Psalm 84
Datum: 3 November 2019
Prediker: Johan Morkel
Terwyl ons oppad is na die nuwe Jerusalem, is die Here by ons teenwoordig.
Ek voel skuldig as ek Psalm 84 lees. Ek voel skuldig as ek lees van die Psalmdigter se diepe verlange, die begeerte van sy hart, sy brandende behoefte, om by die Here te wees, om in die teenwoordigheid van God te wees. Sy verlange na die tempel is ten diepste ‘n verlange na die teenwoordigheid van die Here. Ek voel skuldig, vriende, omdat ek moet erken dat ek nie altyd soos hy voel nie, dat ek dikwels ingesluk en opgeneem word deur ander dinge. Dat dinge van hierdie wêreld is waaroor jy droom, waarna jy begeer, wat jou gedagtes vul! Dit is goed dat Psalm 84 ons weer perspektief gee, ons tot orde roep, ons aandag weer vestig waar dit hoort, op die Here!
Die persoon wat in hierdie Psalm aan die woord is, is ’n pelgrim, ’n reisiger. Hy is een van baie Israeliete wat eenmaal ’n jaar na Jerusalem gereis het om die Loofhuttefees by te woon. Die Loofhuttefees is ’n oesfees wat na oestyd in die herfs gehou is, by dié fees is die Here gedank vir die oes van die afgelope somer en is die Here ook gevra en vertrou vir reën in die komende jaar. Die tempel in Jerusalem was die simbool van die teenwoordigheid van God. Terwyl die pelgrims oppad was na Jerusalem, het hulle begin verlang om al daar te wees, het hulle uitgesien om in die teenwoordigheid van die Here te wees, kon hulle nie wag nie, hulle het oppad al begin sing. Psalm 84 begin sing: Hoe lieflik is U wonings Heer der leërskare; Hoe begeer my siel en hunker van verlange om na Gods woning op te gaan. En in sy tempelpoort te staan!
Pas ons hierdie Psalm op onsself toe, sou ek wou begin deur te sê, ons leef na die koms van Jesus Christus na die aarde. Ons leef ook na die uitstorting van die H.G. Die H.G. is vir ons gegee, die H.G. leef in elke kind van God, ons is altyd in die teenwoordigheid van die H.G. Tog, vriende, is ons ook reisigers, ons is ook oppad! Oppad na (soos ons dit noem) die ewige lewe, na die hemel, na die volle teenwoordigheid van God, om God van aangesig tot aangesig te sien en met Hom te leef! En dit is vanuit hierdie perspektief dat die vraag vanuit Psalm 84 tot ons kom: Sien ons ook uit daarna soos hierdie pelgrim daarna uitsien om in die volle teenwoordigheid van die ere te wees? Is daar in ons harte ook ‘n brandende verlange na God soos by hom? ‘n Verlange na die volle teenwoordigheid van die Here? Na die Wederkoms van die Here? Die Nuwe Jerusalem? Dit is soos as ons as gesin oppad na ons vakansieplek en die kinders begin vra: hoe lank nog, hoe ver nog? Ek kan meer nie wag nie. Is daar in ons as gelowiges se harte ‘n verlange na die Here, na die volledige losmaking van die aardse en volle bekleding van die hemelse?
Dalk verstaan jy hoekom my inleidende sin was: Ek voel skuldig as ek Psalm 84 lees. Die Bybel sê immers ons is vreemdelinge en bywoners op aarde, ons is nie burgers van hierdie wêreld nie, maar van die hemel, ons is pelgrims, reisigers, oppad na die nuwe Jerusalem. Maar dan gebeur dit dat ons so verstrengeld raak met hierdie wêreld, so lief raak vir hierdie wêreld, so ingesluk, so deel word van hierdie wêreld, dat ons vergeet ons is maar reisigers, pelgrims, ons is maar tydelik hier,ons is oppad-mense. Ons kan tog so besig raak in ons oppad-wees. Ons is so aandag-afleibaar! Ons oppad-wees word vir ons lekkerder as dit waarheen ons oppad is. Ons vergeet van ons ewige eindbestemming! Deur Psalm 84 kom rig die Here ons oë vanoggend op na die hemel, kom fokus die Here ons opnuut op ons eindbestemming, kom vestig die Here ons aandag op die hiernamaals – sy teenwoordigheid. Die Here kom herinner ons wie ons is en waarheen ons oppad is.
