Lukas 17:20–21 en Romeine 8:28

Datum: 28 September 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Cluedo is ‘n speletjie waar jy moet uitvind wie die moord gepleeg het, met watter wapen, en in watter kamer.  Dit is ’n speletjie oor leidrade, geheime, raaiwerk en speurwerk. Ons almal hou daarvan om speurders te wees – om leidrade te volg, raaisels op te los en ’n geheim te ontdek. ’n Speurder kyk anders na die wêreld. Speurder leef met ’n nuuskierige oog en ’n fynaanvoeling om te ontdek.

 

So word ons as gelowiges genooi om speurders van God se Koninkryk te wees. Jesus leer ons in Lukas 17 dat die Koninkryk van God nie met groot tekens en dramatiese vertoon kom nie, maar dat dit reeds hier is – “die Koninkryk van God is binne-in julle.” Dit beteken dat ons geroep word om, soos speurders, aandagtig en oplettend te kyk waar God reeds werk.

 

  1. Die wêreld soek groot tekens – God werk stil en naby

Die Fariseërs wou weet: “Wanneer?” Hulle wou ’n kalenderdatum hê. Hulle het gedink die Koninkryk sou kom soos ’n politieke rewolusie of ’n dramatiese wonder. Maar Jesus sê: dit werk nie so nie.Die Koninkryk van God word nie in groot koerant opskrifte aangekondig nie. Dit word gebore in ’n stal. Dit word sigbaar in ’n vissersdorp. Dit word verkondig deur ’n timmerman se seun.

 

’n Speurder van die Koninkryk verstaan dit: ons soek God se teenwoordigheid nie net in die buitengewone nie, maar in die alledaagse.

 

  1. Die Koninkryk is “binne-in julle”

Hierdie woorde van Jesus is radikaal. Hy sê nie: “Die Koninkryk lê nog ver vooruit” of “die Koninkryk is daar buite êrens” nie. Hy sê: “Die Koninkryk is binne-in julle.”  Dit beteken God se heerskappy begin in mense se harte. Waar Jesus mense se harte verander, waar liefde die plek van haat inneem, waar vergifnis die plek van bitterheid inneem, daar breek die Koninkryk deur.

 

’n Speurder kyk dus nie net buite en in die wêreld vir tekens nie, maar ook binne: Hoe lyk my eie lewe? Waar het die Here al my hart verander? Waar laat ek Hom toe om nuwe dinge te doen?

 

  1. Speurders kyk met ander oë

’n Gewone mens hoor net ’n gebed by ’n siekbed – maar ’n speurder hoor God se teenwoordigheid in die kamer.  ’n Gewone mens sien net ’n kerk wat bymekaarkom – maar ’n speurder sien ’n teken dat God sy mense versamel om lig vir die wêreld te wees.

 

Om ’n speurder van God se Koninkryk te wees, beteken om anders te kyk: nie net met ons menslike oë nie, maar met oë van geloof.

 

  1. Ons roeping: leef as Koninkryk-speurders

 

Jesus se woorde nooi ons om elke dag speurders te wees:

’n Speurder van die Koninkryk vra elke dag: “Here, waar is U besig om te werk? Waar breek U Koninkryk vandag deur?”