Psalm 98
Datum: 7 Julie 2024 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Dominees het party keer die manier om vir ‘n mens iets vir groot nuus te sê, terwyl julle eintlik regtig hoop jy het dit alreeds geweet. Verlede week was dit ook so. Ek het gepraat oor die tyd van die jaar waarin ons nou is op die kerklike almanak, maar eintlik het ek heimlik gehoop dit sou eintlik ou nuus wees. Maar ten minste weet julle dit nou: dat die ses maande tussen Pinksterfees en Advent in die kerk as koninkrykstyd bekend staan. Inderdaad die grootste deel van die jaar, wat ons vir onsself afvra: Wat sê dit vir jou dat die Here Koning is? En dis wat ons nou in die komende maand gaan doen: ons gaan hierdie vraag ‘n bietjie vanuit verskillende hoeke bekyk. Wat sê dit vir jou dat die Here koning is?
Verlede week het ons weggetrek en bietjie gekyk watter implikasies dit vir ons inhou. Onthou jy van die volk wat vir Samuel vra om vir hulle ‘n koning te salf, want hulle is nou bietjie moeg vir sy seuns se staatskaping? En tot ons verbasing gee die Here hulle toe gelyk en beveel ‘n baie teësinnige Samuel om ‘n koning te gaan salf. Maar eers moes hy die volk waarsku. Daar is iets baie belangriks wat hulle moes weet as jy ‘n koning oor jou wil hê. Jy moet weet dat jou koning die volste reg gaan hê op alles: jou totale lewe en alles wat jy het.
Dis nogal iets wat ons ook moet onthou, wanneer ons so maklik bely dat die Here ons Koning is. Koninkrykstyd herinner ons dat God die Koning letterlik alles van ons vra... Hy vra dat jy Hom sal dien met jou hele hart en siel, en al jou krag. Daar is nie ‘n makliker, goedkoper opsie nie. Die Here vra jou alles...
- Die lewe in God se koninkryk
En nou wonder ek nogal of jy ooit weer in hierdie week wat verby is, ooit weer kans gekry het om daaroor na te dink. Na alles verstaan ek dat jy mos darem nie op vakansie was nie – jy was Maandag terug by die werk, en daar het die moeilikheid blou in die blom gestaan. En as jy afgetree is weet ek jy het nie die tyd om aan enigiets te dink nie. So min van ons het waarskynlik ooit weer nagedink oor hierdie vraag. En weet jy wat? Ek gaan nie vanoggend met jou daaroor raas nie. Ek verstaan. Ek weet mos hoe werk dit, en hoe dit party keer gaan. So jy kan maar uitkom daar onder die kerkbank dat ons kan aangaan.
Kom ons dink eerder vanoggend verder na oor hierdie belangrike vraag: Hoe lyk jou lewe as navolger van God die Koning? Ek bedoel, as ek verlede week vir Samuel reg verstaan het, kan jy nie eintlik in die geheim hierdie Koning volg nie. Dit moet duidelik sigbaar wees as jy met oorgawe die Here as jou Koning dien en volg, totaal anders as die lewe van daardie persoon wat nie ‘n saak met die Here het nie. Daarom vra ek jou vanoggend: Watter verskil maak dit regtig, wat ander mense soos jou lewensmaat daar langs jou in die bank kan raaksien en beaam? Hoe verskil jou lewe van dié van die ou wat nie God as Koning dien nie?
- God se koningskap het nie sommer net uit die lug geval nie.
Maar kom ons begin by Psalm 98. Wat leer ons hier oor die koningskap van God? Jy moet baie mooi verstaan, sê hierdie Psalmdigter: Die Here het nie sy koningskap sommer net so vir Homself toegeëien nie. Anders as die wêreld se konings, waar die oudste seun net bloot sy pa opvolg omdat hy gelukkig genoeg is om in ‘n paleis gebore te word, al sou selfs ek en jy dalk beter as hy kon regeer, het Jesus nie sy koningskap geërf nie! Hy het ook nie net beslag daarop gelê, deur ‘n staatsgreep of staatskaping nie.
