyk gee en saam begin giggel.
En toe die rooi gesiggie die vertrek binnestap, ....toe weet Samuel. Hy het net geweet. Noem dit Goddelike ingryping. Goddelike intuïsie. Noem dit wat ook al jy wil. Maar Samuel het onmiddellik geweet.
Ek weet nie wat dit was nie. AL wat ek weet is dat die misterie van God nie in ons hande vasgevang kan word nie. Want toe Isai se jongste spruit die vertrek inbars met ’n “Hi Pa, wat gaan aan?, was sy lewe vir altyd verander en so ook die lewe van Israel. Hoe kon so iets gebeur?
Dit gebeur, sê die Bybel omdat God nie soos ons kyk nie. Die Here kyk nie na die buitelyne nie. Die Here kyk hart-langs. Om die waarheid te sê, die Here kyk nie na die klere wat jy dra, die huis waarin jy woon of hoeveel geld jy maak soos wat baie TV dominees in kykers se kele probeer afdruk nie.
Of hoe hard jy in die kerk werk en hoeveel jare jy kategese gegee het of in die kerkkoor gesing het nie. Nee, die Here kyk nie hoe sterk en gesond, en hoeveel ervaring jy het nie. Jou hart. Jou menswees. Dit is waarna die Here kyk.
Paulus sing dieselfde lied in sy groot betoog oor die liefde in 1 Kor. 13:1-3. Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.
2Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.
3Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
Ons kan baie maklik ’n goeie voetjie voorsit tussen ons vriende in die kerk, by die werk en by ons buurman en buurvrou; ons kan selfs onsself ook vir ’n rukkie flous.
Maar ons kan nie die Here ’n rat voor die oë draai nie! Hoekom nie? Want God kyk hart-langs. God kyk nie na jou uiterlike nie. Volg die goue draadjie deur die Bybel en jy sal sien. Moses wat hakkel, Self Dale Carnegie sou vir Moses nie met sy “stage fright” kon help nie. Samuel en Jeremia was nat agter die ore maar God kies vir hulle. Hoekom? Want ouderdom en hou jy jouself “present” is nie ’n keuringsvereiste in God se plan vir sy span nie. God kyk na ons harte.
GOD KIES VIR JOU EN MY!
God kies mense aan wie ons nooit sou dink nie. Paulus sê in 1 Kor. 1:26 26Dink maar net, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.
Nooit mag nooit deel wees van jou woordeskat nie. Moet nooit dink dat jy nie kan dien nie, want voordat jy jou oë uitvee het God jou dalk gekies. Die Here kies die een van wie ons dit glad nie verwag nie. – Paulus die moordenaar, Augustinus, die rokjagter, Maartin Luther, die harde drinker.
God kies hulle van wie ons dit die minste verwag. Ons dink dat ons God se plan mooi vir onsself uitgewerk het. Allermins. Samuel was die soekgeselskap, God het gekies. God kies jou en vir my op onverwagte maniere.
Kan jy jouself indink,...As Jesus iets gesien het in vissermanne, in sondaars en selfs in ’n kort mannetjie met die naam Saggeüs wat soos ‘n kat in boom rondklim, wat dan van jou en my? Jesus se X-straal oë sien regdeur die Samaritaanse vrou by die waterput en deur Petrus en Thomas. Net so kyk die Here na jou en my hart. Wat sien die Here? Wat hoor Hy?
EK weet nie waar jy vandaan kom of hoe jy gekom het waar jy vandag is nie. Maar vir die een of ander rede het God vir jou en my op ’n onverklaarbare wyse gekies. Hoekom? Want dit is hoe God te werk gaan. Samuel mag dalk die een-mens-soekgeselskap wees maar God het die laaste sê. Hy is die een wat die Sy span saamstel. Hy kyk en Hy luister na jou hart.
Wat sê jou hart vanoggend?
AMEN