Matteus 5:13-20

Datum: 5 Februarie 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

SKRIFLESING

Matteus 5:13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

TAAL WAT ONS MOET AANLEER

Vanoggend word klein Alex gedoop. En elke keer bid ek dat ouers hulle doopbelofte sal nakom. Ek bid dat ouers hulle kinders vir Jesus sal lief maak. Ons kinders moet grootgemaak word met die swaard van die Gees sodat die wêreld en sy aanslae sonder vrees in die gesig gestaar kan word.

Dit laat my dink aan die ma-muis wat haar muis-kinders ook die lesse in die lewe wou leer. Ma-muis het al die kinders bymekaar gemaak en hulle op hierdie uitstappie geneem. Hulle het in die gang af geloop en regs gedraai. Vêrder af in die gang en weer regs gedraai. En skielik het hulle hulself in Pablo die kat vasgeloop. Pablo was besig met sy oggendslapie terwyl die heerlike sonstrale op sy lyf geskyn het. Uitgestrek het hy daar gelê, diep in droomland.

Ma-muis was angsbevange maar het besef dat die kleinspan beskerm moet word. Met handseine het sy vir die muis-kinders gewys dat doodse stilte gehandhaaf moet word terwyl hulle op hul TONE  saggies en stadig verby Pablo geskuifel het. Net toe ma-muis verby Pablo skuifel het hy sy een oog oopgemaak. Die naakte vrees en angs was op ma-muis se muis gevreet sigbaar. Pablo het sy linkerpoot opgelig en die muis-kinders was histeries. Wat gaan ma-muis nou doen om te red wat te rede is, het hulle gewonder?

Terwyl Pablo se voorpoot met mening na ma-muis begin klap, het sy kliphard soos ’n hond begin blaf. Pablo het homself oor ’n mik geskrik en die aftog geblaas. Ma – muis het stadig die sweet van haar voorkop met haar voorskoot begin afvee, haar kinders stip in die oë gekyk en gesê; “Les nr. 1: Dit is belangrik om ’n tweede taal aan te leer.

So is dit ook so met ons. Dit is goed om ’n tweede taal aan te leer. Sout en Lig is die taal van die Here. Dit is genade-taal. Die taal van hoop en liefde. En wanneer hierdie taal in aksie vertaal word, word dit die mooiste taal wat ooit gespreek word. Ons word geroep om sout en lig te wees en om hierdie taal te praat en te doen wanneer ons ons geloof uitleef. Ons word geroep om God se Woord te leef. Want dit is die taal van die kerk van die Here Jesus.

DIT IS DIE TAAL VAN DIE KERK

Met sout en lig sê Jesus wie die kerk is en wat die taal van die kerk is. Dit is nie iets wat die kerk moet wees of moet byvoeg as iets opsioneel nie. Nee, die kerk ís sout en die kerk ís lig. Dit is wie die kerk is. Dit is wie ons is. Ons wat soos die dissipels aan God behoort, sy kinders is, sy volgelinge. Ons is sout en lig vir die wêreld waarin ons leef. Ons moet dit goed verstaan en werklik ter harte neem. Ons is die agente van verandering wat God gebruik om die wêreld nuut te maak. Wanneer ons ophou om sout en lig te wees, verloor ons ook ons identiteit.

De Eike moet ook soos lig funksioneer in die wêreld. Ons moet sigbaar wees, soos ’n stad op ’n berg, wat nie weggesteek kan word nie. Antieke stede is dikwels op hoogtes gebou en het in die donker weerkaats wanneer mense hul lanterns gebruik het. So moet ons daarna strewe om in alle omstandighede en oral die waardes van die koninkryk van God uit te leef en ’n verskil te maak in ons leefwêreld. Lees weer vir ’n slag Matteus 5 verse 1 tot 12. Die Bergrede. Jesus spreek sy seën uit oor die wat arm van gees is, die wat treur, die sagmoediges, die wat honger en dors na wat reg is, die wat vervolg word, die wat beledig word. Dit is die mense wat op Jesus en op ons radar moet wees. Dit is aan hierdie mense wat ons onverdunde liefde moet openbaar. Hierdie mense, die wat hartseer is en treur, die sagmoediges, hulle wat honger en dors na wat reg is, hulle wat vervolg en beledig word, dit is hulle wat moet proe dat ons eg is, en dat ons ligte in De Eike aanbly en nie aan beurtkrag onderwerp is nie. Ons is 24/7 aan die hoofbron gekoppel.

Ons het baie uitdagings in ons gemeente. Maar ons kan ’n onbeskryflike impak en verskil maak. Ons kan nie die hele wêreld verander nie, maar ons kan wel in ons onmiddellike omgewing ’n verskil maak. Ons moet met barmhartigheid hulp aan hierdie mense verleen. Dit is die dade wat die wet van ons vereis (Matt 5:17-20). Ons moet ons naaste liefhê deur aan hulle goed te doen. Maar dan moet ons op ons hoede wees. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons vooraf waarskuwing kan wees.

Maar wees gewaarsku. Pasop! Sout kan laf word wanneer dit met onsuiwere elemente vermeng word. Indien ons nalaat om soos sout te wees vir die aarde deur nie die waardes van die koninkryk van die hemel uit te leef nie. Wanneer ons so begin leef verloor ons, ons, krag, ons invloed, ons rol verloor indien ons nie getrou bly aan ons getuienis nie. Lig kan doodgaan of verberg word. Wanneer dit gebeur, is dit net so goed soos om ons ware identiteit te verberg of selfs te verloor. Ons verberg ons lig deur dade van die duisternis, deur te swyg oor onreg en verkeerdhede, deur ons naaste se nood te ignoreer.

SLOT

EK sluit af. Wessel en Heloise, Alex is nog ’n baba, leer van vroeg af vir hom hierdie genade-taal aan. Sout en lig. As oud lugmagman en lief vir die geskiedenis sal die gebeure tydens die Eerste Wêreldoorlog met die Slag van die Filippynse See my altyd bybly. ’n Eskader vliegtuie het van vliegdekskepe laatmiddag opgestyg om die vlugtende Japanese vloot aan te val en ’n les te leer. Dit was pikdonker toe die eerste vliegtuie met hul bemannings na die vliegdekskepe begin terugkeer het. Die opdrag was dat die vloot algehele duisternis op die skepe moes handhaaf. Die vliegtuie was laag op brandstof en die vlieëniers het gesukkel om in die donkerte die vliegdekskepe te vind sodat hulle kon land.

In daardie donker nag het Admiraal Mitcher ’n berekende risiko geneem. Hy het opdrag gegee dat die ligte op die vloot skepe aanskakel word. Vir twee volle ure het die vlieëniers op die vliegdekskepe begin land. Sommige vliegtuie het uit brandstof gehardloop en in die see, naby die vloot skepe beland maar die vlieëniers was veilig opgepik. Tagtig plus vliegtuie het daardie nag die lig gesien en kon land. Een vlieënier het tydens die nabetragting opgemerk dat hy nie kan beskryf hoe dit gevoel het toe hierdie skielike lig in die donker nag gesien kon word nie.

Wanneer ons hier in De Eike die Here se genade-taal praat en sout in ons are het, sal ons dapper, moedig en onverskrokke wees om die ligte vir die Here en sy mense aangeskakel te hou, ongeag die koste en die risiko’s sodat Sy werk nie afgeskeep, verwaarloos of verlore gaan nie.

AMEN