Romein 4:1-6,12-18

Datum: 5 Maart 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

INLEIDING

 

Dalk vind jy vanoggend nie aanklank by al my stories nie. Tog wil ek waag om dit met julle te deel want dit is die wyse waarmee ek die Woord wil prakties maak. Ons kleinkinders vra gereeld vir ons om stories van ons kindertyd vir hulle te vertel. Is daar onthou-goed uit jou kinderjare wat jou vandag nog bybly? Onthou jy nog die Saterdagaand vermaak saam met pa in die voortuin terwyl daar na die sterre gekyk word?

Daardie voel-goed oomblikke op ‘n kombers saam met pa, op die naat van jou rug, terwyl die naggeluide in ‘n koor jou saamneem op reis deur die heelal.   “Kom ons pluk vanaand ‘n handvol sterre want hulle is so naby”: Het ek vir pa gesê. Dan het hy saggies gelag want die koor van naggeluide wou hy nie versteur nie. “Kan jy hulle tel.”: het pa saggies gevra? “Onmoontlik”: Het ek gefluister.

 

Dalk het Abraham ook so daaraan gedink toe God hom buitentoe geneem het en vir hom gevra het om die sterre te tel.  “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” So baie sal jou nageslag wees.” (Genesis 15:5) Ek wonder wat het Abraham gedink nadat God aan hom hierdie belofte gemaak het? Wat ons wel weet is dat ‘n kinderlose Abraham dit tot op die jeugdige ouderdom van honderd jaar vas geglo het. Die tyd toe sy seun Isak gebore is. So baie soos die sterre, so baie mense sal deel van sy familie wees.

En dit is presies wat Paulus by die gemeente in Rome wil tuisbring. Ons is ’n familie in Christus Jesus.

 

  1. TOG SUKKEL DIE GEMEENTE IN ROME OM MEKAAR ONVOORWAARDELIK TE AANVAAR

 

Dit was ’n moeilike bediening vir Paulus. Die geloofsgemeenskap in Rome kon jy nie sonder handskoene aanpak nie. Dit was nie speletjies nie. Rome was enige dominee se nagmerrie. Die gelowiges in Rome was met alle respek, ’n moeilike spulletjie gewees. Die waarheid dat hulle álmal kinders van Abraham is, het nog nie behoorlik by hulle tuisgekom nie. Die geloofsgemeenskap was verdeeld gewees. Ek vermoed dat die geestelike leiers baie kere hulle hande in die lug wou gooi en wou wegstap van alles af. Vriende om die gemeente in Rome se storie beter te verstaan behoort ons eintlik die boek Romeine van agter af te lees. Van Romeine 16 af terug tot by hoofstuk 1.  Geleerdes dink dat ons ’n beter verstaan van Romeine sal hê wanneer ons dit doen. Tweedrag het soos groenvoer in die gemeente gegroei. Lidmate het mekaar aanstoot gegee en mekaar nie aanvaar nie. Paulus het sy hande vol om te verduidelik dat die lidmate mekaar moet aanvaar soos Christus hulle aanvaar het, tot eer van God. Daar was heeltyd ’n stryery en veroordeling oor verskillende opvattings. Lees hoofstuk 16. Die lidmate het in onvrede met mekaar geleef.

Paulus lê dit op lidmate se harte om hul eerder te beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (14:19). Naasteliefde was skaars gewees en dit gryp Paulus aan die hart. Hy smeek dat lidmate eensgesind moet wees en uit een mond lof moet bring aan die Here. Paulus vra dat lidmate lewende offers sal wees wat nie gelykvormig aan die wêreld sal word nie. Lidmate moet daarna streef om heeltyd te vernuwe soos wat God wil hê hulle moet wees. Raak ontslae van al die vooroordele en kritiek op mense.

 

Ek kan dit nie beter stel nie. Hoofstuk 15 vers 1 lees ek: Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van die wat nie sterk is nie. Vergeet van jouself en dink aan jou naaste. Raak ontslae van geestelike hoogmoed en ag die ander persoon hoër as jouself. Niemand het spesiale sitplekke in die kerk nie. Almal is gelyk voor die Here. Kom weg en klim van daardie geestelike hoë grond af en vat hande.

Almal is deel van die familie. Dit was die gemeente in Rome. Wat van ons?

 

  1. HOE LYK ONS STORIE?

 

Ek en jy is deel van die familie. Maar daar is nog baie ander kinders wat anders lyk en anders doen en anders dink en anders beleef en ervaar en anders praat. Geloofsbroers en susters. Ons naaste. Daarvoor het God vir Abraham “… die vader van baie nasies gemaak. Abraham het geglo in God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (Rom 4:17, 1983/1992-vertaling). God het aan Abraham belowe en Abraham het geglo en vasgehou aan die belofte. Abraham se vertroue was in God wat lewe sou bring waar daar nie lewe was nie. Dit is God wat vir Christus uit die dood opgewek het. Dit is God wat iets uit niks maak, die Skeppergod wat nêrens-mense van nêrens af inbring om deelgenote te word van sy verbondsbeloftes;

mense soos Abraham en ál sy geloofskinders.

 

Ons het ook ’n storie. Ons is hier en nou kerk. Wat sou die implikasie van Romeine 4 wees vir die kerk van 2023? Kyk wat gebeur in Ierland tussen die Katolieke en die Protestante. Kyk na die verdeeldheid van die kerk in die Oekraïne. Midde-in ’n oorlog is die kerk verdeeld en kry God se koninkryk skade. Kyk na ons eie kerk. Die NGK is so verdeeld oor soveel kwessies. Kyk na die verdeeldheid wat daar dalk tans hier in ons eie plaaslike gemeente oor bepaalde sake is? Soos die sterre in die hemel, so baie sal jou nageslag wees Abraham. Beywer ons onsself daarvoor in De Eike? Gaan ons ook lééf asof ons inderdaad kinders van een verbondsvader is? Gaan ons eenheid getuig dat ons deur genade alleen geregverdig is, ingesluit in die verbond?

  1. SLOT

Ons moet sorg dat De Eike se deure wawyd oop bly. Wawyd oop sodat elke gesin met hulle eie uniekheid welkom is in hierdie familie. Ons moet bekend staan as die gemeente met oop deure propvol onverdunde gasvryheid. Maar De Eike moet ook seker maak dat Jesus die Here bly van elke lidmaat sodat ons nie ontaard in die gemeente soos destyds in Rome nie.

Kompromieloos moet ons hierdie balans handhaaf sonder om mense aanstoot te gee. Ons moet almal innooi en laat tuis voel.  Mense wat by daardie deure instap op ’n Sondagoggend moet kan sê: Ek is een van daardie sterre waarna God vir Abraham destyds gewys het. Ek het tuisgekom. Ek is by die huis. Ek wonder nie, ek weet ek is familie.

AMEN