Die pad na Jerusalem was ’n moeisame pad. Die mense het te voet gereis, dit was warm en droog in die na-somer, vroeg-herfs, die vordering was stadig, die son het neergebrand op die stofpaaie van Palestina. Vers 7 praat van van “die Bacalaagte”: ons vertaling is: dorre-laagte, of droë laagte. Die woord word ook vertaal met “tranedal”. Ons lees verder van daar gaan vir die pelgrims fonteine oop, die vroeë reëns bring vir hulle seëninge(‘n sinspeling in Hebreeus tussen waterplasse en seën), hulle ontvang keer op keer nuwe krag. Die pelgrims skep sommer nuwe moed oppad na Jerusalem. Dit is so dat ons lewenspaaie ook opdraendes en steiltes het, ook sy stofpaaie en dorre-laagtes het, tye waarin ons - moedeloos en moeg is, tye waarn ons nie kans sien vir die pad vorentoe nie!
Soms gebeur dit dat ons die Here se teenwoordigheid midde-in die negatiewe omstandighede, in die krisis, terwyl ons op ons laagtepunt is, ervaar. Dit gebeur dat die Here ons stroop van alles anders waarop ons nog ons hoop wil bou. Dan eers kom ons tot die ontdekking dat sy teenwoordigheid genoeg is, dit genoeg is om te weet die Here is by my, alle aardse dinge tweede kom na die wete dat die Here by my is, die Here lief is vir my en my nie sal verlaat nie. Dit het ons ook by die Nuwerus-mense ervaar: hul tevrednheid, hul geloof, hul vertroue op die Here midde in hul krisis. Het jy dit al ervaar, ervaar jy dit dalk tans? Dat in jou krisis die Here se teenwoordigheid vir jou genoeg is? Die Here se teenwoordigheid jou versterk? Net maar die wete van sy nabyheid vir jou geloof, hoop, krag gee vir die pad vorentoe. Dit is erg om dit te sê, maar hoe dikwels het ek al mense in hul swaarkry geloofsuitsprake hoor maak wat hul nie gedoen het in tye van voorspoed nie.
Ander kere ervaar ons die Here se teenwoordigheid in die reën wat Hy gee, in die poele water wat staan waar ‘n dorre droogte was, die uitkoms wat Hy gee! Dit is makliker om God se teenwoordigheid op hierdie manier te ervaar! Jy ervaar God se teenwoordigheid as boer in die reën wat die Here gee toe dit so nodig was; as bekommerde mens in die goeie uitslag van mediese toetse; in die feit dat jou werksaansoek suksesvol was; in dat jy die toets of eksamen geslaag het; in die gebed wat verhoor is; in die uitkoms wat God gegee het; in die wyse waarop God voorsien het! Hiervan het ons ook die afgelope week ‘n getuienis gekry van ‘n vrou van Nuwerus. Haar suiker was op. Toe is daar in die kospakkie wat sy ontvang het, suiker! Sy sê die Here het geweet haar suiker is op, so goed ken Hy ons!
Ons skep dikwels vir onsself dinge in ons lewe om onsself aan die gang te hou, dinge waarna ons kan uitsien, dinge wat die lewe vir ons bly die moeite werd maak. Dalk ‘n vakansie wat beplan word, ‘n oorsese toer, ‘n besienswaardigheid om te besoek. Dit sal goedwees as ons ook sulke vertoefplekke vir onsself skep in ons reis op aarde as ontmoetingsgeleenthede met die Here is. Dit kan wees: jou stiltetyd, ‘n plek in die natuur waar jy die Here se teenwoordigheid op ‘n besondere manier ervaar, ‘n plek waar jy ‘n besondere herinnering aan die ervaring van Gods teenwoordigheid het(vertrek, plek in die tuin, kerkgebou). Die erediens is ook so ’n plek waar ons God se teenwoordigheid ervaar. Hier in die erediens word ons gegroet deur die Drie-enige God: Vader, Seun en H.G. Hier vertoef ons in God se teenwoordigheid, besing ons God se sy lof, ontvang ons sy vergiffenis, bely ons opnuut ons geloof in Hom, hoor ons sy Woord en wy ons onsself weer aan Hom toe. Ons dien Hom met ons offergawes en Hy seën ons voor ons hier uitstap - versterk en bemoedig. Oppad na die Nuwe Jerusalem waar ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien!
Amen