Romeine 4:1-8

Datum: 20 Augustus 2017

Prediker: Hannes Burger

Die manne was ‘n baie ernstige gesprek aan die voer om die etenstafel, toe sy ongemerk die vertrek binnesluip. Natuurlik het sy geen reg om daar te wees nie. ‘n Vrou kom immers nie sommer net so ingebars waar manne saam eet en praat nie. Dis net nie haar plek nie, en ‘n paar wenkbroue het onmiddellik begin lig toe hulle haar opmerk. Maar dis asof sy nie eens agtergekom het hulle is daar nie. Sy steur haar niks aan hulle nie. Haar oë is net vasgenael op Jesus, waar Hy  langs die tafel lê en eet. En voordat enigiemand iets kan sê breek sy die flessie vol peperduur parfuumsalf oop en begin Jesus se voete daarmee invryf. Teen dié tyd kan jy oral om die tafel net kwaai fronse op die gaste se gesigte sien, maar steeds sien sy dit nie eens raak nie. Miskien kan sy dit nie sien nie, want die trane verblind haar totaal. Hulle stroom oor haar wange en drup op Jesus se voete, sodat sy dit met haar hare begin afvee.

Maar Jesus hou wel sy gasheer stip dop, en sien sy frustrasie met die situasie raak. “Simon” sê Hy. “Ek wil jou bietjie iets vra...” “Vra maar” antwoord hy, terwyl hy seker maar wonder wat kom. Sê my Simon, wie dink jy gaan agterna die dankbaarste wees: die een wat weet dat hy niks verdien het nie, en tog alles vergewe is, of die een wat meen dat hy dit eintlik heeltyd verdien het?”

Teen die tyd besef Simon seker al wat hy ook al antwoord, gaan verkeerd wees. “Ek neem aan die ou wat die meeste vergewe is...” waag hy tog. En dis net waarvoor Jesus wag. Jy’s reg, Simon. Die een wat baie vergewe is, sal baie liefhê. En dis een wat reken hy is eintlik min vergewe, wat ook nie eintlik sal liefhê nie.” En toe draai Hy na die vrou toe en sê: “Jou sonde is vergewe...”

  1. Waar kry ek ‘n genadige God?

Waar kry mens genade? Dis die vraag wat Maarten Luther eeue later nagte wakker gehou het. Want die God waarvan hulle hom geleer het, het geen genade gehad nie. Hy het net die hele tyd gehoor dat God jou kwaai dophou vir elke misstappie wat jy begaan, sodat hy jou kan straf. En dit kon Luther nie glo nie.  Hy het immers gelees dat Johannes sê dat God liefde is. Selfs toe Luther later ‘n monnik geword het en elke dag vir die Here gewerk het, het die vraag hom nie gelos nie. Dit het hom bly teister: Waar kry ek ‘n genadige God?

En toe doen Luther die slimste ding wat hy kon doen. Hy begin sy Bybel bestudeer. En daar in die Bybel leer ken hy die wonderlike verhaal van Abraham. Abraham, van wie die Bybel sê dat hy God se kind was. En toe hy met hierdie wonderlike verhaal van Abraham in sy agterkop Romeine 4 lees, gaan daar vir Luther ‘n verblindende lig op. Uiteindelik het Luther begin verstaan. Uiteindelik ontdek Luther die genadige God wat hy nog heeltyd gesoek het. Of dalk moet ek eerder sê: Uiteindelik het die genadige God wat hy so gesoek het, hóm ontdek...

  1. Abraham is uit geloof gered

Kom ons dink bietjie oor Abraham. Wat het met hom gebeur? Ek meen: die een oomblik was hy nog in die heidense land waar hy grootgeword het, en hy het God nie geken nie. En die volgende oomblik beskryf die Bybel hom as “die vader van al die gelowiges”. Wat het gebeur? Wat het hierdie geweldige omwenteling in Abraham se lewe gebring, wat hom ‘n kind van God gemaak het?

Dalk sou jy dink dat dit gebeur het omdat God hom beloon het, omdat Abraham so ‘n wonderlik gelowige mens was. Hy het dit verdien, sou jy kon sê – en jy sal nie alleen wees nie, want dis presies wat die Fariseërs ook gereken het. Abraham was hulle groot held, omdat hy so wonderlik geglo het! En as dit waar is, sou Abraham alle rede hê om homself daaroor aan te stel! Dit sou ‘n reuse groot prestasie wees!

Maar NEE, dis nie wat daar gebeur het nie, sê Paulus... Hier in vers 3 sê die Bybel baie duidelik: Abraham het geglo, en daarom het God hom vrygespreek...”

  1. “Abraham het geglo, en daarom het God hom vrygespreek...”

Maar wat beteken dit? Ek onthou die dag toe ons in die kweekskool vir ons professor hierdie vraag gevra het. Wat is geloof? Hy het ons geantwoord: Onthou altyd, geloof is nie iets wat jy doen nie. Dan sou dit ‘n goeie daad gewees het en sou ons verlos word om grond van ons eie dade. Dan het ons eintlik onsself verlos. Maar nee, geloof is nie iets wat jy doen nie – geloof is juis wanneer jy ophou om te doen. In die teologie noem ons dit die “leegheid van die geloof”. Geloof is nie iets wat jy God kan aanbied, sodat jy hemel toe kan gaan nie. Geloof is wanneer jy alle menslike waardigheid oorboord gooi, alles waarop jy jou saak voor God kon grond, laat gaan, geloof is om net met leë hande voor God te gaan staan. Geloof is nie iets wat jy doen nie. Dis om op te hou doen, sodat God alles kan doen.

