Gen. 20:1 - 18

Datum: 21 Oktober 2018

Prediker: Johan Morkel

Mense beweeg op weeksoggende vanaf Kuilsrivier na hul werksplekke.  Ek verkyk myself aan die verkeer(en is dankbaar dat ek nie deel daarvan is nie!).  Dit is so ‘n miernes van bedrywighede, elke bestuurder is gefokusen weet presies waarheen hy/sy oppad is>  Elkeen kom waarskynlik laatmiddag weer dieselfde pad terug huis toe.  So beweeg mense heen en weer, werk toe en terug.  Dan dink ek verder, so beweeg die kerk/gelowiges elke dag die wêreld in.  Elkeen na sy/haar werksplek, maar ook na die plek waar die Here jou geplaas het, waar die Here jou gebruik/wil gebruik.  So word die gelowiges as sout oor die wêreld uitgestrooi, so word ons die lieflike geur wat ons veronderstel is om te wees deur die wêreld versprei, so beweeg die lig die duisternis in.  Eintlik is dit nie die volle waarheid nie.  Dit is nie asof ons gelowiges eenkant is en dan die wêreld inbeweeg nie, die kerk en die wêreld is ook waar ons woon, vermeng.  Ons leef tussen ongelowiges, tussen mense wat nie glo nie, tussen agnositici, tussen mense van ander gelowe.

 

Die plek Gerar, waarvan ons hier lees, was die sentrum van die destydse heidenwêreld.  Die wortels van die latere Filistyne was in Gerar.  En ons weet hoeveel moeilikheid die Filistyne vir die volk van God oor die jare besorg het.  Hier lees ons dat Abraham sy tuis-basis verlaat en hom as vreemdeling in Gerar, die hart van die heidenwêreld, vestig.  Abraham het hom as vreemdeling in Gerar gevestig.  Abraham is anders as die mense tussen wie hy woon - ‘n vreemdeling, ‘n gelowige tussen ongelowiges.  Abraham is iemand met ander waardes as hulle, ‘n ander God as hulle aanbid, met ander lojaliteite as die heidene.  Abraham sou nooit deel van die massa in Gerar kon word nie.  Hy is ‘n man van God en Gerar is terrein / grondgebied van die heidene.

 

In die Nuwe Testament word gelowiges ook vreemdelinge op aarde genoem.  Petrus sê in

1 Petr.2:11: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners.”  Hebr.11:13 sê: “Hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.”  En Fil.3:20 sê iets soortgelyks: “Ons is burgers van die hemel.”  Dieselfde wat vir Abraham gegeld het, geld ook vir ons, ons is “vreemdelinge op aarde”.  Kom ons dink vanoggend eerstens na oor “vreemdelingskap”.  Is ek regtig vreemdelinge op aarde?  Is ek regtig anders as dié wat tussen ons woon en werk?  Lyk/is ek anders in terme van my gedrag?  In terme van my waardes, hoe eerlik ek is, hoe belangrik die waarheid vir my is?  Hoe ek optree in ‘n krisis?  Wat vir my belangrik in die lewe is, dit waarvoor ek leef?  Is ek anders in terme van die genade wat ek met mense het, die geduld, die medelye, ons liefde onder mekaar?  In een van die videos van die Alpha-kursus vra hulle vir mense op straat of hulle Christen-gelowiges is.  ‘n Oosterse meisie antwoord: Ek is nie ‘n Christen nie, maar ek gaan Sondae kerk toe.  Ek ervaar nêrens anders soveel liefde en aanvaarding tussen mense nie!  Ek sou vir dié gemeente wou sê “julle is anders!”

 

Ons het sopas in Gen.20 gelees dat Abraham in Gerar voorgegee het dat Sara sy suster is.  Dit is nie die eerste keer dat Abraham dit doen nie.  In Gen.12:13 lees ons toe Abraham Egipte ingegaan het, hy ook vir Sara gesê het om te sê sy is sy suster, anders sal die Egiptenare hom doodmaak.  Daar staan nogal dat Abraham op 90 jarige ouderdom vir Sara gesê het sy is ‘n mooi vrou!   Dit is natuurlik die halwe waarheid dat Sara Abraham se suster is, sy was sy halfsuster.  Dit is egter ‘n volle leuen omdat Abraham daarmee die indruk wou wek dat Sara nie sy vrou is nie.  In plaas van om die Here te vertrou, probeer Abraham hiermee homself beskerm.  Dit gaan ten diepste vir Abraham om homself - sy eie veiligheid, sy beskerming.  Abraham wantrou God!

