Jesaja 41:8-20

Datum: 30 Desember 2018

Prediker: Chris Barnardo

Die lewe laat my dink aan hierdie foto. Op die oppervlak leef ons die lewe. Tog is daar baie dinge en mense en gebeure wat ons gaan bedreig. Onderlangs draai die haaie rond. (Lugfoto van branderplankryers wat op hul branderplanke sit terwyl die haaie onder hullerondswem)  Sal ek nou vir die mense sê dat hulle hul voete uit water moet haal? Of waarom is julle in die eerste plek in die water? Speel veilig en moenie waag nie. Maak planne en kom uit die moeilikheid uit. Begin strand toe swem. Of wees rustig.

 

Wat sê ons vir mekaar op die drumpel van ‘n nuwe jaar? Ons kan mekaar verveel met clichés in die wete dat niks daarvan gaan kom nie. Of as gelowiges kan ons vir mekaar sê, Kom ons beroep onsself op die Woord van die Here. Dit is hoekom ons hier is vanoggend.

 

In Jesaja 41 lees ons hoe die Woord van die Here na sy kinders gekom het toe hulle moedeloos, bang en angstig was. Die volk van Israel was in ballingskap toe hulle hierdie woorde gehoor het. Hulle het alles verloor: hulle huise, besittings en beroepe, en moes ook van hulle geliefdes aan die dood afstaan. Die toekoms was vir hulle donker. Hulle het geen hoop gehad nie. Vir baie van hulle was die ballingskap boonop ’n geloofskrisis. Hoe kon dit tog gebeur? Was hulle dan nie die uitverkore volk van God nie? Het die Here dan vergeet van sy beloftes? Was die Babiloniese gode dan magtiger as die Here? Is God saam met die tempel verwoes? Waar is Hy?

 

In hierdie jaar wat amper verby is, was daar mense wat ook soms soos die bannelinge gevoel het. Ons land het in 2018 wipplank gery en dit is nogal moeilik om meer as ’n handvol mense bymekaar te kry wat ruiterlik sal erken 2018 was hulle beste jaar ooit.

 

Vir Suid-Afrikaners was 2018 ’n jaar van hoë emosies, veral oor omstrede kwessies. Die woord TOKSIES beskryf vir ons die situasie in die land. Dis nie net die Vaalrivier wat TOKSIES is nie. Kyk rondom ons en jy sal agterkom dat omtrent alles ge-infekteer is.

 

Die ballinge het lank voor ons al op hierdie steil pad geloop. Midde in hierdie mismoedige, ja, byna troostelose omstandighede, hoor hulle die bekende stem van God wat vir hulle sê: “Ek is die Here jou God” (Jes. 41:13). Ek is jóú God. Dit is die fondament van troos vir elkeen wat in nood verkeer en angstig is: die Here is ons God! Hy leef en staan in ’n persoonlike verhouding met ons. Dié besondere verhouding word in verse 8-9 aangetoon. Met baie liefde beklemtoon die Here hierdie intieme verhouding wat daar tussen Hom en die mense met wie Hy praat, bestaan.

In Jes. 41:10 hoor hulle, “moenie bang wees nie, Ek is by jou”, woorde wat dwarsdeur die Bybel weerklink. Deur dik en dun, was, is, en sal die Here altyd by sy kinders wees. Van die begin af was dit so. So was die Here by Abraham oral waar hy rondgetrek het. So was die Here by Moses van sy geboorte tot sy dood. Soos ’n goue draad loop die belofte van die teenwoordigheid van die Here deur die hele Ou Testament. En in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus, Immanuel, God by en met ons, is. Hy het self beloof dat Hy tot die voleinding van die wêreld altyd by sy kinders sal wees (Matt. 28:20). Hieraan mag ons nie twyfel nie. God is by ons, ook as alles skeef loop, as ons hoop verloor en angstig raak.

Meer nog, Israel hoor verder ook nog van die Here: “Ek versterk jou” (Jes. 41:10). Die teenwoordigheid van die Here is nie passief nie, maar is ’n versterkende teenwoordigheid. Hy het aan hulle krag gegee. Krag om op te staan uit die kuil van moedeloosheid. Krag om die werklikheid in die oë te kyk. Krag om skouer aan die wiel te sit en iets te doen. Krag om voort te gaan en te leef.

Die afgelope week sit ek in my studeerkamertjie en luister na die lied NADER MY GOD BY U en ek dink aan De Eike se lidmate. Ek dink aan  Koot van Greunen en sy gesin. 2018 het hulle nie goed behandel nie. Koot is op ’n dialise masjien, sy seun het sy nek gebreek in ’n ongeluk. Marie sy skoondogter is met kanker gediagnoseer. Sy vrou Anette se broer het ’n paar maande gelede gesterf. Verlede week het Anette haar ma begrawe. Tussen alles deur het Annette self ook ’n draai op die teatertafel gemaak. Dinge het skeef geloop. Branders het oor hulle gebreek. Maar Koot en sy vrou klou vas aan God wat hulle vashou

 

En ek dink aan soveel families wat hulle geliefdes in ongelukke en moorde verloor het, maar wat hulle lewens weer stukkie vir stukkie bymekaar maak. Ek dink aan ons boere wat smeek vir reën, nogtans staan hulle vas in hulle geloof. En aan jongmense wat huiwer om met ’n gesin te begin en nogtans die Here blindelings vertrou. En aan baie mense wat steeds nie werk het nie, maar wat volstrek weier om in hoopverloor se vlakte uit te kamp. En ek besef dat geloof nie ’n Smartie-boks is met goed-voel lekkertjies nie. Of ’quick-fix’ pilletjies nie. Geloof is ‘n diep wete dat God goed is, wat ookal gebeur. Dat God my God is. Dat God my vashou in alle omstandighede. Dat God my sterk maak om alle omstandighede in die gesig te staar. Dat God vir my sê dat ek nie bang moet wees nie. Dat God my red waarvan Kersdag ’n klinkklare bewys is. Dit is waarin my geloof geanker is. Hy het ons nie afgeskryf nie. Daarom dat sy vredesliedere nogmaals weerklink hier op die drumpel van ’n nuwe jaar.

 

En dan kry ek hoop vir 2019. Hoop vir gesinne, hoop om kinders groot te maak en op te voed. Hoop vir ons land. Hoop vir ons mense.

Mag jyself vasloop in Hom oor wie die hemele sing sodat jy ook ’n bietjie kan rus en veilig voel sodat jy sy vrede kan hê.

SLOT

Hier op die drumpel van die nuwe jaar kom Jesaja 41 vir ons sê dat selfhelpplanne nie werk nie. Jesaja 41 sê vir ons:

Op ons laagste is GOD ons hoop

Wanneer alles donker is. Is GOD ons LIG

Wanneer ons swak is, is GOD ons ANKER

Wanneer ons bang is, is GOD ons Beskermer

Wanneer ons hartseer is, is GOD ons VERTROOSTER

GOD IS ALLES WAT ONS NODIG HET

Kom ons help mekaar om hierdie teks te leef: Kom maak dit ons eerste sewe dae van 2019:

JESAJA 41:10

Dag 1: Moenie bang wees nie,

Dag 2: Ek is met jou;

Dag 3: Moenie bekommerd wees nie,

Dag 4: Ek is jou God.

Dag 5: Ek versterk jou,

Dag 6: Ek help jou,

Dag 7: Met my eie hand red Ek jou.

SIEN – WEET – VERANDER JOU DENKE

Amen