Josua 5
Datum: 27 Maart 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Vir al wat ek weet is dit ‘n frustrasie wat alle mense dieselfde ervaar. Jy weet mos, wanneer jy iets beplan en dan val daar aanmekaar ander goed voor wat maak dat jy eers moet wag. Ek weet hoe haat ek self dit as die kar klaar gepak staan en ek wil ry see toe, en my vrou sê vir my ons moet net gou eers by die winkel stop. Of as ek goed op pad is garage toe of na my skilderplekkie toe en ek moet hoor: Daar is ‘n paar goedjies waarmee jy my net gou kan help. Dis nogal moeilik om ewe blymoedig te bly as iets jou spoed só breek.
Dis waarom ek Josua 5 verstaan. Ek het net soveel simpatie met die Jode hier. Jy moet darem verstaan, hulle was veertig jaar in die woestyn. En nou is hulle uiteindelik gereed om die nuwe land in te neem. Jerigo lê en wag net om ingeneem te word. En hulle is nou gereed om hierdie enorme uitdaging aan te pak. Maar nou gebeur daar heeltyd goed wat keer dat hulle daarby uitkom. Soveel soos drie goed wat eintlik niks met mekaar te doen het nie, maar wat telkens hulle spoed breek...
- ‘n Massa-Besnydenis by Gilgal.
Heel eerste stuit God self hulle in hulle spore. Hy weier dat hulle enigiets doen voordat hulle eers sy verbondsvoorskrifte nagekom het. Elke manlike volgelinge moes eers besny word. Iets wat heel verstaanbaar bietjie agterweë gebly het in die woestyn. Maar nou is hulle nie meer almal agt dae oud nie. Daarom is dit nie ‘n takie wat hulle sommer gou-gou kan afhandel en aangaan met die taak voorhande nie. Daarby skrywe die Here voor presies hoe dit gedoen moet word.
Dit breek baie ernstig hulle spoed, en ek kan dink dat hulle effe gefrustreerd was daaroor. Maar dit was nodig. Want so leer die Here op hierdie belangrike oomblik in hulle bestaan ‘n belangrike les. Want natuurlik was hierdie intog verskriklik belangrik – geen Jood sou daarmee stry nie – maar hulle moet leer dat dit nie tog nooit die heel belangrikste kan wees nie. Wat jy ook al beplan, kan nooit die belangrikste, die eerste prioriteit wees nie. Daar is iets eindeloos belangriker.
Te alle tye is die heel belangrikste die wil van die Here. Eerste prioriteit is altyd om te doen wat God vra. Selfs al pas dit jou dalk nie op daardie stadium regtig nie. God se wil is hoofsaak, dit bly die heel belangrikste van alles.
Die Here weet hulle sal geen hond haar-af maak in die nuwe land as hulle hulleself nie eers kies om hulleself opnuut in gehoorsaamheid aan Hom te verbind nie. Deur die benydenis sluit hulle die woestyn-era nou finaal af. Hierdie is ‘n nuwe begin saam met God. Die ou, sondige bestaan van ongeloof en wantroue is nou in die woestyn agtergelaat. Weggegooi...
Vir ons as moderne mense klink die hele storie darem erg kru en bloedig, maar ook ons moet verstaan dat dit ‘n prys kos om die ou mens agter te laat – ook vir ons, behalwe dat die bloed nie ons eie was nie. Vir ons het God self die Offerlam voorsien. Maar om die era van slawerny vir goed agter te laat, om vry te kom en sodat jy kan lewe in die nuwe land, kos ‘n prys. En van ons vra dit onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Selfs wanneer dit opoffering en pyn meebring.
Dis waarom God dikwels ook jou spoed bietjie breek. Voor jy enigiets anders doen, kom begin net weer voor saam met God. Kom ons verbind ons deur onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan wat God van jou vra, aan God se verbond met ons, dat Hy ons God sal wees, en dat ons Hom sal volg. Dis wat die Jode hier doen, en dis wat jy vandag moet doen. Maak eers seker dat jou saak met God reg is, dan kan jy die toekoms met vertroue ingaan, wetende dat God sal sorg...
