1 Tessalonisense 4:3

Datum: 25 Februarie 2018 (Aanddiens)

Prediker: Chris Barnardo

Die 2018 Olimpiese Winterspele loop vanaand tot ’n einde. Dit is ’n spele waar die indiwidu se vermoëns tot die uiterste beproef word. Dink nou maar aan die ysskaats, die spoedskaats en Alpine ski. Asemrowende tonele!

Dan word daar ook in spanverband deelgeneem. “Curling”! Wie wil nou regtig daaraan deelneem. Dalk kan ons ‘’n span vir die Spele inskryf om te gaan deelneem.

Maar dan het die Alpine ski item vir spanne my aangegryp. Swede, Noorweë, Oostenryk en Switserland het vir ’n plek op die podium meegeding. Swede was die gunstelinge! Almal het dit gesê. Selfs hulself het geweet dat hul goue medaljes gaan ontvang. Eintlik was die Sweedse skiërs arrogant in hulle optrede. Selfvoldaan, breëbors- en vol van hulleself.

Maar op die dag moes Swede tevrede wees met......n vierde plek. Talent het hulle gewis, maar karakter het ontbreek. Daar waar talent ophou het hulle karakter nie “ingeskop” nie. Hangskouers moes hul wegstap kleedkamers toe. Vier jaar se swoeg en sweet het gee vrugte afgewerp nie.

Dit het my laat dink aan ons derde familiereel. Wees heilig

Ons lees daarvan in 1 Tess. 4:3. 3Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Glashelder. Wees Heilig. Wees afgesonderd. Die eerste opdrag is heiligheid. ’n Lewe van karakter sou ek dit wou noem. Ons leef in ’n wêreld waar talente baie saak maak.

Skole kies kinders met talent. Ek het nog nooit gehoor dat skole of Universiteite of ’n werk karakter voorop stel nie. Nie eers die kerk nie. Vrydagnuus en advertensies vir predikantposte vertel my ‘’n ander storie. Dominees moet amper engele wees as ek na al die vereistes kyk. Dominees word “ ge head hunt” in sekere dele van van land en word groot pakkette aangebied omrede hulle sogenaamd oor hierdie wonderlike talente beskik.  Maar ek hoor baie min dat ons ons dominees van karakter soek. Of kinders van karakter.

“We hire on talent and fire on character. It should have been otherwise.” – Erwin Raphael McManus

Alle foute in die kerk is karakterfoute. Mense het baie talent en baie kerke hardloop ook op menslike talent. Wat God soek? Sy wil is heiligheid. En heiligheid het te make met ’n manier van lewe. Met die vorming van jou karakter deur die Heilige Gees sodat jy ’n mens van integriteit is.

Talent daarenteen kan jou net tot op ’n punt help. Dit gee jou net deel een van jou lewe. Alle talent het ’n vervaldatum.

En wat jou dan moet dra is karakter. Karakter dra jou reg deur jou lewe. Dit dra jou die ewigheid in.

Waar begin ’n heilige lewe? Dit begin by God. ’n Heilige lewe is 'n lewe wat toegewy is aan die Here. Dan vorm my karakter.  Dan kan my talente gedra word deur my karakter. Daar is niks so mooi soos mense wat  talent en karakter het nie. Daar is niks so sleg soos net talentvolle mense in die kerk nie.

Ek sien baie talentvolle mense maar hulle ego’s staan altyd in die pad. Soos die Sweedse Alpine Skispan.

Nederigheid kenmerk karaktervolle mense. Hulle steel nooit die Here se eer nie. Hulle staan nooit in Sy pad nie. Want dit is die probleem van 'n groot ego. Daar is nie plek vir iemand anders nie. Wat nog te sê vir God. Dit is net ek wat belangrik is. My behoeftes waaroor dit vir my gaan wat tel.

Karakter is wat God vra en dan sal dit ook in my verhoudings sigbaar word soos wat Paulus hier in 1 Tess 4 skrywe.

Dan gaan ek ’n persoon van karakter wees vir die mense rondom my. So ook vir my man en my vrou. Vir die die persoon vir wie ek lief is.

Ek bid nie vir die regte pasmaat nie nie. Nee, wees heilig. Dis God se wil.

En dan sal jy weet hoe om op te tree.

Dan sal jy weet hoe om in verhoudings op te tree. .

Dan sal jy met die hoogste integriteit lewe.

En selfs wanneer jy struikel sal jy weet om aan God se voete vrede en vergifnis te vind.

Dit is jou speelveld. Gaan speel volgens die reëls.

Amen