Jakobus 3:13 – 4:3, 7-8a

Datum: 19 September 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Wat is die grootste probleem in die kerk?

Wanneer die manne om die vure staan en diep sake gesels, hoor praat jy hulle deesdae veral oor die tyd ná Covid. Hoe gaan ons wêreld lyk, wanneer die virus sy gang gegaan het, en vir ons meer beweegruimte begin gee? Gaan ons werksituasie weer terugkeer na hoe dit was, of gaan ons van nou af al meer van die huis af werk? Gaan ons sportspanne ooit weer herstel van hulle grendeltyd-roes, en watter Moses in ‘n groen trui gaan opstaan om ons Bokke deur die woestyn te lei?

 

Maar vroeër of later draai die gesprek oor die kerk. En dis hier waar die bespreking nogal lewendig kan raak. Gaan die kerk ooit weer kan herstel van die dae wat ons almal in ons pajamas kerk gekyk het? Of was grendeltyd die finale spyker vir ‘n kerk wat in die elk geval in die moeilikheid  was, met eredienste wat ook voor die grendeltyd nie juis met dieselfde entoesiasme bygewoon is as toe ons destyds moes stoele indra, skaars dertig jaar gelede nie? En so kom ons kort voor lank uit by die eintlike vraag oor die kerk: Wat is nou eintlik die probleem in die kerk?

 

Ten minste gaan jy darem nie sommer iemand kry wat waag om te sê dis die Here se skuld nie, want ons weet mos dit kan nie wees nie. Wel, dan is die volgende antwoord dat die fout heel waarskynlik by die dominees lê. ‘n Treurige lot, soos Springboksenters glad nie meer die stoffasie van die manne met wie ons grootgeword het nie. Dis uit en uit hulle fout dat die kerk sit waar hy vandag sit. Hier en daar sal iemand dit dalk wyer kyk en die kerkraad ook daarvoor blameer. Dis húlle skuld dat die kerk is war hy is, want hulle is ook ten ene male nie meer dieselfde as die waardige manne in swart pakke wat ons altyd geken het nie.

 

Of dalk lê die fout by ons manier van doen in die kerk. Dis erg verouderd! Om mee te begin, is die preke in die kerk net hopeloos te lank, en regtig nie interessant of stimulerend nie. Daarby is die musiek hopeloos te outyds in die kerk. Waar is die dromme en die ghitare? Die hele liturgie is net so vervelig. Wie het nou eintlik nog die wet nodig, die skuldbelydenis en die geloofsbelydenis? Nee wat, dis ons hele manier van doen wat maak dat die kerk op ‘n afdraende paadjie is.

 

En daarmee vergeet ons natuurlik dat dit nie net ons eie kerk is wat moeilike tye beleef nie. Daar is baie kerke, wat die dinge op wyd uiteenlopende maniere doen, wat deesdae maar sukkel om kop bo water te hou. Ongelukkig werk die gemaklike antwoorde nie eintlik nie. Dis mos nou dié wat die vinger weg van jouself af wys. En daarmee skuif ons die blaam vir die hele probleem weg van ons lyf af. Die maklikste is om te besluit die fout lê by ander mense, nooit by my nie...

 

 

  1. Wat sê Jakobus?

En dan lees ons een dag wat Jakobus hieroor skrywe. En jy ken mos Jakobus. Hy is nie ‘n ou wat doekies omdraai nie. Hy is geweldig reguit, en hy skrywe ‘n ding soos dit is. Daarom kan jy jou maar regtrek vir sy antwoord, want jy gaan heel waarskynlik nie baie daarvan hou nie.

 

Die grootste probleem in die kerk, sê Jakobus  is... SELFSUG! En nou weet ek nie van jou nie, maar dis min of meer die laaste antwoord wat ek van hom sou verwag. Want selfsug skree teen alles waarin ons in die kerk glo en bely. Ons bely tog dat ons dienaars is, want die Here het ons geleer om vir ander mense net soveel om te gee as vir onsself. Jesus leer ons nederigheid, om terug te staan selfs al is dit soms tot nadeel van onsself – presies wat Hy self gedoen het. Selfsug het geen plek in die kerk en in ons lewe nie. Dis ondenkbaar, totaal onversoenbaar met wie ons is, en waarvoor ons lewe. Selfsug kan nie dié probleem in die kerk wees nie!

