Tessalonisense 1:1 -10

Datum: 18 Oktober 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

Daar is geen video opname van die diens nie

INLEIDING

Ons land en sy mense is kniediep in die moeilikheid, selfs dieper. En dit is nie COVID – 19, Staatskaping en bedrog waaroor ek vanoggend wil praat nie. Hierdie moeilikheid kan in drie woorde opgesom word – GEBREK AAN GELOOFWAARDIGHEID. Die wêreld kyk na hierdie land en wonder seker wat is volgende.

Ongelukkig is dit ook ’n aanklag teenoor die kerk. Die afgelope week het ek ’n interessante gesprek met ’n persoon gehad wat nie behoort aan ‘n gemeente nie. Hy is ‘n Kers- en Paasfees lidmaat soos hy dit aan my stel. ‘n Fyn afgeronde man in sy vroeë veertigs. ‘n Persoon wat eintlik al kan aftree maar soos hy sê: “Hy gebruik nou sy geld om vir mense wat swaarkry te sorg.” Ek vermoed dat hy sy vertroue in die kerkgangers verloor het. Ek vermoed dat iets in sy lewe gebeur het en dat mense kringetjie om hom gemaak het en dat klippe op hom neer gedreun het. Hy moes êrens seergekry het. Oor ‘n heerlike “double shot” Americano sê hy vir my die volgende: Christians don’t play the full scale.” Hy kon sien dat ek effens verlore was en het die volgende storie met my gedeel. ’n Baie bekende musikant se seun is ’n rebel en moeilikheidmaker. Een van daardie kinders wat ouers slapelose nagte gee en dit regtig onaangenaam vir die gesin maak. Wanneer hierdie seun na sy laatnag gefuif by die huis instrompel is dit sy gewoonte om die volgende note op sy pa se klavier te druk en dan te gaan slaap: "Do-Re-Mi-Fa-Sol-La-Ti…"

Dan lê hierdie kind se pa en wag vir die laaste “DO” wat nie gebeur nie. En die pa kan dit nie hanteer nie, klim dan uit die bed, stap na die klavier en druk daardie laas noot op die klavier....”DO”. Dan eers kan die pa rustig word en gaan slaap.

Dit het steeds nie sin gemaak nie totdat hy die volgende vir my gesê het: Julle speel rond met ’n paar note van geloof, maar julle speel nie die volle toonleer nie. Julle speel nie die “full scale nie” Julle speel nie die volledige Tonic Solfa nie.

  • Julle vergewe, maar nie volledig nie.
  • Julle het lief, maar nie onvoorwaardelik nie.
  • Julle is diensbaar, maar met voorbehoud.
  • Julle aanvaar vir Jesus, maar nie volledig nie.
  • Julle handhaaf ’n Christelike lewenstyl, maar nie ten volle nie.
  • Julle wy julle lewens aan die Here, maar nie in totaliteit nie.

En dit het my laat dink aan eerste indrukke. Wat sien mense wanneer hulle na ons as ’n gemeente kyk? Wat sien mense wanneer daar na ons gemeente se gesinne gekyk word? Wat is hulle eerste indrukke oor ons? Speel ons die volle toonleer? Of speel ons rond met paar geloofswoordjies?

 

Een Tessalonisense is die eerste indrukke van ’n geskrewe getuigskrif van die apostel Paulus. Paulus se eerste boodskap word geskryf aan ’n gemeente wat hy geplant het. Een Tessalonisense is die eerste en oudste stem van die Christelike geloof in geskrewe vorm. Hierdie is ’n brief wat handel oor verhoudings en rolmodelle. Dit handel oor geloof in aksie. Moenie net praat nie, doen! Ons praat nie net oor die liefde nie, maar oor die werke van die liefde. Een Johannes 3:18 herinner ons hieraan: 18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Die VOLLE toonleer!

Hoe gaan ons dit regkry? Hoe gaan gesinne die volle toonleer van geloof kan baasraak? Waar staan ons vanoggend? Staan ons nog steeds voor die tekenbord? Of is ons dalk in proses? Veilig binne ‘n private versameling? Of deel van ‘n uitstalling by ‘n museum? Watter kwaliteite wens jy vir jou kinders toe? Pappas en Mammas wat vanoggend julle babas laat doop? Waaroor droom en bid julle vir julle kinders? Oupas en oumas? Ooms en tannies. Vriende en vriendinne. Elkeen van ons vanoggend by hierdie samekoms? Watter kwaliteite wens jy kan in jou eie lewe ontwikkel of versterk word.

Ek hoor vanoggend drie dinge wat die Here vir ons sê.

1.Toegerus met ‘n gefokusde krag van Christus se lewende teenwoordigheid.

  1. Die alom teenwoordigheid van die Heilige Gees.
  2. Passievol in jou oortuiging.

Met ander woorde Fokus, teenwoordigheid en  passie is die eerste indrukke wat ons kry van ‘n navolger van Jesus.