- Die Pasga
Toe dog hulle seker nou is alles reg, eindelik kan ons laat waai. Maar toe kom die volgende opdrag. Kom ons vier eers die Pasga, vra die Here. Jy ken mos die Pasga. Dis mos die fees waarmee die Jode daardie nag herdenk wat hulle bloed aan die deurkosyne geverf het, die nag wat farao hulle laat trek en God hulle finaal uit Egipte bevry het. Dis ‘n fees van verlossing wat vier dat hulle nou God s’n is.
Maar ook dít vier die afsluiting van ‘n era en die begin van ‘n nuwe. Want daardie dag het die volk vir oulaas manna buite gaan optel, daardie woestynkos waarmee die Here hulle onderhou het die jare in die woestyn. Net nog ‘n bevestiging dat die woestyntyd, die era van opstand en sonde, en gevolglike ontbering, nou verby is. Daardie dag het die Jode begin om in die plek daarvan die brood van die nuwe land te eet. Daar het ‘n nuwe era vir God se mense aangebreek...
- Die man met die swaard.
Maar nog is het einde niet, soos die ou mense gesê het. Hulle kon nog altyd nie net hulle goed vat en die nuwe land gaan aanvat nie. Want eers het nog iemand letterlik vierkantig in hulle pad gestaan. Een laaste konfrontasie met die man met die swaard. Die aanvoerder van God se leër, wat vir Josua kom verseker dat die stryd wat vir hulle voorlê, nie in die eerste plek hulle stryd is nie, maar God s’n. God sou self vir sy mense die land gaan gee wat Hy hulle belowe het.
Ek kan net dink hoe Josua toe moed skep toe hy verstaan dat hulle nie alleen hierdie stryd ingaan nie, maar dat hy in die proses eintlik net die dienaar is, net ‘n instrument in God se hand is. Maar eers moes hy nog een laaste, belangrike les leer. Trek uit jou skoene, sê die man vir hom. Want jy staan op heilige grond.
Beteken dit daar was iets baie spesiaal aan daardie spesifieke plekkie waar Josua toe gestaan het? Dis nogal nie die indruk wat ek kry nie, want nêrens word eers vir ons gesê presies waar dit was, sodat die volk later daar ‘n heiligdom kon gaan bou nie. Dis nie die grond wat dit heilig gemaak het nie. Dis die teenwoordigheid van die Here. Josua, sê die man, jy staan voor God. Jy lewe voor God. Hy is by jou, elke oomblik. Die lug wat jy inasem, is heilige lug. Die lig waarin jy lewe, is heilige lig. Jou hele bestaan is geheilig, deur die verbond waarvan jy nou die teken dra, die pasga wat jy in die teenwoordigheid van God jou verlossing gevier het. Trek uit jou skoene. Jy lewe elke oomblik van jou lewe op heilige grond...
Soos ek en jy. Want ons lewe elke dag in God se teenwoordigheid, deur sy Gees wat in ons woon. Ook ons moet lewe met ons skoene uitgetrek, gewy aan Hom. Want dan eers is ons soos Josua-hulle gereed vir die taak wat wag...
- En ons?
Die rede hoekom Josua 5 my so geïnteresseer het, is omdat ons nog presies dieselfde God dien. En Hy kom daagliks nog op baie verskillende maniere na my en jou toe. Party keer nogal op maniere wat regtig jou spoed breek en jou frustreer, omdat jy veel eerder sou wou aangaan en die bul voor jou by die horings pak.
Maar jy kan leer by Josua 5. Want God stuur nie verniet dinge oor jou pad wat jou spoed eers breek nie. Dit sou ‘n fout wees om net vervaard in te storm. Dis eindeloos wyser om eerder fyn ingestel te wees op die stem van God, en die verskillende maniere waarop Hy daagliks met jou praat, sodat dit jou kan bemoedig en versterk. En jou in staat stel om die lewe te leef waartoe Hy jou geroep het.
Maar eers moet jy verstaan dat dit gehoorsaamheid verg, selfs al is dit vir ons somtyds pynlik en ongemaklik. Moet jy verstaan dat jy die ou mens afgelê het en nuut moet lewe, ook omdat jy nou elke oomblik van jou dag op heilige grond leef...
AMEN