Dis nie iets wat Abraham gedoen het nie; dis iets wat God gedoen het, en wat Abraham net ontvang het. Totaal onverdiend. Net louter genade...

Geloof is om eenvoudig bakhand voor God te staan, en net alles te ontvang wat Jesus klaar verdien het. Dis waarom Paulus dit so duidelik hier stel: ons het niks om op te roem nie. Ons het geen teenprestasie wat ons vir God kan aanbied nie. Ons staan met leë hande voor God. Dis alles, alles net genade...

En dit bring my dan op die ou end terug na daardie worstelvraag wat vir Maarten Luther so snags wakker gehou het: Waar kry jy ‘n genadige God? Weet jy, daar is geen beter plek, as aan hierdie tafel nie... Want raai, jy hoef nie te betaal vir hierdie broodjies en hierdie wyn nie. Jy hoef nie eens die waiters te tip nie. Jy kan dit maar net vat. En jy hoef geen teenprestasie te lewer vir dit waarvoor hierdie tekens staan nie, vir die liggaam van Christus wat vir jou gebreek is en sy bloed wat vir jou gevloei het, en vir die volkome vergiffenis van sonde wat dit vir jou bring nie. Jy kan dit maar net vat. Dis verniet.

Dis waarom hierdie selfde Luther so treffend hierdie Nagmaal genoem het: “die maaltyd van bedelaars”. Want hier ontvang ons net. Totaal onverdiend. Net uit genade alleen.

Die groot vraag is net: Hoe dankbaar gaan jy wees, nadat jy sóveel ontvang het...? Simon het nie gedink hy hoef homself vreeslik uit te sit nie. Hy was seker hy verdien dit eintlik alles uit God se hand. Hy het eintlik gereken God skuld hóm iets omdat hy so ‘n wonderlike gelowige is. Maar die vroutjie aan Jesus se voete het verstaan. Sy het net ontvang, soos Jesus ons geleer het. Soos ‘n kindjie. En so is sy op die ou end die een wat die wonderlike woorde uit Jesus se mond hoor: “Jou sondes is vergewe.” En toe die ander wat saam aan tafel was, onder mekaar begin sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” het Jesus verder gegaan en vir haar gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

NAGMAALSFORMULIER

Die laaste aand voor sy kruisiging het Jesus die Nagmaal ingestel.  Hulle was besig om die Pasga te vier, wat hulle moes herinner hoe wonderlik God sy kinders uit Egipte verlos het. Maar Jesus toe al geweet dat Hy die volgende dag gekruisig sou word. Daarom het Hy die brood geneem en uitgedeel, en gesê: “Dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy die beker wyn geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaraan dink, tot my gedagtenis.”

Ons vier vanoggend die Nagmaal omdat óns nie onsself kan verlos nie. Ons sou verlore gaan, maar God was te lief vir ons om dit toe te laat. Toe laat Hy Iemand anders vir ons sonde betaal. Daardie Iemand was sy eie Seun, Jesus Christus.

As ons die Nagmaal geniet, onthou ons dan dat Jesus álles vir ons gedoen het. Hy het aan die kruis vir ons gesterf sodat ons vry kan wees en kan lewe, en eendag hemel toe kan gaan. Hierdie tekens herinner ons hoe lief God ons het, en dat Hy ons verlos het om sy kinders te kan wees. Hierdie broodjies herhinner ons aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn aan sy bloed wat vir ons gestort is.

Maar dis nie al wat gebeur as ons die Nagmaal vier nie. Daar gebeur ook iets anders, as ons dit so saam geniet. Daar gebeur ‘n wonderwerk. Omdat ons almal dieselfde broodjies eet en van dieselfde sap drink, bind die Nagmaal ons saam. Hier aan die tafel van die Here word ons broers en susters, deel van God se groot gesin. Die Nagmaal maak van ons een groot familie.

Maar die Nagmaal bind ons nie net aan mekaar nie; dit bind ons ook weer aan die Here. Dit help ons om vir Hom te lewe, sodat Hy ons Koning kan wees. Verder maak dit ook ons geloof sterk, sodat ons meer tot sy eer sal lewe.

Daarby herinner dit ons daaraan dat Hy weer kom. Eendag gaan ons in die hemel weer so aansit, as Jesus weer gekom het, en almal saam fees vier. Natuurlik weet ons nie wanneer dit gaan wees nie, maar ons weet dit kan enige oomblik wees, en daarom moet ons reg wees as Hy weer kom.

Die Nagmaal is bedoel vir hulle wat glo in die Here. Wat weet dat hulle nie volmaak is nie, maar juis die Here nodig het. Net mense wie se Koning Jesus regtig is, mag aan die tafel aansit. In die Nagmaal vier ons dat God ons só lief het, dat Hy vir ons sy eie Seun gegee het, sodat Jesus aan die kruis vir al ons sonde betaal het. Dit help ons om nou met nuwe ywer vir Hom te gaan lewe.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.

AMEN

Gebed

 “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid

AMEN.

Danksegging

Genade, onbeskryflik groot het U aan my bewys:

Verlore seun - ‘n wegloopkind - weer in die Vaderhuis.

Ek is die naam van kind nie werd – wou self my sake reël.

My lewe, kanse tyd en geld is nutteloos verspeel.

Maar U sien ver, oneindig ver. U sien my homger, dors.

Nog voordat ek kon skuld bely, deruk U my aan die bors.

Genade, onbeskryflik groot – daar’s fees, ek is weer tuis.

U Seun bring my- verlore mens – weer in die Vaderhuis