Psalm 139:1 - 18
Datum: 17 Januarie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Maskers. Ons dra nou al sedert Maart verlede jaar maskers in die openbaar. Mens sou ‘n masker ook vir ‘n ander doel kon gebruik. Jy sou van ‘n masker ‘n skans kon maak, iets daaragter jy skuil. Jy sou met ‘n masker verby iemand kon stap vir wie jy nie lus is om te groet nie en die persoon sal jou tien teen een nie herken nie! Jy sou met ‘n masker sonder dat jy geskeer het, gou winkel toe kon gaan. Niemand sal dit agter die masker raaksien nie! Jy sou met ‘n masker sonder lipstiffie of grimering in die openbaar kon verskyn en niemand sal dit sien nie. (Ek hoor vrouens sê hulle spaar geld op grimering!) Is hierdie maskers waarmee ons die afgelope jaar rondloop, die enigste maskers wat ons dra? Dra ons nie ook ander maskers nie? Maskers wat ons op hierdie selfde manier inspan? Maskers waaragter ons skuil. Maskers waaragter ons dit wat ons nie wil hê ander van ons moet weet nie, wegsteek.
Psalm 139 vertel vir ons dat ons nie vir God agter ‘n masker kan wegkruip nie. God weet alles van ons. Luister weer hoe Dawid dit sê: U deursoek my en ken my, U weet alles van my, of ek sit en of ek opstaan, of ek oppad is en of ek lê, selfs voordat ek praat, weet U wat ek gaan sê. God weet ook alles van jou en my. Ons kan niks vir God wegsteek nie. Daar is geen deel van my persoonlikheid, my gedagtewêreld, my gesindheid, my motiewe, my doen en late wat God nie sien nie, waarvan God nie weet nie!
Die feit dat God vir Dawid deur en deur ken het Dawid benoud gemaak, bang gemaak. Een kommentaar sê dit was “depressing” vir Dawid! Dit het gemaak dat hy eerder van hierdie God wou wegkom, wou vlug. Dawid gaan dan op ‘n verbeeldingsvlug waarin hy die verskillende plekke opnoem waar hy dalk van God sou kon wegkruip. Hy sou kon vlug na die hemelruim of die doderyk, na die ooste of die weste. Hy sou selfs na die duisternis kon vlug - wat die afwesigheid van God simboliseer. Maar telkens erken Dawid: Waar ek ookal van God probeer vlug - daar is God!
Wat doen die feit dat God alles van jou weet, aan jou? Is die feit dat God alles van jou weet, vir jou ook ’n vreesaanjaende gedagte soos vir Dawid? “Freak” dit jou ook uit soos die jongmense sal sê? Hoekom het die feit dat God alles van ons weet, hierdie invloed op ons? omdat ons ten diepste nie geken wil wees soos ons regtig is nie. Ons wil nie hê almal moet alles van ons weet nie. Ons wil graag aanvaar word, ons wil hê die mense moet van ons hou. Daarom speel ons rolle teenoor mekaar, speel ons wegkruipertjie met mekaar. Daarom sit ons die beste voetjie voor, hou ons die skyn voor, dra ons maskers. Met hierdie maskers lei ons mense om die bos. Met hierdie maskers verhoed ons dat ander sien wie ons regtig is, agterkom wat ons prioriteite regtig is, wat ons diepste hartstogte, ons drange, ons dryfvere is. Ons dra hierdie maskers getrouer as die maskers wat ons veronderstel is om elke dag te dra!
As Psalm 139 nou vir ons sê ons kan nie dit wat ons elke dag teenoor mekaar doen, met God doen nie, ons kan nie vir God agter ‘n masker wegkruip nie, ons kan nie vir God vlug nie; As Psalm 139 vir ons sê God sien ons deur en deur, God sien wat ons agter ons maskers wegsteek, waar ons wegkruip; As Psalm 139 vir ons sê ons is voor God soos ‘n goudvissie in ‘n bak – daar is geen wegkruipplek nie, dan maak dit ons bang, dan maak dit ons benoud! Dan besef ons, hier is Een van wie ons nie kan skuil nie! Eintlik weet ons dit maar te goed! Vertel die Bybel dan nie vir ons God het geweet waar Adam en Eva vir Hom wegkruip nie? En dat God maar te goed geweet het Jona is op die skip oppad Tarsus toe nie? En dat God geweet het Saggeus sit in die wildevyeboom nie?
‘n Pa vertel as hy met sy seuntjies wegkruipertjie speel, kan die jongste een dit nie hou nie.
As hy sy Pa sien naderkom, kom hy vanaf sy wegkruipplek uit en hardloop na sy Pa en spring in sy arms! En hy wys dan sommer op die koop toe ook vir sy Pa waar sy boetie wegkruip! Dit is wat Dawid in werklikheid in die latere verse in Psalm 139 doen. Hy spring in die arms van die Here van wie hy wou vlug/gevlug het. Vanaf v.13 besef Dawid hy kan nie, wil nie, vlug van die God wat hom gemaak het nie, die God wat hom in die moederskoot gevorm het, wat hom wonderbaarlik geskape het, wat (sê v16) hom vanaf voor sy geboorte tot by sy lewenseinde ken nie . Ons hoor dit in Dawid se taal: Ek loof U, U werke is wonderbaar, kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Dawid vlug nie meer van God nie, Dawid wil nie vlug van die God wat hom hom gemaak het, wat hom deur/deur ken, wat hom oneindig liefhet nie! Dawid spring in die arms van die Here!
Hierdie God kom staan ook vanoggend voor jou en my. Die wonder is dat Hy ons nie veroordeel nie. Die wonder is dat Hy tenspyte van wie ons is, tenspyte van ons maskers, tenspyte van wat ons agter ons maskers wegsteek, ten spyte van waar ons ookal vir Hom probeer wegkruip, vir ons sê: Ek veroordeel jou nie. Ek is lief vir jou. Spring maar - netsoos jy is - in my arms! Karl Barth het gesê die wonder is nie dat God alles van ons weet nie, die wonder is dat God tenspyte van dat Hy alles van ons weet, ons steeds liefhet! Wil jy nie vanoggend vir hierdie God wat ons in die Nuwe Testament leer ken as die God wat in Jesus Christus sy lewe vir ons gegee het, en deur sy Gees altyd by ons, in ons is nie, vir Hom sê: Here, ek is moeg vir maskers dra. Ek is moeg om wegkruipertjie met U te speel. Ek spring in U arms!
Amen