Jeremia 1:4-10

Datum: 30 Januarie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. INLEIDING

Die afgelope week het ek die nuus ontvang dat Pa Toit afgesterf het. Pa Toit was tydens my graad elf en twaalf jare aan die Blouskool in Kroonstad, ons regsiter-onderwyser gewees. Daar was ’n rede hoekom ons hom Pa Toit genoem het.

Pa Toit het, toe ek in myself getwyfel het, sin in my lewe gebring. Hy was daardie onderwyser wat altyd met sagte oë na ons gekyk het. Dit was vir hom nooit nodig om sy stem te verhef nie. Pa Toit het ons gemotiveer om ondenkbare dinge te doen. Waar ons in onsself getwyfel het, het hy ons geïnspireer om altyd nog ’n entjie vêrder te gaan en ons uitgedaag om dinge te bereik wat op die oog af onmoontlik was. Hy was soos ’n pa vir ons klomp rustelose matrieks. Pa Toit het in ons geglo en ons vlerke gegee sodat die onbekende verken kon word.

Ek en my vriend Gerrit gesels nou die dag oor Pa Toit en hy sê toe vir my die volgende: Chrisjan, ek het soveel respek vir Pa Toit gehad. Dalk was daar in jou lewe ook iemand wat ’n groot rol in jou lewe gespeel het. Iemand wat jou lewenskoers help verander het.

Net soos Jeremia. Jeremia die gemotiveerde jongman wat geoormerk was om ’n doodgewone priester te word. Menslik gesproke was dit ’n uitgemaakte saak dat Jeremia die tradisie sou laat voortleef. Jeremia “die seun van Hilkia, uit die priesters van Anatot.

Alles was vir Jeremia helder en duidelik, sy lewenspad was vir hom beplan en uitgelê tot die dag toe hy trompop in die Here vasgeloop het. Daardie dag het alles verander nadat die Here vir Jeremia as profeet geroep het. Ek is te jonk en sukkel om voor mense te praat is die verskonings wat hy gebruik om uit hierdie verknorsing te kom want hy het geweet wat die taakomskrywing van ‘n profeet is. Hy het geweet dat profete nie aan gewildheidskompetisies kan deelneem nie. Profete het nie baie vriende gehad nie. Profete moes dinge sê waarvan mense glad nie gehou het nie en ja, dit is nie die manier om vriende te maak en mense te beïnvloed nie. Jeremia weet dat hierdie nuwe lewenspad baie alleen en propvol spanning sou wees.

Tog kom die Here en bemoedig vir Jeremia.    5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

 

8Moenie vir hulle bang wees nie,

want Ek is by jou,

9Hy het sy hand uitgesteek,

my mond aangeraak

en vir my gesê:

Ek het nou my woorde

in jou mond gelê.

 

Ek kry hoendervel en my arm-hare staan regop terwyl ek hierdie verse lees. Wat vir Jeremia onmoontlik blyk te wees is in God se hande moontlik. Jeremia word geïnspireer om daardie ekstra tree te waag wat angswekkend en onmoontlik blyk te wees.

 

Ek sien weer vir Pa Toit wat voor in die klas staan, besig om ons te inspireer om nog beter te doen, om op God te vertrou en te doen wat reg is.

 

Maar anders as Pa Toit, raak God vanoggend ons lippe aan, gee Hy aan ons die woorde, Sy woorde sodat ons lewende getuies kan wees, eerder as om verskonings te maak waarom ons nie aktief deelneem aan die bedieningsgeleenthede binne die gemeente nie. En kom ons wees profeties eerlik met mekaar vanoggend. Ons kan ’n boek skryf oor al die verskonings waarom ons terugsit en net ontvang. Dit is nie toewyding nie. Wanneer jy met jou alles die Woord van die Here sluk kry geloof ’n ander betekenis in jou lewe.

 

Liewe vriende, geloof help jou nie maar net om ’n beter mense te word nie. Geloof laat jou volgens die Here se beginsels leef. Sy standaard is hoog. Sy standaard is die van selfopofferende liefde. Sy liefde maak dat jy jouself prysgee in diens van God en ander. Sy liefde maak dat jy jou voorkeure, jou gerief, jou keuses en jou leefroetes aanpas by dit wat God eer en ander mense bevoordeel. Dit maak dat jou besluite nie langer oor jou eie voordeel gaan nie. Om die Here te volg beteken jy deel sy hart wat warm klop vir armes, minderbevoorregtes en randfigure wat afgeskryf is. Dit maak jou bereid om op te offer eerder as om te eis en verskonings te maak. Dit maak dat jy vrygewig is eerder as dat jy nog wil hê. Dit maak dat jy ander mense se belange bo jou eie stel. Die roete is moeilik, daarom dat daar min opregte navolgers van die Here in die omtrek is.

 

Wat kan ons vanoggend by Jeremia leer? Wat is daar in Jeremia se lewe wat vir ons kan inspireer sodat ons weer kan terug klim in God se peloton? Hierdie keer sonder verskonings? Wat het Jeremia laat aanhou sonder om handdoek in te gooi? Waar het hy die motivering gevind om vas te byt, te dien en te bedien? Hoe het hy dit reggekry om dit te wees wat God van hom verwag het?

