Matteus 13:33

Datum: 16 Augustus 2026 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Matteus 13 is deel van ’n groter gedeelte waarin Jesus verskillende gelykenisse vertel om iets van die koninkryk van God aan sy dissipels en die skare te verduidelik. Wanneer Jesus vir mense van die koninkryk van God vertel, sou ons dalk verwag dat Jesus die koninkryk met iets baie groter en indrukwekkend vergelyk.

 

’n Magtige koning met ’n groot paleis. ’n Leër wat oorwin. ’n Groot stad met indrukwekkende mure. Iets wat almal kan sien en waaroor niemand kan twyfel nie. Dit sou definitief die verwagting van die dissipels en die skare wees. Maar Jesus gebruik alledaagse dinge wat mense in daardie tyd goed geken het – ’n saaier wat saad saai, onkruid tussen die koring, ’n mosterdsaadjie en selfs suurdeeg. Hy gebruik nie groot, ingewikkelde teologiese begrippe nie. Deur hierdie gewone en buitengewone te gebruik, wil Jesus vir ons iets baie belangrik leer oor hoe die koninkryk van God werk. God se Koninkryk is radikaal anders.

 

In ons gedeelte kies Jesus iets klein, iets wat maklik misgekyk kan word. Hy sê: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg.” En daarmee wys Jesus vir ons dat God se koninkryk dikwels op maniere werk wat nie noodwendig indrukwekkend lyk nie. Dit begin klein. Dit werk stil. Dit gebeur dikwels onder die oppervlak. Maar wanneer God se koninkryk aan die werk is, verander dit uiteindelik alles wat dit aanraak.

 

Dit maak Jesus se gelykenis besonder verrassend. Hy vertel van ’n vrou wat hierdie suurdeeg neem en dit “verberg” in drie mate meel. Hy gebruik nie die gewone beeld van iemand wat eenvoudig deeg meng nie. Die suurdeeg word in die meel weggesteek. Vir die mense wat na Jesus geluister het, sou daar iets vreemds, selfs ietwat ontstellend, aan hierdie gelykenis gewees het. Dat die vrou “drie mate” meel gebruik sou ook die wenkbroue laat lig het, dit was genoeg om brood te bak waarmee meer as 100 mense gevoed kan word. Jesus probeer die dissipels, die skare en vandag vir ons iets deur hierdie konfronterende beeld leer.

 

Hy het ons as gelowiges en ons as kerk nie geroep om langs die wêreld te staan en daarna te kyk nie. Hy het ons gestuur om binne die wêreld te leef en ‘n verskil te maak.