 

Wat gebeur hier, vriende?  Abraham as verteenwoordiger van God tussen die heidene, as verteenwoordiger van die waardes van die koninkryk van God, as getuie van die boodskap van die lewende God, dop die toets!  Abraham vertel ‘n leuen, vertrou nie die Here nie, tree soos ‘n ongelowige op, laat die Here in die steek.  Die teleurstelling wat ‘n mens met Abraham het, is ook die teleurstelling wat ‘n mens dikwels met jouself het.  Ons wat ook elke dag in Gerar is - woon en werk.  Ons wat ook verteenwoordigers van die Here op aarde is, ons wat juis in ons andersheid moet wys hoe die Koninkryk van God lyk, hoe dikwels trap ons nie in dieselfde strik as Abraham nie?  Hoe dikwels vertrou ons nie die Here nie?  Volg ons ons eie kop?  Dink ons ons weet beter, ons het beter planne as die Here?  Ag ons ons selfbehoud, eiebelang belangriker as gehoorsaamheid aan die Here - wat maar ten diepste die hart van alle sonde is.  Hoe dikwels doen ons die naam van die Here oneer aan?  Een kommentaar fokus skerper op wat Abraham hier doen.  Hy sê Abraham vertrou vir die tweede maal nie die Here nie.  Voeg hierby dat Abraham ook nie die Here vertrou het vir ‘n nageslag toe hy Ismael by Hagar verwek het nie.  Dalk het ek en jy ook ‘n kwesbaarheid.  Miskien ‘n ander swakplek, Achilleshiel as Abraham.  Dalk is dit ‘n ander terrein waarop ons telkens swig voor die versoeking, die Here teleurstel, die Koninkryk van God skade aandoen?

 

Wat ‘n mens wil laat huil in Gen.20 is die feit dat Abraham uiteindelik voor die heidense mense ontmasker word.  Abimeleg blyk meer edel in sy optrede te wees as Abraham.  Die kind van die Here staan beskaamd teenoor die wêreldling.  Hulle rolle is omgekeer: die gelowige lyk sleg en die ongelowige goed!  Die wonder van die gedeelte is egter hoe totaal anders die Here as ons mense is.  Die Here sê vir Abimelek “Abraham is ‘n profeet.  Hy sal vir jou bid dat jy kan lewe.  V.17: “Abraham het toe tot God gebid, en en Hy het vir Abimelek gesond gemaak, ook sy vrou en sy slavinne, en toe kon hulle weer kinders hê.”  In dieselfde uur van Abraham se sonde en neerlaag, stel die Here hom aan die goddelose wêreld bekend as gesalfde, geroepene van God!   Die Here verwerp nie vir Abraham oor sy leuen of sonde nie. Selfs al het hy dieselfde sonde herhaal, selfs al het hy die naam van die Here oneer aangedoen!  Die Here onthef hom nie as sy verteenwoordiger in hierdie wêreld nie.  Die Here ontneem Abraham nie sy roeping nie.  Die Here hervat sy verhouding met Abraham, span hom in, gebruik hom - Abraham bid vir Abimelek, staan vir hom in voor die Here!  Ten spyte van die foute, mislukkings, tekortkomings en sonde van die mense van sy kerk, hou die Here self sy kerk in stand.  Ons moet dit ook vanoggend weer hoor.  Die Here skryf nie mense af nie.  Die Here laat jou nie sommer uit sy span as jy ‘n swak wedstryd gespeel het nie, die Here vergewe ons, is ons genadig.  Die Here gee vir ons weer kanse, gebruik ons weer!

 

Kom ons gebruik vanoggend Nagmaal terwyl ons onthou dat ons vreemdelinge op aarde is.  So vreemd, so anders dat ons brood en wyn gebruik en vir mekaar sê dit herinner ons aan ons Verlosser wie se liggaam gebreek en bloed vir ons gestort is.  Kom ons gebruik Nagmaal terwyl ons ook dink aan die kere wat ons die Here gefaal het, misluk het, dieselfde sonde herhaaldelik gedoen het, nie waardige verteenwoordigers van God se Koninkryk is nie.  En ons erken en bely dit voor die Here en ontvang sy vergiffenis.  Kom ons gebruik vanoggend Nagmaal terwyl ons in gedagte hou dat Nagmaal ook ‘n versterkingsmaaltyd is.  Nagmaal versterk ons geloof, nagmaal is ‘n geleentheid waar ons brandstof inneem vir ons geloof, nagmaal voed ons om waardige verteenwoordigers van God se Koninkryk op aarde te wees.  Sout te wees, lig te wees, ‘n lieflike geur te wees, anders te wees, vreemdelinge te wees!

Amen