Efesiërs 5:15-21

Datum: 15 Augustus 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Kindermoment:

Benjamin en die beker

Josef se elf broers het by hom kom kos soek, want dit was baie droog waar hulle in kanaan gebly het. En die kos was op. Maar toe hulle in Egipte aankom het hulle nie geweet dis hulle broer wat nou onderkoning van Egipte is nie – net mooi dieselfde Josef wat hulle nog laas as slaaf verkoop het nie! Maar nou is dit tyd vir die broers om terug te gaan huis toe, en vir hulle pa die kos te vat – en nog altyd weet hulle nie die Josef by wie hulle kom hulp soek het nie! Maar Josef weet, en hy sien nog nie kans om sy familie net te laat teruggaan nie. Veral nie voordat hy sy pa ook gesien het nie!

 

Daarom maak Josef ‘n slim plan. Hy laat steek sy kosbare goue drinkbeker weg in Benjamin se sak, en stuur toe sy polisiemanne om daarvoor te gaan soek. Hulle kan maar alles deursoek, sê die broers. Hulle het vir seker nie die onderkoning se goue beker gevat nie! En toe kom Josef se goue beker toe uit Bejamin se sak uit, en Bejamin is diep in die moeilikheid...

 

Nou wil ek hê jy moet net vir ‘n oomblik dink hoe Benjamin voel. Hy weet mos hy is onskuldig. Hy het niemand se goed gevat nie. Hy weet glad nie hoe kom die beker in sy sak nie! Maar die lyk of niemand hom wil glo nie, en die kanse lyk goed dat hy in die vreemde land in die tronk opgesluit gaan word, en dan sal sy broers maar sonder hom terug sal moet gaan huis toe... Die arme, arme Benjamin!

 

Dit gebeur nogal somtyds met ons ook, dat mense lelike goed met jou doen, wat jy nie verdien nie. Sulke tye is jy sommer lus om dadelik terug te baklei. Maar ons weet dit sou Benjamin niks gehelp het nie. Al wat hy kon doen, was om op die Here te vertrou en te glo dat as niemand hom kan help nie, sal die Here op sy tyd hom help. En dis toe presies wat gebeur het! Benjamin is toe nooit tronk toe nie. Die Here het gesorg dat alles toe goed uitgewerk het vir sy kinders – nie net vir Benjamin nie, maar vir die hele familie, en Jakob en sy seuns was weer almal bymekaar.

 

Ook jy kan maar vertrou op die Here. Moenie altyd dadelik wil baklei en terugslaan en lelik wees nie. Jy weet mos die Here sal sorg. Laat alles net aan Hom oor. Soos Benjamin. 

Volwassenes:

Paulus maak in Efesiërs 5 ‘n baie interessante onderskeiding. Jy kry twee soorte mense, sê hy. Jy kry verstandige mense en jy kry onverstandige mense. En nou gaan jy dalk dink hy bedoel diegene binne-in die kerk en diegene daarbuite. Maar jy sou verkeerd wees. Want jy kry hierdie onderskeiding selfs binne-in die kerk ook. Ongelukkig kry jy ook binne-in die kerk onverstandige mense. Wat beteken jy kan jou Bybel ken, gereeld eredienste bywoon, en nog altyd onverstandig wees. Jy kan jouself ‘n Christen noem, en nog steeds dwaas wees.

 

Daarom moet ek en jy ons ore spits as ons hier lees. Want die blote feit dat jy vanoggend een van die 50 is wat hier sit, of een van die getroues wat by die huis inskakel, maak nie dat jy noodwendig in die Here se oë een van die verstandiges gaan wees nie. Ons sal ‘n bietjie dieper moet kyk om dit vas te stel. En as ons begin soek, lyk my kry ons die antwoord in vers 15, die eerste woorde wat ons vanoggend gelees het: Wees uiters versigtig hoe jy lewe. Dít is die onderskeiding. ‘n Verstandige mens is een wat versigtig lewe, en ‘n dwaas is min gepla.

 

Maar nou, in alle liefde teenoor Paulus, klink dit darem regtig bietjie vaag. Ek meen, nie een van ons sou darem seker willens en wetens kies om dwaas te lewe nie, veral nie omdat ons tog baie goed weet dat ons in ‘n goddelose tyd lewe, soos hy tereg hier sê nie. Maar hoe weet jy, dat jy verstandig lewe? Of erger nog, hoe weet jy dat jy dalk eintlik onverstandig lewe, en dat die Here daarom van jou vra om dringend ‘n aanpassing te maak? Waaraan toets ‘n mens nou eintlik dit?

 

Dis eintlik doodeenvoudig sê Paulus. ‘n Verstandige probeer te wete kom wat God se wil vir sy lewe is. Hier staan dit baie duidelik in vers 17. ‘n Dwaas is min gepla oor wat God wil hê, hy gaan maar net aan soos hy van oomblik tot oomblik lus is. Hy karring net aan. Maar ‘n wyse mens vra wat God wil hê hy moet doen. En dit maak sin, as jy so daaroor dink. Want God weet tog eindeloos beter as ons. Dis inderdaad wys om sy wil te soek, en dit te doen.

 

  1. Gryp geleenthede aan:

Maar nou het ek verlede week vir julle belowe dat Paulus al meer prakties raak, soos sy brief aan die Efesiërs vorder. En tot dusver het dit dalk nog nie eintlik so geklink nie. Maar hoor nou hoe verduidelik hy verder: Elke dag sê hy, bestaan uit ‘n opeenvolging van geleenthede! Elke enkele situasie waarin jy kom, is ‘n geleentheid wat jy kan aangryp, of net onbenut by jou kan laat verbygaan. Ons hele lewe is eintlik niks anders as ‘n konstante opeenvolging van geleenthede, en hoe ons kies op op daardie stroom van geleenthede te reageer nie.