En ons lees hiervan in hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika. Paulus se eerste woorde in hierdie brief handel oor hierdie drie besondere geskenke wat geloof in Christus by gelowiges inboesem.

1) Die krag van Christus se lewende teenwoordigheid.

2) Die persoonlike en gemeenskaplike teenwoordigheid van die Heilige Gees.

3) Die passie van oortuiging.

Deur die Goddelike krag en die teenwoordigheid van die Heilige Gees en die gemeente se geloof - passie is die WOORD van die Here wyd en syd verkondig. Oral het die mense gehoor van die gemeente se geloof in God. Daar was nie sosiale media, televisie en selfone nie. Mense het vertel van die hierdie klein gemeente  in Tessalonika wat passievol leef en werk in die voetspore van Jesus. Hierdie gemeente, ’n druppeltjie in die see, het die volle toonleer gespeel terwyl hulle onbeskryflike druk en spanning van oral moes beleef. Die bure, die inwoners van die stad, die owerhede, selfs betogings was ge-orkestreer om hierdie gemeente te destabiliseer. Die stad was in oproer. Mense was afgunstig. Ja, alles was teen hulle, maar tog het hulle uit een mond saam met Paulus, die volgende bely: Hierdie Jesus: “Hý is die Christus.” Handelinge 17:1-9.

 

Paulus se eerste geskrewe boodskap aan ’n klein gemeente in Tessalonika het gehandel oor aksie wat nie met woorde oorgedra kan word nie. Aksies gedryf deur krag en passie wat nie begrawe kon word nie, ’n teenwoordigheid wat nie deur die owerhede ontken kon word nie.

  1. KRAG.

Die eerste indrukke van die Evangelie was krag. Die Waarheid het met krag na die mense gekom. Jesus het regtig gesit, geëet en met mense gepraat oor wat in hulle lewens aangaan. Die eerste indrukke aangaande Jesus was nie een van afstand nie, maar ’n helpende hand en ’n gewillige oor om te luister. Jesus se krag lê in aksie, in uitreik en heelmaak. Jesus se krag is ’n krag van liefde.

Dit is die krag waarvan Paulus praat en die gemeente prys. Die gemeente in Tessalonika het oor  ’n lewensveranderde krag beskik.

  1. TEENWOORDIGHEID

Paulus vra dat die gemeente die lewende teenwoordigheid van die Heilige Gees moet omhels. Daardie heilige oproep wat in ons lewens resoneer, wat ons dring om te doen wat ons moet doen. DIT is die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens.

Om in die Gees te leef beteken dat ons soms gaan swaarkry. Om ’n geloofsprong te waag is angswekkend, om iemand te vertrou vra baie van ’n mens, om meer te gee as wat jy kan, vat “guts”. Maar om in die Gees te leef kan jou ook in moeilike tye met onbeskryflike genade, eindelose liefde en onverwagse geskenke verras. Jy sal nooit weet nie. Jy sal jou hele lewe verwonderd staan oor dit wat in jou lewe gebeur. Of jy nou  twintig minute of alreeds twintig jaar bewus is van die Heilige Gees in jou lewe, dit bly ’n lewensveranderde avontuur wat onbeskryflik is. Maar dit vat “GUTS” om die Gees volkome met jou lewe te vertrou.

  1. PASSIE

Met volle oortuiging, beteken om PASSSIEVOL te leef. Dit is wat ons moet modelleer. Christene moet passievolle lewens leef wat diep, diep omgee vir die lewe en die wêreld demonstreer .

Hierdie lidmate van Tessalonika was gebombardeer met emmers vol kultiese gode en godinne. Die owerhede het hulle onder onbeskryflike druk geplaas. Maar hulle het staande gebly met ’n passie vir die Here. Paulus, die stigter van die gemeente in Tessalonika prys die lidmate vir hul entoesiasme, toewyding en passie. Hulle speel die volle toonleer. Hulle doen nie dinge half – half nie. Hulle speel nie rond met ’n paar note van geloof nie. Hulle speel die volledige Tonic Solfa. Hulle besit wat PASSIE in lewens vrystel – hoop vir die toekoms en om te waag om nuwe drome te droom.

SLOT

Dit is die evangelie van Jesus Christus. Dis eerste indrukke van ’n persoon wat in die voetspore van Jesus leef. Krag wat die storie vertel van liefde en opoffering, die onvoorspelbaarheid van die Heilige Gees wat ons op verrassende nuwe roetes neem, en die passie van hoop en liefde wat ons help om God se droom vir die wêreld te droom. Hoe belaglik dit dalk vir ander mense kan lyk.

Want ek weet, met Sy eindelose geduld en onbeskryflike genade reik Hy uit en druk Hy daardie laaste noot uit liefde vir ons wanneer ek dit nie kan doen nie.

LEEF GELOOFWAARDIG.

SPEEL DIE VOLLE TONIC SOLFA

EN LEER  DIT VIR ONS KINDERS

AMEN