Deuteronomium 34:1-12
Datum: 23 September 2018
Prediker: Johan Morkel
Soms faal ons die Here en ander kere gebruik die Here ons weer!
Moses staan op die Neboberg. Die Here wys vir Moses die Beloofde land, die land waarheen die Here hom geroep het om die Israeliete vanuit die slawerny in Egipte te lei. Die land van melk en heuning! Moses sien die Beloofde land vanaf Dan in die weste aan die Middellandse see tot by Gilead in die ooste en vanaf Naftali in die noorde tot sover soos Moses suid kon sien – die Suidland. Ten spyte van dat v.7 sê Moses se oë was nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie, kon Moses slegs die Beloofde land sien. Die Here het Moses verbied om die Beloofde land in te gaan omdat hy die Here ongehoorsaam was by Meribba en die rots met sy kierie geslaan het in plaas van om met die rots te praat.
Hoe sou Moses in hierdie oomblikke voel? Wat sou deur Moses se gedagtes gaan? Hoe sou jy gevoel het? Moses se gedagtes sou sekerlik teruggegaan het oor sy lewe - vanaf geboorte tot dié dag! Moses sou besef dat die Here hom regdeur sy lewe begenadig het! Dat hy ‘n begenadigde van God was! Mens kan dit opnoem. Eintlik moes Moses as Joodse seuntjie in Egipte om die lewe gebring gewees het. Die Here het hom begenadig deurdat sy ma hom 3 maande lank vir die Egiptenare weggesteek het. Die Here het Moses verder begenadig deurdat die Farao se dogter hom in die mandjie in die Nylrivier gekry het en hom in die farao se paleis kon grootmaak. Moses sou waarskynlik in hierdie oomblikke ook dink aan die dag toe die Here Homself aan hom openbaar het in die brandende doringbos. By dieselfde geleentheid het die Here Moses geroep om Israel uit Egipte te lei tot op die drumpel van die Beloofde land. Hier waar Moses nou staan en met sy eie oë die Beloofde land sien.
Vriende, kom ons dink ook vanoggend bietjie terug oor ons lewens. Ongeag op watter plek ons tans in ons lewens is, ongeag of ons oud of jonk is, ongeag of dit met ons goedgaan of minder goed gaan. Kom ons dink vir oomblik na oor hoe begenadig ons is. Ons is gedoop. In die doop het God sy genade aan ons kom verklaar. Ons gaan juis ook vanoggend ervaar hoedat God in sy groot genade sy liefde aan klein Leah en Franja verklaar. Jy is deur God begenadig as jy gedoop is! Miskien dink jy in die oomblikke aan jou ouers of grootouers of iemand anders wat vir jou die geloofsplatvorm geskep het waarop jou geloof verder kon groei. Miskien dink jy aan die feit dat jy gered is, dat jy ‘n kind van God is! Dalk dink jy aan hoedat die Here in jou lewe beskik het sodat dinge vir jou ten goede uitgewerk het. Dit is ook genade van die Here as ons ons gesond is, as ons ‘n huis het, ‘n gesin het, ‘n werk het, ‘n inkomste verdien. Ek gee ‘n paar oomblikke van nadenke oor die Here se genade in ons lewens! Die Here se genade is groot oor ons!
Moses se gedagtes sou waarskynlik in dié oomblikke ook teruggaan na negatiewe momente in sy lewe, mislukkings, geleenthede waar hy die Here gefaal het. Ons dink aan die dag toe Moses die Egiptenaar doodgeslaan het(Eks.2:12), die dag toe Moses onwillig was nadat die Here hom geroep het en hy die Here geantwoord het, “Wie is ek dat ek dit by die Farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry?”(Eks.3:11). Ons dink aan die dag toe Moses het verder gegaan en vir die Here gesê: “Ag Here, ek kan nie goed praat nie.” Net daarna staan daar selfs in die Bybel: “Toe word die Here kwaad!” En dan is daar die insident waarna ons in die begin verwys het waar Moses die rots met sy kierie geslaan het in plaas van om met die rots te praat.(Num.20) Die wonder is dat die Here geduld met Moses gehad het, dat die Here Moses nie afgeskryf het nie, dat die Here steeds met Moses volhard het tot op die drumpel van die Beloofde land.
