Matteus 28: 16-20
Datum: 16 Mei 2018 (Aanddiens)
Prediker: Jandré Viljoen
Staan ons stil of beweeg ons? (Metafoor: Jesus ruik na stof en sweet)
Vanaand se Skriflesing kom uit Matteus 28: 16-20. Ek weet dit is ‘n bekende teksvers, en ek het iets Sondag oggend daaroor gesê, maar ek wil baie graag hierdie bekende opdrag gebruik om iets te illustreer rondom dissipelskap.
Jy kan gerus in die ander evangelies gaan lees oor dieselfde opdrag. Dit is baie interessant hoe elkeen van die evangelies dieselfde boodskap op ‘n heel ander manier weergee.
- 16:14-18
- 24:36-49 (Word reeds gedoen)
- 20:19-23
- 1:6-8 (julle sal my getuies wees)
Kom ons lees Matteus 28: 16-20:
“16 Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17 Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Ons lees tot sovêr.
Wie van julle het al so “Health walker” in jou huis gehad? Ek kan die dag onthou toe hierdie ding op Verimark adverteer was. Dit was revolusionêr. Ek kon onthou hoe mense toue gestaan het om die “Health walker” te koop.
Ek verstaan glad nie hierdie “Health walker” nie. Ek staan verwonderd oor mense se vermoë en opgewondenheid om op een plek stil te staan en te loop. Ek wonder wat moet dit aan jou psige doen. Jou brein sê vorentoe en jou voete bly op een plek. Dit is nogal ‘n eienaardige gedagte.
Hulle julle al gesien wat gebeur met mense op hierdie “Health walker”? Mense kan baie seerkry op hierdie “Health walker!”
Videogreep (“Health walker” accidents)
Dit laat my baie aan kerkwees dink. Ons verbruikers kultuur het ons geleer om op een plek stil te staan en alles te doen. Jy kan nou jou yskas, TV, ligte, water, motorhuis, ens., op een plek aansit en beheer.
Dit wil vir my voorkom asof baie kerke ‘n “Health walker” kultuur gevestig het. Ons beweeg en hardloop, maar ons bly eintlik net op een plek, met die hoop dat iets sal verander en gebeur.
Ek weet nie hoeveel van julle weet nie, maar dit is skrikwekkend om te sien hoeveel NG Kerke of hul deure toe maak, OF saamsmelt. Gebeur dit nie omdat mense ‘n “health walker” kultuur het nie? Ons stap ons self dood, maar bly eintlik op dieselfde plek.
Wanneer gaan ons van die “health walker” afklim en begin stap?
Jesus het gestap!
Hulle reken dat Jesus, in sy drie jaar bediening op aarde, tot 5000 km gestap het. Dit illustreer iets van ‘n God wat tussen gewone-gebroke mense teenwoordig was om te help bou aan hul hoekstene.
Jesus het baie gestap. Inteendeel is die hele Bybel vol van stap stories. Abraham het vir ‘n lang tyd gestap. Die Israelite het vir 40 jaar gestap. Die profete het orals rondgeloop. Paulus het ook duisende kilometers vêr gestap. So was Jesus ook die heeltyd aan die beweeg. Dit is asof die mense in die Bybel iewers begin het en beweeg het na iets onbekends.
As jy kontekstueel dink aan Jesus se tyd het hul kleredrag bestaan uit sandale, ‘n onder-kleed en ‘n bo-kleed. Dink net hoe het hy gelyk na ‘n dag se stap?
Sy voete moes vol stof en sand wees. Sy bo-kleed moes stof op gehad het en sy onderkleed moes nat gewees het van sweet. Hoe sou jy gelyk het na so ‘n dag se stap? Ek ken myself en niemand sou naby my wou staan na so ‘n dag se stap nie.
As jy hieraan dink kry die voete was teksvers nuwe betekenis. Daai water moes bitter vuil gewees het nadat Jesus daardie voete gewas het.
Die opdrag wat Jesus in hierdie teks vir ons gee is ‘n duidelik opdrag van beweeg… want my Gees wil beweeg… want God wil beweeg…
Gaan dan heen…
…is die opdrag wat Jesus vir ons gee aan die einde van Matteus. Wat hierdie opdrag van gaan so interessant maak is die konteks van die woord. Hierdie spesifieke Griekse woord kom slegs 15 keer in die NT voor. Al 15 keer het dit te make met die verlede tyd – met ander woorde dit verwys indirek na ‘n opdrag wat al eintlik uitgevoer is.
Dit word ook meeste van die tyd gekoppel aan woorde soos “soek” en “leer.” So as ons beweeg, is ons soekend en leer ons.
Wat hierdie spesifieke woord “gaan” ons ook leer is: “Julle het alreeds gesien hoe om dit te doen, so gaan aan met dit wat julle geleer is.”
Die probleem is egter dat in vandag se tyd is meeste mense te bang om te stap, of te lei om te stap, of het selfs net nog nooit gestap nie.
Ons kerke loop leeg omdat ons op die selfde plek bly stap. Ons raak so moeg van hierdie stap dat ons eintlik nêrens kom nie. Ons sweet en ons swoeg, maar ons staan eintlik net op een plek.
Vanaand se opdrag is ‘n duidelike opdrag van “gaan.”
Gaan doen dit wat ek julle al geleer het om te doen…
Gaan wees my aktiewe teenwoordigheid…
Gaan soek gebrokenheid…
Gaan wees die hoeksteen en laat die Heilige Gees toe om te bou…
Klim af van julle “Health walkers” af en beweeg.
Jesus het egter 2 belangrike aspekte van die lewe verstaan
1) Konteks – Jesus het altyd geweet wat om hom aangaan. Hoekom? Want hy het beweeg. Jesus was regtig bewus van sy konteks. Hoeveel van julle weet wat in jul konteks aangaan. In Kuilsrivier. In jou buurt. By jou werk. Ons kan net beweeg as ons iets verstaan van konteks.
2) Luister – Maar om iets te verstaan van konteks gaan ons moet leer om te luister. Ons gaan net kan luister as ons beweeg. Jy gaan nie kan luister as jy op een plek staan en loop nie.
Wat vanaand se boodskap vir ons mee uitdaag is aktiewe betrokkenheid – ons gaan nêrens kom as ons net op een plek staan nie.
Chris hulle stuur vanoggend ‘n videogreep van die Islam geloof wat besig is om af te neem as gevolg van radikale Islam denke. My vraag is, hoe kan God ons gebruik om radikale dissipels in hierdie geleenthede te wees?
Vir dit om te gebeur gaan ons moet afklim en ons gaan moet begin vorentoe stap. Ons sweet en stof gaan sigbaar moet raak as ‘n bewys van Jesus se dissipels wat beweeg.
Amen.