Nee, die heerskappy oor alles behoort aan die Here, omdat Hy die oorwinning behaal het. Natuurlik was dit alles van die begin af vanselfsprekend syne. Hy het dit immers alles gemaak! Maar toe het Hy ook verder gegaan en telkens weer sy mense vrygekoop deur die magte wat hulle verslaaf het, te verslaan. Daarom is hulle dubbeld syne. Hierdie tema loop deurlopend soos ‘n goue draad dwarsdeur die Ou Testament. “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis bevry het” is hierdie goue draad waarsonder jy die Ou Testament nie kan verstaan nie. Ons God is die Oorwinnaar oor die magte van hierdie wêreld, ook dié wat absoluut onaantasbaar en onoorwinlik gelyk het. Hy is groter as die mag van die Farao, groter as enigiets wat jou in 2024 kan bedreig.
En daarom moes God se volk lewe soos verloste mense, soos mense wat God as Koning dien. Want Hy is die Oorwinnaar. Hulle hele lewe moet ‘n loflied tot God wees. Daarom is Psalm 98 soos die temalied van die Ou Testament: “Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning.” Ons Here het sy mag gewys, Hy het die oorwinning behaal.... vir die hele wêreld om te sien. Daaraan moes die profete sy volk telkens herinner. Hulle moes nooit ooit vergeet wie die Here is wat ons dien nie.
En toe breek die era van die Nuwe Testament aan. En dit vertel van ‘n selfs nog groter oorwinning. Want op Goeie Vrydag oorwin die Here nie net die Farao nie, maar die magte van die duisternis wat ons as gyselaars gehou het, en red ons uit die kloue van die dood. Hy maak ons vry, en kom gee die lewe vir ons terug. So ontvang ons die bo-natuurlike vrede wat alle verstand te bowe gaan, wat niks van jou kan wegvat nie, en seën Hy ons met ‘n hemelse blydskap wat altyd weet dat niks ooit weer tussen Hom en ons kan inkom nie.
En na Pinksterdag sou dit nooit weer ‘n geheim wees nie. Letterlik die hele wêreld het weerklink met hierdie nuus, dat ons Koning die Oorwinnaar is, en dat aan Hom al die eer in die hemel en op aarde toekom!
- Maar dit strek ook wyer
Maar dis nog nie al nie. Het jy die wonder raakgelees waarvan hierdie Psalm vertel? Het jy raakgelees dat God se koningskap nie net tot die kerk beperk is nie! Sy oorwinning het veel wyer implikasies as dit. Dit het kosmiese betekenis. Dis nie net vir die gelowiges wat verlos gaan word nie, maar dis vir alles en almal. Ook vir die totale skepping wat saam met God se kinders uitsien na die finale openbaarmaking van die koningskap van God. Hy is Koning oor die heelal, en die ganse skepping verkondig sy heerlikheid en sy majesteit elke dag, vir elkeen wat ore het! Daar buite dreun ‘n dawerende loflied deur die skepping, soos die Psalm sê: “Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig, die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here...”
Natuurlik is dit onuitspreeklik wonderlik dat God se koninkryk gekom het, en dat ons deur sy genade daarvan deel kan wees. Maar selfs nog wonderliker is dat hierdie huidige koninkryk, so wonderlik soos dit is, maar voorlopig is. Ons sien nog net die eerste tekens daarvan, en net as ons baie mooi kyk. Maar daar kom ‘n dag, en dis dalk nader as wat jy dink, wat Hy weer kom, en dan gaan sy koningskap nie meer voorlopig wees nie. Dan gaan dit onmiskenbaar deurbreek, sodat elke oog dit sal kan sien, en elkeen sal moet erken dat Hy die Here en die Koning is. Sy huidige heerskappy is inderdaad voorlopig, en tog slaan selfs dit wat ons nou mag ervaar, alreeds ons asem weg. Jy moet weet, dat hierdie net die begin is...
Daarom pas dit ons, om Psalm 98 die temalied van ons lewe te maak. Want alles maar alles draai om die eer van ons Koning.
“Sing dan ’n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin. Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar. Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig; die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het. Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning. Die see en alles daarin moet druis, die aarde en alles daarop moet juig, die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers; Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.“
AMEN