 

Wat dit beteken, is dat daar elke dag honderde goed met jou gebeur. Mense sê of doen goed om jou, dinge val in plek soos jy gehoop het of val heeltemal uitmekaar. Die weer is lekker of sleg, en die stem oof die radio vertel jou van goeie of slegte nuus. Jou vrou kyk jou skeef aan as jy van die werk af instap of groet jou vriendelik by die deur, en jou dag was een nagmerrie op ‘n ander of dit was eintlik heel aangenaam. En so kan ek aangaan.. Maar ek dink jy het teen hierdie tyd die idee.

 

Daar gebeur elke dag duisende goed met jou, en jy moet elkeen van hulle op die een of ander manier hanteer. En dis juis hoe jy op die ou end goed wat gebeur hanteer, wat bepaal wat jy daarvan maak, en wat dit op die ou end van jou en van jou dag maak. Jou reaksie op goed bepaal eintlik jou hele lewe.

 

Die dwaas, sê Paulus, is die een wat toelaat dat die geleentheid sy reaksie dikteer. Wat met hom gebeur, bepaal sy dag, sy lewe. As dinge skeefloop, slaan dit hom plat en voel hy verplig om dit op iemand uit te haal. En as dinge mooi loop, is hy in die sewende hemel. Die dwaas se hele lewe word bepaal deur goed wat met hom gebeur.

 

Maar nie die verstandige nie. Die verstandige laat die Gees toe, om sy reaksie op elke geleentheid te bepaal. Jy sien, daar is iets groters in sy lewe as die goed wat elke dag met hom gebeur. Daar is ‘n ander motief, die feit dat hy die hele tyd weet dat die God wat hom eindeloos lief het, in beheer is, laat hom heeltemal anders reageer. Sy lewe word nie gedikteer van buite homself nie, maar van binne, vanuit die Gees wat in hom woon en die vrede van God wat oor sy lewe heers.

 

En dít bepaal of jy verstandig of ondverstangdig in God se oë is: Wat bepaal jou reaksies?

 

  1. Die geheim is om God se wil te ken.

Maar nou is die eintlike hartseer-saak van hierdie gedeelte dat daar nie een enkele een van ons is, wat eerlik kan sê dat ons altyd verstandig reageer nie. Wat kan sê: Ek het die era van dwaasheid in my lewe agtergelaat. Ek laat my nie meer bepaal deur omstandighede nie, want ek soek in alles net die wil van God en doen dit. Dit mag dalk van jou waar wees, maar ek moet erken dis nog net somtyds van my waar. Dit immers hoekom Paulus ons hier aanmoedig, om tog baie versigtig te wees hoe jy lewe.

 

Die verdere waarheid is ongelukkig ook dat geeneen van ons van nature verstandig is nie. Dis nie iets wat jy vanself is nie - vanself is ons as mensdom meestal dwaas. En natuurlik pla dit nie eintlik die ongelowige nie. Dit kom vir hom natuurlik en so gaan hy maar aan. Maar tog nie jy nie. Jy is tog ‘n gelowige, en wat reg is so vir die ongelowige, kan tog nie vir jou werk nie. Ons kan tog nie tevrede wees so nie.

 

Jy moet ‘n bewuste besluit neem, sê Paulus. Jy moet kies om verstandig te lewe en God se wil te soek. Jy kan nie sommer maar net reageer op jou “gut feeling” soos die Engelse sê nie. Jy moet moeite doen om God se wil vas te stel.

 

Wat weer die vraag oproep: Waar pas jy in? As dit die sleutel is vir ‘n wyse lewe, waar pas jy dan in?

 

  1. Die Antwoord.

Eksegete is dit eens dat Paulus die eintlike antwoord tot laaste bêre. Net as ek en jy dalk al bietjie moedeloos begin voel, en begin wonder hoe ons dit ooit gaan regkry om as gelowiges uit te styg bo ons omstandighede, kom Paulus helder en duidelik met die antwoord, die oproep wat eintlik die sleutelvers van die gedeelte is: “Laat die Gees julle vervul”.

 

Dit bly maar interessant dat Paulus hierdie nuwe lewe onder leiding van die Gees van alle dinge met drankmisbruik vergelyk! Maar nou weet ons ook almal hoe lyk ‘n ou wat ‘n bietjie te veel in het. Hy is nie regtig meer in beheer van sy eie reaksies nie. Trouens, ons glimlag onderlings en sê vir mekaar: “Dis die soetwyn wat nou praat”. Hy weet nie eens nou meer regtig wat hy sê of doen nie. En dis presies wat gebeur wanneer die Gees jou lewe oorneem.

 

Jy is nie meer in beheer nie. Dis dan wat jou lewe nie meer bepaal word deur omstandighede, deur wat mense vir jou sê en hoe hulle maak nie. Dis dan wanneer lof en dankbaarheid oorneem, wat die ou mens se obsessie om homself te handhaaf begin verdwyn, en wat daar ‘n nuwe houding teenoor jou naaste groei. Dis dan wanneer jy ‘n dienaar word, soos jou Here ‘n Dienaar was.

 

Wees dan baie versigtig hoe julle lewe. Nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges...

AMEN