MARKUS 6:1-13
Datum: 4 Julie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Jesus gaan sit nie in sak en as oor die teenkanting wat Hy in Nasaret ontvang nie. Jesus gee nie, soos ons sal sê, “boedel oor”, en besluit om Hom te onttrek nie. Wanneer daardie afbrekende, diep snydende, ongevoelige woorde deur die mense in Nasaret ge-uiter word bring dit hom nie van stryk af nie. Daardie drie woorde, Maria se seun,....... beskou ons nie as ongevoelig, onnodig of onvanpas nie. Maar vir die mense in die Bybel se tyd het daardie drie woorde ’n etiket om ’n persoon se nek laat hang. Daardie drie woorde het presies alles gesê en elkeen het geweet waarna verwys word.
Wat hulle eintlik gesê het, is dat Jesus mos daardie buite-egtelike kind was. Daarom word Josef se naam nie genoem nie. In daardie tye was daar nie na die pa verwys wanneer daar oor buite-egtelike kinders gepraat was nie. Maar ons weet, Jesus is nie Josef se seun nie. Jesus is God se Seun
Vriende, die woorde, “DIE MENSE WOU NIKS VAN HOM WEET NIE”, veroorsaak nie dat Jesus Sy hande in die lug gooi en sê, soos baie van ons al gesê het nie: “Nou het ek genoeg gehad, hier is my bedanking, nie”.
Nee, Jesus het ’n opdrag en daarom gaan Hy by die dorpies rond en leer die mense daar (v 6b). Maar Jesus kan egter nie oral uitkom nie en begin sy dissipels twee-twee na verskillende plekke uitstuur met die nuus dat daar iets nuuts aan die kom is. Dié nuwe werklikheid wat aanbreek, vra bekering. Waardes word omgekeer. Mense moet nuut leer kyk en hulle denk- en lewensrigting verander.
Met net ’n stapstok moes die die boodskappers lig reis en vinnig beweeg, want die tyd is min. Dit is ’n tyd van krisis, hulle moenie tyd verspil terwyl die boodskap versprei word nie.
WAARHEEN EN NA WIE STUUR JESUS ONS NOU?
Hierdie vraag moet nie vaag of in die algemeen beantwoord word nie. Ons is gestuurdes. Ons is die missionale kerk. Eintlik het jy vanoggend nie ’n keuse of jy dit wil doen of nie wil doen nie. As jy Jesus as jou Verlosser bely word jy vanoggend gestuur!
Jesus stuur ons om vergifnis en versoening te verkondig.
Jesus stuur ons om onreg en verdrukking te gaan afwys.
Jesus stuur ons om die swakkes en vreemdelinge op te tel.
Jesus stuur ons om die magte en vrese wat menslike lewe verniel te bestry en bevryding te bring.
Dit is waarheen Jesus ons stuur.
HOE STUUR JESUS ONS?
In ’n tyd waar geestelike beeldpoetsery belangrik is. In ’n tyd waar geestelike “window dressing” plaasvind. In ’n tyd waar geestelike hoogmoed aan die orde van die dag is, ruk Markus ons terug aarde toe. Markus help ons besef dat die regte houding van die boodskapper belangrik is.
Vriende, die derde Covid-golf is hier en die tyd is min! Ons kan nie nou net aan onsself dink nie. De Eike en haar mense kry swaar. Daar is ’n krisis ophande. Kyk na die Gemeentenuus en besef dat daar broers en susters is wat tans dit baie moeilik vind on verby hul pyn en lyding en verdriet te kyk. Vergeet vir slag van jouself en kyk verder. Klim van die LAZYBOY” af en sny vir jou ’n stapstok. Kom in beweging, kry geestelike momentum en vergeet van jouself en alles wat vir jou belangrik is
Want die gestuurdes verkondig nie hulleself nie, maar Christus en die koninkryk.
Die gestuurdes is ook bereid om die gasvryheid van ander waardig te wees. Die boodskap word nie op die ontvangers afgedwing nie, maar Jesus se goeie, werklik bevrydende nuus word by die ontvangers afgelaai. Ons bars nie by huise in en slaan mense met Bybels oor hulle koppe nie. Nee, ons werk sag met mense. Ons maak tyd met mense. Ons luister na mense. Ons kyk mense in die oë en hanteer hulle menswaardig.
WAARMEE STUUR JESUS ONS?
Hy stuur ons met die gesag om bose magte uit te dryf. Kom ons antwoord vanoggend die volgende vraag: Watter bose magte bedreig die welwese van ons gemeente en gemeenskap? Is daar bose bedreigings waaroor ons dalk te bang is om te praat omdat dit ons ongemaklik maak en verleë laat? Watter bekering het ons self nodig? Wat is besig om in jou lewe te gebeur? Is daar dinge in jou lewe wat reggemaak moet word?
SNY VIR JOU ’n STAPSTOK
Wanneer jy vir jouself ’n stapstok sny en hierdie roeping gehoorsaam, moet jy weerstand verwag. Soos in Nasaret, sal die mense nie daarvan hou nie. Ons sal die weerstand ook aan ons eie lyf voel. Mense sal blatant vyandig teenoor jou optree. Baie gaan dit meer subtiel doen en eenvoudig net wegbly van die gemeente se aktiwiteite en bedieninge af.
Maar dit mag ons egter nie verhinder om die regte ding te doen nie.
Ons kan onthou:
- Ons is nie alleen nie, ons loop die pad gesamentlik. Jesus het die dissipels twee-twee uitgestuur.
- Ons is ook nie swak nie, daar is krag beskikbaar. Jesus het aan die dissipels “mag oor die onrein geeste” gegee.
AMEN