Markus 10:1-12

Datum: 6 Augustus 2017

Prediker: Chris Barnardo

My eerste ontmoeting met Carina se ouma uit Loeriesfontein se wêreld was ‘n goeie ervaring gewees. Hulle is mos lekker mense. Goeie mense. Maar ook rou eerlike, opregte mense.

Ek onthou die gesprek wat ek destyds met haar gehad het nadat ek Carina se ouers gevra het dat ek met hulle dogter wil trou.

Ouma Annie John het my aan die etenstafel diep in die oë gekyk en gevra of ek regtig lief is vir Carina. Ja tannie, ek is so lief vir haar dat ek haar uit liefde wil opeet.

Dis wat jy nou sê. Na dertig jaar gaan jy so by jouself wonder. Hoekom het ek haar nie maar destyds heeltemal opgeëet nie. Dit was die eerste seisoen van ons verhouding. Die seisoen van bewondering. ‘n Seisoen met skoenlappers in ons mae en op daardie spreekwoordelike op ‘n wolkie sweef. Saam huis opsit en saam begin bou aan ‘n toekoms.

Daarna het die seisoen van verwondering begin.

Met baba’s in die huis, later peuters, toe kleuters. Toe volg die tieners, Universiteitstudente, kinders wat trou, kleinkinders het gevolg, en skielik, ja skielik besef ons, ons is in die seisoen van ontnugtering, wat die leë nes genoem word, is.

Skielik besef ons dat ons huwelik primêr om ons kinders gedraai het. Om nie eers te praat wat gebeur wanneer die kleinkinders hulle opwagting maak nie.

Ons tyd en energie het so opgegaan in die kinders se opvoeding en opleiding dat die gom wat ons as pasmaats aanmekaar moet vasbind nie meer daar is nie.

Skielik sukkel ons om ‘n gesprek met mekaar te voer om nie eers te praat van belangstellings wat vêr verwyderd is van mekaar nie. Die band wat daar was, die kinders, is uit die huis en ons sit soos twee vreemdelinge vir mekaar en kyk.

En skielik is ons in die seisoen van ontnugtering!

Ons moet verhoed dat ons nie in hierdie sogenaamde seisoen van ontnugtering vasval nie. Eintlik moet dit die seisoen van verligting wees. Uit die huis en amper uit die beursie. As julle my vanoggend nie wil glo nie kan julle gerus met Albert Marias gesels. Albert kan julle heel oggend besig hou met verhale van hartseer en wrokke wat in die skeihof eindig. En soms, soos een vrou dit vir my gestel het, is dit makliker om te bly as om te skei.

NIEMAND WIL TOG DAARDIE LANDSKAP BETREE NIE

Ek vra nou die dag vir ‘n paartjie wat drie laerskoolkinders het, die volgende vraag: Wie is die belangrikste mense in julle gesin? En soos enige goeie ma en pa antwoord hulle: Ons drie kinders. Hoekom, vra ek? Wat gee aan julle kinders daardie status? En soos enige nederige pa en ma kon hulle nie daardie vraag antwoord nie behalwe om so binnensmonds te mompel.

Dus het ek die vraag namens hulle ge-antwoord. Daar is geen redelike ding om aan julle kinders daardie status te gee nie.

Die rede waarom ek hierdie skokkende antwoord gegee het, is die volgende.

Probleme met ons kinders is as gevolg van die feit dat ons ons huwelike ondergeskik stel aan ons kinders, en dat families bestaan as gevolg van kinders.

Ek hoor in die week wat verby is die volgende: Ons is gehoorsame ouers wat die die kinders se opdragte uitvoer. Die probleem is nie die kinders nie maar eerder die sogenaamde gehoorsame ouers. Kinders is nie belangrikste binne ‘n gesin nie.

Dit is veronderstel om andersom te wees. Kinders bestaan as gevolg van ‘n huwelik Die gesin floreer as gevolg van ‘n stabiele huwelik. ‘n Gesonde huwelik skep ‘n gesonde gesin. Die belangrikste persone binne ‘n gesin is die ouers.

Die belangrikste geskenk aan ons kinders is om hulle goed voor te berei en te vorm as verantwoordelike burgers. Ons moet in die eerste plek nie kinders grootmaak om A’s in matriek, of ‘n plek op ‘n podium te bereik nie, of om ‘n brein chirurg te word nie. Ons primêre taak is om kinders sterk te maak sodat hulle die wêreld met oop arms kan tegemoet hardloop.

En dit gebeur wanneer pasmaats plakmaats is. ‘n Eenheid, vasgegom aan mekaar. Binne ‘n huwelik waarin die kinders veilig kan grootword. Binne ‘n huwelik waar pappa en mamma alles vir mekaar beteken. Binne ‘n huwelik waar pappa en mamma nie met alles na hulle hulle pappa en mamma hardloop nie. As ek die Bybel reg verstaan verlaat ‘n man mos sy vader en sy moeder. Verse 7 en 8 sê dit vanoggend duidelik aan elke man en vrou. ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een.

HOE GAAN ONS DIT REGKRY?

Dit is ‘n keuse wat jy maak binne Bybelse riglyne.
Skep geleenthede vir saamwees tye. En kinders moet geleer word om dit te respekteer.
Kies om nie vreemdelinge vir mekaar te word nie.
Kies dat julle huwelik prioriteit in die gesin geniet.
Kies dat die gom wat julle huwelik saambind nie vervaag nie.
Kies om vir Jesus binne julle huwelik te verheerlik.
Kies om die brug te bou en nie om dit af te breek nie.
Kies die Jesus manier.

SLOT

Ek sluit af met die verhaal oor Sir Edmund Hillary en sy historiese klim na die piek van Everest.

‘n Klassieke voorbeeld van ‘n vennootskap en ‘n vriendskap wat ook binne die huwelik gebou moet word. Sir Edmund was vergesel deur sy getroue gids toe hy die Everest Piek bereik het. Terwyl Sir Edmund op die Piek gestaan het, besig om hierdie beeld van van God se skepping te aanskou en in verwondering na die berge gekyk het het sy voet naby die afgrond gegly. Maar sy gids het die tou vasgehou wat hulle aanmekaar verbind het. Die gids het die yspik diep in die ys ingeslaan en sodoende beide hulle lewens gered. Na die voorval en terug in die basiskamp het die mense die gids gevra om sy weergawe van gebeure oor te vertel. In een sin het hy sy gevoelens verwoord. “Berklimmers help mekaar.”

Hierdie wonderlike filosofie behoort ook die filosofie te wees van pasmaats in die huwelik. Twee in een. Pasmaats help mekaar, veral in hulle saamwees met die Here.

Mag hierdie doop geleentheid vir elkeen van julle as pasmaats ‘n wonderlike betekenis hê van eenheid, liefde, prioriteit. Die teken dat julle huwelik verbind is aan die Gids wat julle hemel toe vergesel!