Soos Moses, so kan ons ook dink aan insidente in ons verlede waar ons die Here gefaal het, ongehoorsaam aan die Here was, gesondig het. Die duiwel is natuurlik gou om hierdie herinneringe ons voor die gees te roep. Gelukkig leef ons na die koms van Jesus Christus na die aarde. Ons weet Jesus het aan die kruis gesterf vir ons sondes, ons kan elke dag leef uit die vergiffenis van Jesus. Ons weet wat ons ookal gesondig het, wat ookal ons voel tussen ons en die Here staan, wat ookal ons voel verwydering tussen ons en die Here skep, ons kan in berou na die Here gaan en Hy vergewe ons ons sondes! Ek gaan nou ook hiervoor tyd gee. Bely, erken voor die Here waar jy Hom gefaal het, hê berou daaroor. Daar is vir jou vergewing van sondes deur die bloed van Jesus Christus. Gaan leef nou met hernude geloof vanuit die vergiffenis wat jy van die Here ontvang het!
Die mees kenmerkende eienskap van Moses se lewe is hoe die Here hom gebruik het. V.10 sê: “Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgestaan soos wat Moses was nie!” Ons kan die kere wat Moses ‘n instrument in God se hand was, ook lys! Moses het na sy aanvanklike verset, uiteindelik Farao gevra om die Israeliete vry te laat. Die Here het Moses gebruik om die 10 plae aan te kondig en te laat gebeur. Die Here het Moses gebruik om die Pasga in te stel. In opdrag van die Here het Moses die Rooisee in twee gekloof deur sy kierie oor die see uit te steek. In Eks.15:25 kla die volk by Moses oor die bitter water. Moses gooi in opdrag van die Here ‘n houtstomp in die water en die water het drinkbaar geword. Moses is die instrument waardeur die Here die 10 gebooie aan sy volk op die Sinaiberg gegee het. En hier staan Moses saam met die Here op die die drumpel van die Beloofde land - mission completed!
Sal ek jou ook geleentheid gee om na te dink waar die Here jou in jou lewe gebruik het? Moet tog nou nie so beskeie wees om te dink die Here het jou nie gebruik nie! Herken ook vanoggend terwyl jy daar in die bank sit dat jy ook ‘n instrument in die Here se hand was! Miskien was dit die glimlag, die drukkie, die ondersteuning wat jy iemand langs die lewenspad gegee het. Miskien was dit die rol wat jy as ouer in jou kinders se lewens gespeel het. Miskien was dit die voorbeeld wat jy vir ander by die werk gestel het, die jare wat jy diaken of ouderling of sondagskoolonderwyser of kinderkransleidster of Vrouediensleier of kleingroepleier of wat ookal was. Dalk was dit jou getrouheid wat die Here gebruik het om ander te bemoedig, jou selfbeheersing wat ander versterk het, jou opofferings wat ander raakgesien en nagevolg het. Ons moenie wegstaan van die geleenthede waar die Here ons wel gebruik het nie. Ek gaan ook nou ‘n paar oomblikke van stilte hiervoor gee. Erken die kere wat die Here jou gebruik het, dank die Here daarvoor, wees diep dankbaar dat die Here jou in sy Koninkryk gebruik soos vir Moses.
Moses staan hier op die Neboberg aan die einde van sy lewe. Ek en jy staan deur die genade van die Here nog in die lewe. Ons is nog begenadigdes. Laat ons elke dag leef vanuit die besef dat die Here ons begenadig, Hom met ons bemoei, sorg vir ons! Laat julle as doopouers, Francois en Yolande, en ook alle doopouers, julle kinders vertel van die God wat in genade na hulle uitgereik het in hul doop en steeds bly uitreik na hulle. Ons is en bly feilbare mense, sondaars. Laat ons telkens leef vanuit die vergiffenis van Jesus vir ons bewerk het, laat ons ook ons kinders leer dat die Here daar is om hul op te tel as hulle geval het, (ek het dikwels gevind dat ‘n kind dink alles is verlore as hulle gestruikel het!). Ons is instrumente van die Here. Laat ons onsself bly beskikbaar stel vir die Here - Hy gebruik, Hy werk deur mense soos Moses, soos ons! Laat ons ook ons kinders van kleinsaf leer wat dit beteken om die Here diensbaar te wees!
Amen