Ons sien vanoggend ’n profeet wat:

 

  1. WAT DIEP BEWUS WAS VAN DIE HERE SE TEENWOORDIGHEID IN SY LEWE

Luister weer na Jeremia se woorde: 4Die woord van die Here het tot my gekom:

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

 

Jeremia was diep bewus van die Here se teenwoordigheid in sy lewe. Ek dink dat meeste mense bewus is van God se teenwoordigheid in hul lewens. Tog is daar baie mense wat hard daaraan werk om hierdie bewustheid van die teenwoordigheid van die Here in hul lewens, te ignoreer. Baie mense is bewus van die Here se teenwoordigheid slegs tot by die punt dat ons ’n goeie lewe moet lei. Jeremia was anders. Jeremia het voluit, elke dag, God se teenwoordigheid in sy lewe ervaar. Jeremia het vers 4 geleef en geweet dat God hom gevorm het en dat God hom ken. Voordat hy gebore is, het God hom aan Jeremia gewy. Jeremia kon nie anders nie. Jeremia was nie ’n half-pas dienaar nie. Jeremia het voluit vir God gedien.

Is jy regtig vanoggend diep bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe?

  1. JEREMIA HET GEWEET DAT HY HIERVOOR GEROEP WAS

Jeremia was deeglik daarvan bewus dat alles nie maanskyn en rose gaan wees nie. Teenkanting en stroom-op mense gaan sy dae versuur. Maar Jeremia het vasgebyt. Jeremia was anders. Jeremia het op die maat van ’n ander trom in die peloton marsjeer. Jeremia sou ’n sersant-majoor se nagmerrie op ’n paradegrond gewees het. Daar sou geskreeu word dat Jeremia uit pas is. Kom in-pas!, sou Jeremia toegesnou word. Jeremia kon maklik in-pas kom ter wille van die wêreld. Maar Jeremia het geweet waarvoor hy geroep was. Hy was geroep om God se wil bekend te maak. Dit het hom ongewild gemaak. Die persoon wat altyd stroom-op swem. Die pretbederwer.

En ons? Weet ons waarvoor ons hier in De Eike geroep is? Is ons bereid om te staan en te val wanneer God se Woord bevraagteken word. Of is ons manteldraaiers wat wegkyk sodat ons nie as die pretbederwers ge-label wil word nie? Die lekker gemeente waar alles lekker gedoen word.

Jeremia het die pak gevat wat saam met die aanstelling uitgedeel word. Ons as gelowiges moet bereid wees om die pak te vat wanneer God se Woord op die spel is. Moenie skaamteloos wegkyk of onbetrokke wees nie. Hierdie jaar is ’n jaar propvol aksie in die gemeente en die Here raak vanoggend jou mond aan en roep jou om aktief betrokke te wees. Ons leef binne ’n gemeenskap waar mense al meer weg van God af begin beweeg. Die gemeenskap word vyandig teenoor baie Christelike waardes. God soek mense wat bereid is om Sy geloofswaardes uit te leef en te modelleer. God het genoeg gehad van gelowige mense wat afkyk op die res van die gemeenskap. God soek na mense wat diensvaardig sal wees sodat die gemeenskap in die naam van Christus dáárby kan baat vind. Jeremia was absoluut bewus van God se teenwoordigheid in sy lewe en Jeremia het geweet waarvoor hy geroep was.

Kom ons los vir ’n slag die verskonings en begin soos Jeremia ’n doel gedrewe lewe lei.

  1. JEREMIA HET ’n DOEL GEDREWE LEWE GELEEF

Jeremia het geweet dat dit nie oor hom gaan nie. God het werk vir hom gehad, vuil nie-lonende werk. Onbaatsugtige werk. Maar omdat God hom geroep het, het hy gedoen wat van hom verwag word. God soek na mense wat bereid is om te doen wat gedoen moet word.

Meeste van ons sal nooit die ervarings van Jeremia ooit beleef nie. Maar baie van ons ken die geluid wanneer deure in ons gesigte toegeklap word. Ons weet wat diep binne ons gebeur wanneer ons nie deur mense raakgesien en waardeer word nie, selfs wanneer ons, ons beste probeer doen. Dit is sleg. Baie van ons werk baie hard in hierdie gemeente en op die oog af lyk dit nie asof dit raakgesien of waardeer word nie, Baie van ons probeer baie hard om van De Eike en die gemeenskap ’n beter plek te maak. Ons weet dat ons nie profete is nie, maar ons is diep bewus van God se teenwoordigheid in ons lewens. Ons glo dat ons gekies is om ’n verskil te maak. Ons lewens word gedryf deur een doel voor oë.....Om te wees waarvoor God ons geskep het.

 

  1. SLOT

Ons moet weet dat God ons pogings raaksien. Hierdie pogings is nie nutteloos nie. Ons pogings is nie minder werd as Jeremia s’n nie. Jy hoef nie te kyk of daar ’n Bybelboek na jou vernoem is nie. Jou naam is net soos Jeremia s’n in die boek van die Lewe geskryf. Nog voordat jy gebore is, het God ook jou geroep. Byt vas, moenie opgee nie, moenie moedeloos word nie. God sal jou nie los nie.

KOM ONS MAAK HIERDIE DRIE PUNTE DE EIKE SE DRIE DOELWITTE VIR DIE JAAR.

  • ’N DE EIKE LIDMAAT IS ‘N LIDMAAT WAT DIEP BEWUS IS VAN DIE HERE SE TEENWOORDIGHEID IN SY/HAAR LEWE
  • ’N DE EIKE LIDMAAT WEET DAT HY/SY IN HIERDIE GEMEENTE GEROEP IS
  • ’N DE EIKE LIDMAAT LEEF ’N DOEL GEDREWE LEWE