 

Maar dis ongelukkig wat hier staan in die Woord van die Here. Want ongelukkig weet die duiwel ook dat ons vir God bitter min werd is as dit nog vir ons net om onsself gaan. Daarom is dit die wapen wat hy die graagste gebruik om die kerk van koers af te dwing en te neutraliseer. As die duiwel dit reg kan kry om om dinge net om onsself te laat draai, kan die Gees nie deur die kerk ons wêreld verander nie. En dan sal die kerk net agteruit gaan, tot daar uiteindelik van hom min oorbly. Ongelukkig is dit waar: selfsug is die grootste probleem van almal in die kerk...

 

Maar wat bedoel hy met selfsug? Selfsug is wanneer jy op jouself en jou eie voordeel en gemak ingestel is, baie méér as op dit wat die Here vra. As ons op God ingestel sou wees, sou dit ons in die regte verhouding met God plaas, en sou sy vrede alles in die kerk oorheers. Maar wanneer mense hulleself in die middelpunt plaas en selfsugtig raak, bring dit net wanorde en onmin. Dan raak ons opponente van mekaar, elkeen aan die stry om ons sin te kry en bo uit te kom.

 

  1. Hy is seker nie ernstig nie!

Ek het nog nooit ‘n onderwerp teëgekom wat die manne om die vuur kan stilmaak nie. Gewoonlik het hulle op alles ‘n antwoord. Maar op hierdie aanklag van Jakobus ken ek geen maklike antwoord nie. Want dit waarvan hy die kerk beskuldig, wat hy eintlik voor ons almal se deur kom lê, skreeu so teen ware kerk-wees dat jy eintlik vir hom wil antwoord: Maar Jakobus, dit kan tog nie wees nie. Jy praat dan hier oor die kerk, oor gelowige mense! Hier moet Jesus tog die Here wees – Hy moet alles wees!

 

Maar soos ek gesê het, die duiwel weet waar ons Achilleshiel lê. Iewers binne-in ons het iets van die ou mens oorgebly, vir wie dit tog al te lekker is om homself te handhaaf en die septer te swaai. Die ou mens smag steeds na heerskappy, hy abdikeer moeilik. Daarom bly selfsug end-uit ‘n bedreiging. Dit kontamineer selfs die mees intieme deel van ons verhouding met die Here, ons gebedslewe. Want selfs ons gebede draai al te maklik net om onsself. Ons bid verkeerd, sê Jakobus. God en sy koninkryk en sy wil staan nie voorop en sentraal in ons gebede nie. Nee, selfs wanneer ons bid, draai alles net om onsself.

 

En dis wat die Satan baie goed weet. En dis die rede waarom die kerk nie naastenby is wat hy behoort te wees nie. Dis nie een mens se skuld, of allerhande kosmetiese goedjies se skuld nie. Die skuld lê diep binne-in elkeen van ons. Ons is nog vir onsself te belangrik, en so kan ons nie regtig kerk wees nie...

 

  1. As dit die probleem is, wat is die oplossing?

Nou wat dan? So what, soos Chris ons leer vra het. Moet ons nou maar vrede maak met hiermee, as dit lyk asof ons dit nooit oorwin gaan kry nie, en as dit so algemeen in ons almal is? Of waar begin ‘n mens, as jy iets daarteen wil doen, as jy dit wil beveg? Jakobus sê die antwoord is eenvoudig. Dit begin by jou.

 

Onderwerp julle aan God, sê Jakobus. Nader tot God... Keer terug na die sentrum van julle bestaan. Onthou wie God is, dan sal jy ook begin onthou wie jy self is. Gaan op jou knieë en praat met God hieroor.

 

Let wel, Jakobus sê nie jy moet gedudig wag totdat dit dalk eendag regkom nie. Nee, daar is nie tyd om te mors nie. Elke sekonde wat verbytik, is ‘n oomblik wat die kerk nie tot eer van God bestaan nie, en dis ondenkbaar! Nee, die tyd is nou. Kies nou! Want dit gaan nie sommer outomaties gebeur nie; dit vra van jou ‘n keuse. Besluit nou om opnuut weer tot God te nader. Begin van voor af met die Here, van voor af in die kerk. Doen afstand van jouself en jou eie sinne en wille, waaraan ons tog so verknog is. Kruisig jou selfsug en selfgesentreerdheid. Want nederigheid is die sleutel. Jou dae van beheer uitoefen is verby...

 

Die goeie nuus in hierdie gedeelte is natuurlik dat jy nie alleen is in hierdie stryd nie! Jy hoef nie jouself reg te ruk nie. Laat God dit doen, gee Hom net kans. Laat herlewing in die kerk en in De Eike gemeente by jóú begin. “Onderwerp jou in nederigheid aan die Here – en Hy sal jou verhoog...”

Amen